Hoe moet predikante se salarisse werk?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Cobus van Wyngaard van Sunnyside, Pretoria, skryf:

Ek was ’n finale jaar student toe ek die eerste keer afgevaardig word na ’n sinodesitting. Ek het maar net geluister. Die sinode moes onder andere ’n voorstel dat die salariskas gesentraliseer word oorweeg. Ek onthou van die argumente, hoe duidelik dit vir my was wat die regte pad sou wees, en my eie skok toe die sinode uiteindelik daarteen besluit.

Wat moet ons daarmee maak as twee gemeentes etlike kilometers van mekaar af bestaan, en die een ’n besluit kan neem om hulle predikante substansieel bo skaal te betaal, terwyl ’n ander hul predikant ver onder die skaal betaal? Wat sê dit oor ons kerkbegrip? Ons kan hoeveel mooi dokumente skryf oor die kerk, maar as iemand sou wou vra hoe ons in die NG Kerk oor “kerk” of “verband” dink, is dit werklik die dokumente wat die hardste praat? Of is dit die wyse waarop ons ons bronne met mekaar deel? Die wyse waarop ons bedieningsuitdagings saam in die oë kyk?

Hoe klink ons publieke stem in ’n wêreld van ekonomiese uitsluiting wanneer die inkomstevlakke van gemeentelede bepaal hoeveel tyd die plaaslike dominee tot haar of sy beskikking sal hê om voor te berei vir Sondag se preek, of selfs óf daar iemand sal wees om mense pastoraal te versorg? En dan het ons nog nie geraak aan die komplekse vraag of predikante in lae sosio-ekonomiese omgewings nie in werklikheid meer komplekse en drukkende werksomgewings het nie.

Natuurlik moet ons kerk wees in ryker omgewings ook. Maar as die konkrete realiteit van hoe poste en salarisse werk konstant kommunikeer dat die kerk se teenwoordigheid van groter belang is waar daar meer geld beskikbaar is, dan moet ons lank stilstaan by die vraag wat dit beteken om kerk te wees, of om ’n kerkverband te wees.


Moet die kerk herbesin oor predikante se salarisse soos 'n leser in 'n brief argumenteer?

Kyk na die uitslag

28 thoughts on “Hoe moet predikante se salarisse werk?

  1. Gerhard Bothma says:

    Sal dié keer eerder by die draadloos luister.
    Dié dat ek nou vier jaar en 11 maande sonder traktement/salaris ens sit het my onhoorbaar laat raak.
    Darem het ek vir verlede Sondag se erediens wat ek gelei het R 400 gekry.

  2. Rudolph Botha says:

    Ek sal graag wil hoor wat die uiteinde van hierdie gesprekvoering is, indien daar wel ń gesprek gevoer gaan word. ń Vraag soos hierdie sal te veel persone in ń ongemaklike posisie laat, aangesien dit die werking van die institusie en verband sal uitdaag. Ongelukkig is dit ook so dat dié wat bepaal of ons in so gesprek gaan betrokke raak al dan nie, self in gemaklike stoele sit en nie die hok te veel wil skud nie. Iets in die lyn van “Animal Farm” weerklink skielik in my ore.

  3. Bianca says:

    👏👏👏👏👏👏👏👏👏👏👏👏👏👏

  4. Erik Brits says:

    Dit is baie noodsaaklik dat die kerk oor sy hele kerkbegrip moet nadink en die aanwending van personeel waar dit nodig is dienooreenkomstig die kerk se missionale beleid. Daarmee saam die vergoedingsstelsel. Die NGK Sabie was in vermoë om van dié sestiger jare 2 leraarsposte met patorië te dra met die een leraar met opdrag “Sending”. In die negentigs het dít moeilik geraak maar die werk is mét een leraar voortgesit. Die bedieningsgebied het groter geword en tans word gemeentes binne ‘n radius van 120km bedien. Dit word nou beëindig met my aftrede in Okt. omdat die demografie so verander het dat die Sabie gemeente nie meer voltyds kan beroep nie. Hierdie gemeentes onderhandel nou met VGK wat reeds bestaan uit bv. ringe van 8 gemeentes en net 2 predikante. Húlle is dus grootliks op hulle self aangewese. Efes. 4 sê predikante is deel van die gawes om lidmate toe te rus. Soos lidmate toenemend toegerus word moet hul predikante kan stuur na gebiede waar die toerusting nodig is. Slegs ‘n sentrale vergoedingstelsel met gelyke vergoeding sal predikante motiveer om in sulke gebiede soos waarby Sabie betrokke was te gaan aarbei. Die kerk kan op hierdie manier ‘n reuse verskil maak om deur die bediening van die evangelie die mense van ons land saam te snoer.

