Waarheen met dié kinders?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Anet Hoof van Vereeniging skryf:

Ek is tans die supervisor by NG Welsyn in Vereeniging. Vrydagmiddag, 5 Julie 2019 het die kinderhof ons geskakel. Daar was ’n 16 jarige seun van Mosambiek sonder dokumente. Sy twee ouer broers is in die selle en word aangekla as onwettige immigrante en sal dan teruggestuur word na Mosambiek. By nadere ondersoek en traumatiese gesprekke met die twee broers in die selle, is bevind dat hulle ouers oorlede is in die ramp wat Mosambiek getref het. Hulle oom het hulle na Suid-Afrika toe gebring en toe verdwyn.

Hierdie storie het my hart geraak, want nou word daar van ons as Maatskaplike Werkers verwag om hierdie jong seun by ’n shelter of kinderhuis te plaas terwyl hy niemand het nie. Sy twee broers word teruggestuur na ’n land wat niks vir hulle inhou nie. Alles is weg – waarheen moet hulle gaan?

Gelukkig kon ons ’n vriend van die familie opspoor wat Suid-Afrikaanse burgerskap het wat bereid was om die kind te neem. Die vreugde op die kind se gesig toe hy hierdie oom sien was oorweldigend en het my in trane gehad. Ons sien dikwels die harde kant van die lewe, en ons is bewus van die ramp in Mosambiek, maar die invloed op die mense se lewens is onbeskryflik.

Die artikel oor Mosambiek na twee maande was baie interessant, maar het iemand ooit gekyk na die mense wat die land verlaat het …. wat niks het om na toe terug te keer nie? As welsynsorganisasie werk ons dikwels met kinders wat mishandel is of seksueel misbruik word, maar hierdie saak het my oë laat oopgaan vir ’n wêreld daar buite wat ons nie elke dag sien nie. Ons probeer so hard om gesinne heel te maak, maar in hierdie geval is dit nie meer moontlik nie.

Dankie aan die oom wat net in ’n shack bly en nie eers geld het om die taxi te betaal terug Evaton toe nie, wat bereid was om ’n plan te maak om hierdie kind te huisves. Dankie aan die tolk wat my so vriendelik gehelp het om met hierdie gebroke mense te kommunikeer. En so het ons Hemelse Vader gesorg dat ons ten minste vir die seun ’n huis kon kry. Leef elke dag voluit.