Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Louis Blignaut van Durbanville skryf:
Ek is nie verbaas oor julle verklaring (NG teoloë reageer, e-Kerkbode, 28 September) nie. Julle was immers van die begin aan die “Neo–Calvinistiese” kant. Nie eers nou toe julle “’n punt bereik” het nie. Voor die 2015-gesprekke het julle verklarings al orals uitgekom. Julle het lankal al standpunt ingeneem. Reeds op 20 Mei 2015 word by US ’n dinkskrum gehou saam met die LGBTIQ-gemeentskap –“kreatiewe gesprek oor interseksie van gender, seksualiteit, gesondheid en teologie”. In julle brief brei julle die beskrywing uit na LGBTIQ+. Dis algemeen bekend dat die hoofstroom van die LGBTQ+-beweging geen ooghare het vir die Christelike geloof nie.
Julle is reeds besig om te verseker dat die volgende generasie teoloë sal dink soos julle. Oral op sosiale media sien ons dit. Duidelike indoktrinasie erger as die “apartheid NG teoloë”. Miskien is julle net so in pas met die kultuur van ons tyd as die “apartheidsteoloë” wat julle beskuldig!
Die “Seisoen van Menswaardigheid” word deur julle en ander eendersdenkendes aangetas deur deurlopend te beweer dat almal wat sê enige seksuele daad buite ’n huwelik tussen ’n man en ’n vrou is sonde, is liefdeloos. In die pastoraat van mense met selfdegeslag-aangetrokkenheid word met groot deernis omgegaan met hierdie mense. Ons praat nie “skreinend en geweldig” met hierdie mense nie. Ons het hulle lief!
Die kerklike “gesprekruimtes” is die afgelope paar jaar minder gerespekteer deur die “neo-Calvinistiese” as die “evangeliese stroom”. Hulle aktivistiese styl het ons gebring by die hofsaak. Na die afloop van die 2015-besluit het die Wes-Kaapse Sinode byvoorbeeld ’n span deur die sinode laat toer om die besluit te verduidelik. Na die 2016-besluit was hulle stil!
Julle verwys na geregtelike ondersoeke. Hoeveel dominees en kerkrade respekteer die 2016-besluit? Miskien moet julle daar begin.
