Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Genade sonder ’n ‘maar …’

WHAT’S SO AMAZING ABOUT GRACE?
Deur Philip Yancey
Zondervan, 1997
Resensie deur Arnau van Wyngaard


Ons is Gereformeerd. Ons onderskryf Luther se solas – ook sy Sola Gratia. En toe kom Johan Cilliers in 1996 met sy boek Die uitwis­sing van God op die kansel en hy vertel vir ons hoe rigied (Rooms) ons nog steeds in ons prediking is. Ons verkondig redding uit genade, maar ons preek dikwels redding deur werke. Ons sê: “God het jou lief net soos jy is, maar …” of “God se genade is wel gratis, maar …” ’n Tyd gelede maak ek teenoor my vrou die opmerking dat sommige leraars onverdiende genade verkondig, solank ons net “goed genoeg” lewe dat ons die genade kan verdien.

Die bekende skrywer, Philip Yancey, het my gehelp om God se genade beter te begryp. Ek hou van Yancey, omdat hy nooit met eenvoudige, klinkklaar oplossings vorendag kom nie. Inteendeel, wanneer hy skryf, kry ek die indruk dat hy saam met die Here geworstel het om antwoorde te vind.

In sy boek What’s so amazing about grace? probeer hy om die leser ’n beter begrip vir God se ge­na­de te laat kry. Iewers in die boek maak Yancey dan die opmerking: “There is nothing we can do to make God love us more. There is nothing we can do to make God love us less.”

En toe ek daardie woorde lees, het daar vir my ’n lig aangegaan. God se genade is radikaal. En ons, die kerk van Jesus Christus, het die voorreg om hierdie radikale boodskap aan ’n mensdom te verkondig wat smag na genade. Van die preekstoel af, maar ook in ons alledaag­se lewe, moet mense God se radikale genade ervaar.

As ek ’n top-tien-lys moes saamstel van boeke wat ek graag sou wou hê elke leraar moet lees, dan sal Phi­lip Yancey se What’s so amazing about grace? baie hoog op die lys verskyn.

▶ Dr Arnau van Wyngaard is leraar van die Reformed Church in Swaziland.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top