Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
UITNODIGING TOT DEELNAME AAN ’N PROSES OM ’N VOLTYDSE LERAARSVAKATURE TE VUL
UNIVERSITAS-WES GEMEENSKAPSENTRUM
wat die Rooikerk- en Striata-bedieningspunte insluit
Sluitingsdatum: 3 Augustus 2018.
Indien jy oortuig is dat die Here deur die onderstaande inligting met jou praat, word jy genooi om met ons kontak te maak aangesien die gemeente vroeg in 2019 ’n vakature sal hê.
Die gemeente word gekenmerk deur ’n warm, gasvrye en informele bedieningstyl en waar die lidmate tans oor die hele Bloemfontein versprei is. Die kern van die bediening geskied deur een leraar, ’n pastorale hulp by die aftreeoord, Striata, en ’n aantal teologiese studente, tesame met ’n span toegeruste leiers. Die hart van die gemeente lê in omgeegroepe en die bemagtiging van leiers en lidmate om eienaarskap vir die dienswerk van die gemeente te aanvaar. Die leraars se missie is “om die gemeente vir die gemeente weg te gee”. Die kultuur van die gemeente word ook gekenmerk deur ’n bediening “deur” lidmate en nie ’n bediening “aan” lidmate nie. Die klem val nie eerstens op lidmate se “doing” nie, maar om alle mense se “being” te ontwikkel.
Die gemeente is ’n waardegedrewe, missionale gemeente binne ’n breëre Bloemfonteingemeenskap met die uitdagings waartoe ons GEROEP, versamel, gevorm EN GESTUUR word deur die Here …
1. … Om alle mense (insluitende leiers, lidmate, randfigure en ander) te ontwikkel en te bemagtig om hulle plek in die geloofgemeenskap en samelewing te kan inneem.
2. … Om jongmense (insluitende kleuters, peuters, laerskool- en hoërskoolleerders en studente in studentehuise en breër) sinvol te bedien op kreatiewe maniere. Die studentebediening vind plaas in vennootskap met die Studentegemeente by die Universiteit van die Vrystaat en ’n studenteleraar binne ’n groter studentegemeenskap.
3. … Om die omgewing in samewerking met ander rolspelers te ontwikkel om God se teenwoordigheid sigbaar te laat wees.
Ons lewe ooreenkomstig die volgende sewe waardes:
1. Ons skep veilige vertrouensruimtes vir mense ongeag taal, kultuur, kleur of geslag
2. Ons aanvaar alle mense as God se geskenke aan ons
3. Ons vra in alles geloofsonderskeidende Godsvrae
4. Ons oefen voortdurend ons geloofsgewoontes in
5. Ons het ’n luisterkultuur waarin ons luister na God, na mekaar en na die gemeenskap
6. Ons neem deel aan God se reisplan waarin ons soek om aan te sluit by dit waarmee God in sy missio Dei besig is.
7. Ons koester ’n koninkryksvisie wat groter is as ’n kerkvisie.
Indien die Gees deur bogenoemde aan jou raak, stuur vir ons jou volledige CV, drie verwysings met kontakbesonderhede en ’n begeleidingsbrief waarin jy jouself aan ons bekendstel tesame met jou roepingsfokus. Ons wil graag van jou hoor vóór 3 Augustus en ons sal graag wil sien dat jy op 1 Januarie 2019 diens sal aanvaar sodat jy en die huidige leraar saam in ’n oorgeeproses kan wees gedurende Januarie 2019. Die vergoedingspakket en huisvesting (pastorie, huissubsidie, ens.) en ’n posbeskrywing sal onderhandel word met inagneming van die sinodale riglyne.
Vir meer inligting, kan jy met die volgende persone gesels:
a. Marius Louw – Studenteleraar en konsulent: 081 219 3693
b. Danie Strauss – Voorsitter Taakspan: Voortgesette Leraarsbediening: 082 553 5971
c. Gerda Liebenberg – Voorsitter van Luisterspan en lid van Taakspan: Voortgesette Leraarsbediening: 071 411 5694
d. Steyn of Gerty van Aswegen – lede van Taakspan: Voortgesette Leraarsbediening asook van Lidmaat- en Leiersontwikkeling: 082 566 5938 of 083 609 8007
Jy kan ook nog verdere inligting kry deur te lees op die webwerf: www.rooikerk.co.za
Stuur asb jou beskikbaarstelling vir die proses aan: vakature@nguniversitaswes.org.za
Ons behou ons natuurlik die reg voor om nie noodwendig ’n beroep uit te bring vanuit hierdie bekendstelling nie.