  5. Sarel Strydom says:

    Dit is altyd vir jy vreemd goe mense kla dat sommige Predikante tecverl betaal word. Elke mense I elke beroep het die reg op vergoeding vir sy taak. Maar daarby bevoeg behoort daar ‘n glyskaal te wees waarop alle Prefikante vergoed kan word. Dit laat weer die vraag ontstaan wat indien did gemeente die vergoeding nie kan bekostig nie. Ek weet van Predikante wat onder die broodlyn vergoed word en nogtans sy taak uitvoer. Dit is wat ek ‘n HERDER norm.

  6. Hennie de Vos says:

    Die kerk, wat een van die instansies is wat diskriminasie moet teenstaan, is ook die instansie wat al vir jare teen predikante diskrimineer in terme van salarisse

  7. Ruan says:

    Gee liewers vir predikant NIKS geld nie, nou studeer jy 7 jaar om arm gemeentelede se geld te vat vir pension fonds dit is mos ook nie reg nie? Of wat deesdae predikante begin non-profits om nog geld te kry. Doen soos wat Paulus gedoen het kry ‘n regte werk en werk op Sondae by die kerk.

  8. J J Vogel says:

    Net ‘n paar sake om van kennis te neem in die gesprek:
    Indien alle leraars uit ‘n sentrale fonds vergoed word, beteken dit dat die AS (die kerk) die werkgewer van die leraar word en dus sal kan besluit waar en hoelank ‘n leraar in ‘n sekere gemeente kan werk. Hulle dus ontplooi kan word na waar hulle die beste diens kan lewer.
    Wie gaan die “pot van die fonds” aanvul? Gemeentes maak beswaar teen sinodale “aanslae” en sommige weier self om hulle verantwoordelikhede teenoor die sinode na te kom.
    Die hele beroepstelsel sal aangepas moet word, waant die “werkgewer = die een wat die salaris betaal” verander.
    As die leraar ongelukkig is oor sy buurman wat ‘n groter salaris as hy verdien – wat verhoed die kerkraad van daardie gemeente om hom ‘n groter salaris te betaal?
    Wees eerder dankbaar dat jy elke maand ‘n salaris en baie byvoordele ontvang – baie van die lidmate in die gemeente het “geen” inkomste nie.
    My standpunt: ‘n gemeente beroep ‘n leraar, maak hom ‘n aanbod wat betref salaris en byvoordele. Jy aanvaar dit of wag dat ‘n “ryk” gemeente jou beroep.
    Sentralisasie, waar die AS alles beheer is ‘n onding!

  9. Theuns Beer says:

    Dit is nodig dat die kerk herbesin as werkgewer in geheel waarvan salarisse maar net een deel is. Dit is nie net predikante wat vir die kerk werk nie maar in die Sinode is dit die fokus. Die jaarlikse skrywe oor salaris pakkette beslaan soms tot 4 bladsye waarvan Amptenare slegs 1 kort paragraaf uitmaak. Ongelukkig is ons deel van ‘n wereld waar regverdigheid maar skaars is. Mens kan dink/aanneem dat die kerk tog ten opsigte van verhoudinge die beste voorbeeld sal wees omdat ons die beste Handleiding het. Tog is die teendeel so ooglopend soms.
    Om te “sentraliseer” hou sekerlik voordele in maar verseker ook nadele en staan waarskynlik direk teenoor die huidge stelsel se voor- en nadele. Dit is uiters noodsaaklik egter dat hierdie gesprek gevoer moet word!

  10. Theunis de Bruin says:

    Daar word nie rekening gehou met die diversiteit in gemeentes nie. Hoe maak jy as jy in ‘n arm gemeente is ( baie keer aan die suide of weste kant van die dorp, of “oorkant die treinspoor ) waar die gemiddelde inkomste min is; SASSA + ietsie kleins. Aan die ander kant van die dorp is lidmate se selfoon en internet kostes meer is as die armer lidmate se totale inkomste. Dan sê die dominie van die ryk gemeente in ‘n groot vergadering, die ander dominies moet net hulle vingers trek. In die armer gemeentes is dit letterlik ‘n stryd om oorlewing.

