“Een liggaam en een Gees”: Maak dit saak?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die moontlikheid dat die grootste gemeente van die NGK uit die verband wil tree het tonge behoorlik los. Dit is ook goed en reg so, want die eenheid van die NGK is op die spel. Dat hierdie eenheid nog altyd vir die NGK baie belangrik was, maar ook baie broos is, blyk duidelik uit die ge­skie­denis.

Die NG Kerk is in 1862 deur die bekende Loedolff-saak verskeur. Ou­derling HH Loedolff het tydens die sitting van die sinode in 1862 beswaar gemaak teen die afgevaardigdes van gemeentes buite die grense van die Kaap­kolonie. Loe­dolff was ’n bekende ondersteuner van die liberale rigting terwyl die afgevaardigdes van buite die grense bekend was vir hulle regsinnigheid. Op 26 November 1862 het die Kaap­se Hooggeregshof ten gunste van die klaers beslis en moes die afgevaardigdes van buite die Kaapkolonie die vergadering verlaat. Daarmee is die een­heid in die NGK verbreek.

Dit sou ’n honderd jaar neem voordat hierdie eenheid in 1962 herstel is. Op 14 Oktober 1962 het die eerste Algemene Sinode van die NGK in die Groote Kerk in Kaapstad vergader. Die verskeurdheid wat in 1862 ontstaan het, het so tot ’n einde gekom. Dat hierdie ’n lang gekoesterde ideaal was wat gestalte gekry het, word bevestig deur die leuse van die Algemene Sinode soos wat dit op die kerkseël verskyn: “Een liggaam en een Gees” (1 Kor 12:13).

Die feit dat dit ’n 100 jaar geneem het om die eenheid te herstel wys hoe be­langrik dit vir die NGK was. Dit het volharding en visie gevra om die strewe na eenheid op kerkvergadering na kerkvergadering lewendig te hou. Hierdie taak is natuurlik deur Afrikanernasionalis­me wat tydens die vorige eeu ’n sterk motiverende krag was, aangehelp. Aan die ander kant getuig die lang en moeisame proses ook van die broosheid van die eenheid. Die broosheid is en word gevoed deur die groot teologiese diversiteit in die NGK. Beskuldigings van liberalisme en fundamentalisme wat in die huidige debat heen en weer geslin­ger word is niks nuut nie. Die “ons” en “hulle” wat in gesprekke en nuusberigte opduik is nie vreemd nie. Dit dui nie alleen op die vreemde teologiese mengsel waaruit die NGK bestaan nie, maar ook op standpunte wat die eenheid van die NGK in die afwesigheid van Afrikanernasionalisme in sy wese bedreig.

Maak hierdie eenheid regtig nog in die NGK saak? Dit is die groot vraag. Is die strewe na een liggaam en een Gees nog sterk genoeg om fundamentele verskille te oorbrug? ’n Honderd jaar se moeisame strewe na brose teologiese eenheid beantwoord die vraag. Ons mag mekaar nie sonder meer los nie!

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.