Die verkiesing is uiteindelik verby. Mnr Ramaphosa het sy mandaat gekry om sy hervormings deur te voer. Na al die kritiek op die vorige ANC-regering is dit geen geringe prestasie nie en moet ons hom gelukwens. Suid-Afrika moet nou terugkeer na normaal. Hopelik kan al die proteste, stofopskoppery, dreigemente en politieke maneuvers nou einde kry. Hopelik kan ons nou beter regering begin sien, sonder korrupsie, magsmisbruik en swak dienslewering. Hopelik kan die polariserende verdagmakery in aanloop tot die verkiesing nou plek maak vir ’n gees van versoening en respek vir mekaar. Hopelik kan die reg sy gang gaan en skelm mense aan die pen laat ry. Liewe aarde, ons het nou ’n slag orde en vooruitgang nodig! Ons Grondwet is immers steeds goed. Die meerderheid inwoners is ook steeds goeie mense. Dit lyk egter of ons almal nou intensioneel sal moet begin werk aan ’n nuwe identitiet. Identiteitspolitiek is immers op almal se lippe.
Na die val van die Berlynse muur en die einde van die Koue Oorlog het prof Francis Fukuyama in sy boek, The end of history and the last man, voorspel dat die hele wêreld gedemokratiseer gaan word en totaal sal oorneig na bedelings waarin die regte en vryhede van individue voorrang geniet. In daardie tyd hét die aantal demokratiese lande toe inderdaad vermeerder van ongeveer 35 na ver oor die honderd. Die beste voorbeeld hiervan was SA self. Ons Grondwet skep ’n klassieke liberale demokrasie waarin die regte en vryhede van mense ongelooflike waarde het. In sy nuwe boek oor identiteitspolitiek, Identity – Contemporary identity politics and the struggle for recognition, sê prof Fukuyama egter daar het oor die laaste jare ’n besliste wending gekom, met ’n nuwe fokus op identiteit. Hy sê huidige identiteitspolitiek het onder meer te make met die strewe na gelyke erkenning van groepe wat deur hulle gemeenskappe na die kantlyn geskuif is. Die Britte het gevoel dat hulle hulle identiteit binne die Europese Unie verloor het. Donald Trump het die Amerikaners oortuig dat hulle almal help, behalwe hulleself. Hulle gaan ’n slag na hulleself kyk. Ons sien dit in land na land – hoe etniese minderheidspartye skielik nuwe steun kry. Ons sien dit in die wyse waarop mense in die Weste wat oorspronklik uit Moslemlande afkomstig was, hulle wend tot die identiteit van Islam, nie soseer oor die geloof in Allah nie, maar oor die tuiste van sekerheid wat dit bied.
Die liberale wêreld met al sy regte en vryhede voel na alles vir mense net te onveilig. Hulle moet self net te veel keuses maak. Hulle het net te veel opsies. Daar’s net te min grense. Hulle raak net te onseker. Hulle moet net te veel dink, te veel perspektiewe weeg, te veel slotsomme maak. As hulle aan ’n sterk identiteitsgewende groep behoort, kan hulle die breë besluitneming van die groep volg en vrede vind in die baie ander wat net soos hulle is.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2019/05/nelis1.jpg” caption=”Ds Nelis Janse van Rensburg” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Persoonlik dink ek Google en die nuwe mediawêreld het baie daarmee te doen. Die impak van goed wat elders in die wêreld gebeur – buite my dorp of stad en buite my eie kultuurgroep en buite my eie kerk, het mettertyd al groter geword. Ons is almal elke dag daaraan blootgestel in ons huis – aan ander tale en waardes en oortuigings en maniere van doen en glo. Die veeltal van invloede en vryhede het oorweldigend geraak – mense soek weer na eie identiteit. In vele opsigte is dit natuurlik gevaarlik – want die beweging van eie identiteit na meerderwaardigheid en magspolitiek was nog altyd in die geskiedenis ’n kort tree.
Dit is Paastyd. In die verhaal van die Emmausgangers praat Jesus met die manne oor die gebeure van die naweek. Dit is toe Hy hulle laat ontdek dat hulle steeds deel is van God se groot verhaal, van Moses af met die mensdom, en toe hulle snap dat lyding op heerlikheid kan uitloop, toe hulle iets daarvan hulle eie maak – toe klop hulle hart warm.
Die vraag is of die kerk op ’n ander manier as magsvertoon en afsondering van ander ’n identiteit kan hê wat mense se hart laat warm klop … omdat ons besef dat ons deel is van God se groot verhaal en dat lyding gevolg kan word deur heerlikheid. Dalk is ons hart koud omdat ons God se groot storielyn verloor het en nie meer kan sien hoe ons klein stories daar inpas nie? Dalk het ons vergeet op die pad na heerlikheid is daar pyn en ontwrigting en dat pyn en ontwrigting nie die einde van die pad beteken nie, maar juis die toekoms oopbreek. Het ons ’n alternatiewe identiteit vir magsvertoon, geweld en manipulasie? Glo ons regtig dat ’n identiteit van nederigheid en diensbaarheid ons hart weer kan laat warm klop? Is dit nie die bydrae van die kerk tot ons land dat dit ’n tuiste kan word vir vredeliewende, dienende mense wat oop is vir almal, genoeg genade het vir ryk en arm, sterk en swak, swart en wit nie? Is dit nie waarvoor ons moet lewe en sterwe nie, dat ons binne die groot verhaal van die opstanding energie vind en nie in getalle, kragdadigheid, afskeiding, hoogmoed en meerderwaardigheid nie?
Is dit nie wat ons moet aanbied as Suid-Afrika nou vra na ’n nuwe identiteit wat sal rus en vrede gee nie.
▶ Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.