Die doop is nie kinderspeletjies nie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die NG Kerk is weer in die nuus – hierdie keer oor ’n dominee wat “afgedank” is omdat hy nie met die “doopleer” van die kerk saamstem nie. Reaksie op hierdie gebeure was soos te wagte uiteenlopend! Ongelukkig getuig baie van die kommentaar van grootskaalse onkunde oor die NG Kerk se verbondsteologie en die manier waarop dit in die kerk se reëlings oor die doop neerslag vind.

Terwyl ander kerke anders oor die doop mag oordeel beskou die NG Kerk as gereformeerde kerk die doop nie bloot as ’n ritueel wat op ’n lukraak wyse deur enige iemand bedien kan word nie. Dit is ’n sakrament wat saam met die nagmaal deel vorm van die genademiddele wat deur die kerk bedien word. Binne die gereformeerde tradisie word ’n persoon slegs een keer en deur ’n predikant gedoop – of as baba of by bely­de­nis van geloof. Die kerk se verbintenis aan hierdie leer het niks met liefdeloosheid of ’n drakoniese verknogtheid aan reëls of dogma te doen nie. Die integriteit van die kerk as gereformeerde kerk kom egter deur die bediening van die doop op die spel. Wat die kerk glo moet die kerk leef!

Deur die jare het veranderende omstandighede si­no­des uitgedaag om verskillende besluite oor die doop te neem. Die bediening van die doop aan kinders in pleegsorg (1994), die doop van kinderhuiskinders (2002) en die doop van kinders uit die buiteland (2002) is van die belangrike besluite wat geneem is. Die Algemene Sinode het selfs ook besluit dat doopgetuies gebruik kan word wanneer doopouers nie ge­regtig is om op die doopvrae te antwoord nie.

Tydens die Algemene Sinode van 2011 is belang­rike besluite oor doopherdenking of doopherinnering geneem. Die besluit het dit duidelik gestel dat doopviering nie as ’n weerdoop geïnterpreteer mag word nie. Die sinode van 2013 het gemeentes aan­gemoedig om lidmate gereeld kans te gee om hulle doop op sinvolle wyse op verskillende maniere te herdenk. ’n Gravamen (beswaarskrif) waarin versoek is dat weerdoop toegelaat moet word het in 2015 voor die Algemene Sinode gedien. Dit is van die hand ge­wys en die sinode het besluit om die moontlikheid van ’n sogenaamde belydenisdoop wat in praktyk nie anders as ’n herdoop verstaan kan word nie, nie verder te oorweeg nie.

Alhoewel die NG Kerk in die verlede – soos ook nou – dikwels in die spervuur beland het oor die doop, is die verbondsdoop wat gebou is op die verbonds­teologie van die kerk onlosmaaklik deel van die gereformeerde erfenis van die NG Kerk. Daarom is die doop nie kinderspeletjies nie.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

LEES OOK: Só glo kerk oor die doop.