Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Vakature: Medeleraar (Voltydse onbepaalde termynpos)
Sluitingsdatum: 14 Desember 2018.
Die kerkraad wag in biddende afhanklikheid van die Here aansoeke in vir die pos van bedienaar van die Woord.
GEMEENTEPROFIEL:
Prieska is ’n gemeente in die Noord-Kaap wat gemaklik is met vernuwing en gedurig geleenthede skep waarbinne ons vra na waarmee die Here besig is in en deur ons. Ons het ’n sterk missionale gerigtheid en leef dit plaaslik ekumenies uit, veral deur barmhartigheid. Ons is ook buite ons gemeentegrense aktief in die wêreld betrokke. Die gemeente bestaan uit drie eredienspunte, waarvan twee, nl Marydale (75 km) en Niekerkshoop (55 km), vanaf Prieska geleë is. Die gemeentegrense beslaan ’n radius van ongeveer 100 km. Nagenoeg die helfte van die gemeente bestaan uit plaaswyke. Prieska beskik oor hoër- en laerskole en ouetehuise. Die gemeente se bediening word deur drie leraars gefasiliteer.
KANDIDAAT:
Ons bid en vertrou dat die Here ’n gelegitimeerde leraar vir sy kerk op Prieska sal stuur, wat passievol en soekend sal meewerk aan dit waarmee God in en deur ons besig is. Artikel 9 van die Kerkorde word beskou as vertrekpunt vir die dienskontrak. Verhoudings en persoonlike kontak is vir ons gemeente baie belangrik.
Ons tema vir 2019 is: “Een liggaam – Ek is deel daarvan. Ek is nodig. Ek is misbaar”.
VERGOEDING:
Die vergoedingspakket is onderhandelbaar met die sinodale skaal en ander voordele en riglyne as basis. Die gemeente beskik nie meer oor pastorië nie, daarom word ’n behuisingstoelaag voorsien (standplaas: Prieska).
AANSOEKE:
• Alle aansoeke moet vergesel word van ’n volledige CV, sowel as die name van minstens drie referente met kontakbesonderhede.
• Aansoeke moet ook asseblief ’n opname (video of oudio) van ’n preek, gelewer tydens ’n erediens, insluit.
• SLUITINGSDATUM vir aansoeke: 14 Desember 2018.
• Kandidate moet beskikbaar wees vir ’n onderhoud.
STUUR AANSOEKE AAN:
(Aansoek moet die kerkkantoor nie later as 14 Desember 2018, om 14:00 bereik.)
Die Skriba: NG gemeente Prieska, Me Maryna Wiid Posbus 33, Prieska 8940
Tel: 053 353 1261. E-pos: ngkprieska@telkomsa.net
Die kerkraad behou die reg voor om nie net uit die aansoeke te beroep of enigsins ’n aanstelling te maak nie.
