GOD OF EMPOWERING LOVE – A HISTORY AND RECONCEPTION OF THE THEODICY
CONUNDRUM
Deur David P Polk
Uitgegee deur Process Century Press, 2016
Christo de Klerk
Teodisee is die vraagstuk in die teologie wat nadink oor die vraag waarom onheil/lyding voorkom in ’n wêreld wat deur ’n liefdevolle God regeer word. Is God se almag en liefde versoenbaar? Of moet een voorrang kry bo die ander? In hierdie boek spreek Polk die vraagstuk uitdagend aan.
Die gedagtes wat in die boek wasdom bereik, het Polk 40 jaar gelede in ’n artikel gepubliseer. God of empowering love is die vrug van dekades se nadenke en navorsing oor die onderwerp. Volgens die uitgewer is die boek deel van ’n reeks oor die implikasies van Whitehead se prosesteologie. Indien jy, soos ek, ongemaklik is met Whitehead se teologie, is dit die boek vir jou. Jy sal uitgedaag word om nuut te dink.
Polk begin met die Ou en Nuwe Testament se getuienis en eindig die voorlaaste hoofstuk weer by die Bybel, veral hoe God deur Jesus Christus aan ons openbaar word. Tussenin neem hy jou op ’n reis deur die geskiedenis. Hy stel jou voor aan Augustinus en Calvyn, vrouemistici van die Middeleeue, bevrydingsteoloë en feministiese teoloë sowel as aan resente teoloë. Hy wys hoe die Griekse filosofie (Plato en Sokrates) die kerk se denke so beïnvloed het dat die Stoïsynse filosofie (gelate aanvaarding van lyding deur God en mens) uiteindelik oorheers het – eerder as die Bybel.
Volgens Polk is die vraag: “Hoe kan ’n magtige God liefdevol wees?” die verkeerde vraag. Eerder moet gevra word: “Op watter wyse is ’n liefdevolle God magtig?”. Dit is twee verskillende vrae. Mag en liefde is nie twee verskillende eienskappe van God nie. Alles wat oor God se mag gesê word, vloei voort uit die wesenlike liefdevolheid van God wat bemagtig.
Die boek het waarde vir elkeen wat nadink oor mense se (dinamiese) verhouding met God (die titel van die boek gee reeds die antwoord), missionale gemeente-wees, pastoraat en toekomsbeskouing.
Die boek lees soos ’n spanningsverhaal met ’n verrassende einde. Terwyl jy saam met die skrywer deur die eeue reis, wonder jy: Waarom het die kerk 2 000 jaar weggeskram van die Bybelse boodskap dat God se wese liefde is? Deur die openbaring van God as wesenlik liefde nie ernstig te neem nie, het die kerk haarself onberekenbare skade aangerig. Ongelukkig gebeur dit steeds.
▶ Ds Christo de Klerk bedryf die Na-Eden-retraitesentrum aan die suidkus van KwaZulu-Natal.
