READING REVELATION RESPONSIBLY, UNCIVIL WORSHIP AND WITNESS: FOLLOWING THE LAMB INTO NEW CREATION
Deur Michael Gorman
Cascade Books, 2011
Sommige boeke fokus jou lewe nuut. Reading Revelation responsibly, uncivil worship and witness: Following the Lamb into New Creation deur Michael Gorman is in my geval so ’n boek.
Openbaring is vir baie Christene ’n boek wat die eindtye voorspel. Ons weet daaruit hoe naby Jesus se tweede koms is. Ons kan uitwerk wanneer die wêreld eindig. Ander weet verseker wie vandag die Antichris is, en teken daarmee punte teen opponente aan.
Moenie die “wegraping” vergeet nie. Mense dink gelowiges gaan weggeraap word, waarna oordeel oor die agtergelate ongelowiges losbars. ’n Hele reeks Left Behind-boeke dramatiseer hierdie fiktiewe projeksies.
Gorman skryf die boek uit empatie met mense wat slagoffers is van ’n skeefgetrekte uitleg van Openbaring. Hy kommunikeer op die vlak van gewone gelowiges.
Die eerste helfte van die boek doen moeite om Openbaring se doel, inhoud, literatuursoort en boodskap te beskryf. Foutiewe, sensasionele uitleg word afgewys.
Openbaring handel nie oor die Antichris nie, maar oor die lewende Christus. Dit propageer nie wegraping uit die wêreld nie, maar getroue dissipelskap in die wêreld. Openbaring help ons om Christus beter te verstaan en te volg.
Die doel is om God se mense te versterk, veral in tye van krisis waar boosheid en verdrukking hoogty vier. Openbaring lei tot “uncivil worship and witness”, want Christene leef anders as die wêreld se maghebbers.
Openbaring teken Jesus pakkend as die Getroue Getuie, ondanks sy lyding en dood. Jesus is by sy volgelinge, die teenwoordige Here. Hy troos en daag ons uit. Hy is die Lam wat geslag is en nou as Lam saam met God regeer. Hy is soos die Vader ons toewyding, lofprysing en aanbidding waardig.
Jesus is ook die komende Here, wat God se bedoeling met die skepping vervul. Hy sal met die volk van God oor ’n nuwe hemel en aarde regeer. Vandaar die subtitel van die boek: Following the Lamb into New Creation.
Vir my is die tweede helfte van die boek die hoogtepunt. Hier blaai Gorman oorsigtelik deur Openbaring en vat die boodskap saam. Hy toon aan hoe grondig missionaal en eietyds-relevant Openbaring is.
God se pad met sy kerk en wêreld wys geweld af, maak nuut en eindig heerlik.
Dalk moet die laaste boek in die Bybel in ons eeu die eerste boek van ’n missionale kerk word.
▶ Ds Danie Mouton is ’n predikant van Port Elizabeth.
