Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Bernhard Ficker van Somerset-Wes skryf:
Die sistematiese teoloog dr Nadia Marais skryf (Kerkbode 7 September, “Jesus diskrimineer nié”) dat dit nie net nonsens is vir die NG Kerk om “billikke” diskriminasie toe te pas nie (soos selibaatskap aan gay persone), maar ook gevaarlik.
Soos Kerkbode ook op die vorige bladsy berig, ondersteun baie van die teologiese studente van Stellenbosch hierdie siening soos bevestig met die stigting van die nuwe drukgroep #whydisriminate.
Die bewering dat Jesus nie diskrimineer nie, het vraagtekens laat ontstaan en het my na die Bybel gedryf om te kyk wat dit sê. In Matteus 5:20 sê Christus: “As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit die koninkryk van die hemel ingaan nie.” Hier diskrimineer Jesus direk teen wetsongehoorsames.
In Matteus 7:13 diskrimineer Hy teen diegene wat die breë poorte bewandel. In verse 21-24 stel Jesus dit baie duidelik waar Hy sê: “Nie elkeen wat vir my sê ‘Here Here’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal in daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam wonders gedoen nie?’ Dan sal ek openlik vir hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van my af, julle wat die wet van God oortree het.’”
Christus kan sy diskriminasie taamlik kras stel, soos waar Hy in Matteus 5:19 sê: “Dit help niks om My te probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie.”
Christus het verder die grootste diskriminerende aksie van alle tye propageer, naamlik die komende oordeelsdag wanneer die bokke van die skape geskei word en die onbekeerde sondaars en wetsoortreders se uiteinde die hel is. Maar deesdae word die beginsel van universalisme al hoe meer gepropageer, waarvolgens daar geen diskriminasie is nie en almal uiteindelik gered sal word. Is dit was dr Marais eintlik bevorder?
In hierdie opsig kan verwys word na die onlangse boek deur Michael McClymond, professor in moderne Christelikheid by St Louis Universiteit, VSA, getiteld The Devil’s Redemption: A New History and Interpretation of Christian Universalism (Baker Academic, 2018). Hierdie boek gee ʼn oorsig van die Universalisme Beweging en wat die Bybel nou eintlik daaroor te sê het en hoedat so ʼn pastorale siening heeltemal vernietigend vir die Christelike kerk kan wees.
Paulus trek die lyne van die diskriminasie nog sterker waar hy in 1 Korintiërs 6:9-10 skryf: “Moenie jullself mislei nie: geen onsedelikes of afgodedienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadsprekers of bedrieëers sal deel kry aan die koninkryk van God nie.” Vind daar nou miskien misleiding plaas deur te sê Christus diskrimineer nie?
Marais konstateer dat “genade beteken geen diskriminasie”. As ek die Bybel lees, dan klink dit eerder vir my dat genade beteken jy is vergewe omdat jy die wet oortree het, gaan dan heen en sondig nie meer nie, of anders gaan daar teen jou gediskrimineer word.
