Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die probleem is Bybelinterpretasie

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johan Beyer van Macklin, Saskatchewan, Kanada, skryf:

Ek woon tans in die buiteland, maar is steeds ’n lidmaat van die NG Kerk. As gay persoon wat teologie aan die Universiteit van Pretoria studeer het en legitimasie geweier is, het ek die onlangse gaydebat met aandag en groot belangstelling gevolg. Nodeloos om te sê het ek die kerk se optrede baie negatief ervaar, veral nadat ek die verklaring van die Moderatuur gelees het.

Daar is egter ’n veel belangriker saak wat weereens onder die kerkleierskap en sekere gemeentes se aandag gebring moet word, en dit handel oor konsekwente Bybelinterpretasie. ’n Letterlike lees van die Skrif is steeds ’n groot probleem in kerk­geledere. Antieke en huidige kontekste word bloot geïgnoreer, en daar word gereeld op geïsoleerde verse gefokus.

In dié verband wil ek graag drie voorbeelde onder die vergrootglas plaas.

In Levitikus 18:22 en 20:13 word seks tussen mans verbied, maar in hoofstuk 19, word die dra van klere wat uit verskillende materiale gemaak is eweneens verbied. Deuteronomium 22:5 stel dit duidelik dat vroue nie toegelaat mag word om mans­klere te dra nie. Die Hebreeuse woord vir “gruwel” (to’evah) word hier en in die eersgenoemde Levitikus-tekste gebruik. Eksodus 20:14 plaas ’n verbod op egbreuk, en wanneer Jesus oor die huwelik praat, stel Hy dit duidelik dat iemand wat skei en hertrou, of met ’n geskeide mens trou, egbreuk pleeg (Luk 16:18). Tog bevestig die kerk geskeide mense op ’n gereelde basis in die huwelik.

Die woord “homoseksualiteit” het eers teen die einde van die negentiende eeu tot stand gekom, maar word in die nuwe vertaling (1983) gebruik om antieke self­de­geslag-praktyke te beskryf. Die normatiwiteit van heteroseksualiteit is ook nie altyd in ’n positiewe lig geëvalueer nie. In 1901 is heteroseksualiteit in Dorland’s Medical Dictionary gedefinieer as ’n “abnormal or perverted appetite toward the opposite sex”. Die Merriam Webster’s Dictionary het heteroseksualiteit eweneens beskryf as ’n “morbid sexual passion for one of the opposite sex” (1923).

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top