  11. AW Shepherd says:

    Ek het lankal die voorstel gemaak en dit kan ondersoek word. Elke gemeente dra soveel as moontlik by en die fondse word in ‘n salarisfonds gestort waaruit die predikante dan vergoed word.
    Dit sal arm gemeentes ook die geleentheid gee om ‘n predikant te bekostig.
    Sodaninge fonds kan deur jare se goeie beleggings groei en kan die einde beteken van die situasie
    waar daar nie fondse is om ‘n predikant te bekostig nie.
    Die fonds kan ook aangevul word deur donasies en skenkings van persone en instansies.

    AW Shepherd
    Skriba
    NGK Sutherland

  12. Chris says:

    Vergoed die predikant wat hy werd is nav ‘n kontrak met vereistes soos by talle maatskappye gedoen word. Aan die einde van die jaar kan kundiges die predikant se prestasie evalueer en daarvolgens vergoeding aanpas.
    In my kerk het ons twee predikante en slegs een diens Sondae-oggende met weinig ander werk volgens die kerk-kalender. Hulle doen min tot geen huisbesoek nie – soos die geval blykbaar met baie predikante die geval is. Ek verneem hulle het ook ander werk, bv begrafnisse, huwelike ens. Siekes waarvan ek weet het al menigmale versoeke aan die kerk gerig vir persoonlike besoeke, maar tevergeefs. Dalk was hulle besig met ander take.

  13. Rico Kruger says:

    Is dit nie net weer ‘n gepraat om ‘n eindelose debat te begin nie ? Die land se geld raak op en so ook die lidmate se bestebare inkomste. Die toekomstige vraag gaan wees – ” is daar nog ‘n rol en doel vir voltydse predikante ?”

  14. Een ding is seker: Die finansiële posisie van ‘n gemeente bepaal die vergoeding van die predikant! Wanneer ‘n gemeente dan kleiner is (of in ‘n minder gegoede omgewing opereer), skep dit probleme met die betaling van die predikant.
    Om hierdie probleem te probeer oplos met ‘n kommunistiese (of is dit sosialistiese?) sisteem soos ‘n sentrale kerkkas, kan net nie werk nie. Doodgewoon omdat dit die motief van onderlinge betrokkenheid uit die vergelyking laat. In plaas daarvan moet ‘n sisteem gevind word waarin meer gegoede gemeentes betrokke gemaak word by sukkelende gemeentes. Op ‘n baie persoonlike vlak. En met baie kontak tussen die twee (of meer) gemeentes.
    Hierbenewens moet die basiese voorveronderstelling wat in alle redenasies geld verander, dit is, dat ‘n predikant vergoed moet word en die gemeente alleen daarvoor verantwoordelik is. Gedurende die 2016-2017 periode was die primêre tendens in kleiner Amerikaanse gemeentes dat hul predikante dubbelberoep mense geword het. Hulle het self verantwoordelik geword om ‘n deel van hul inkomste te genereer. Uit bronne buite die gemeente. Daarom sal kleiner gemeentes al meer vir ‘n predikant moet vra: “Watter deel van jou ‘cost to company’ kan jy genereer? En waarvoor sal ons verantwoordelik wees”
    Laastens wil ek sê dat predikant in die NG Kerk (oor die algemeen) bitter min doen om lidmate te begelei oor die verband tussen hulle geloof, hulle versorging en die finansies van die gemeente. Predikante weier botweg om oor “geld en tiendes” te preek. Kleiner gemeentes wat finansieel oorleef is meestal gemeentes waar hierdie saak deel is van die geloofsbegeleiding van hulle lidmate.
    Dink ek dat my idees die finale antwoord is? Beslis nie. Die probleem is net te kompleks daarvoor.
    Ek dink wel dat dit sin kan maak om ‘n groep persone in die kerk (nie predikante nie!) te kry om die probleem in meer besonderhede te identifiseer en omskryf. Ook deur gesprek met predikante, gesprek in ‘n oop forum op die internet, gespreksgroepe by ringe, ens. Al die kante daarvan. Want in ‘n goeie analise van die probleem lê dikwels ‘n oplossing opgesluit.

  15. Rieksie says:

    Ek lees al die kommentaar oor salarisse van leraars en dan wonder ek of gemeentelede ooit daaraan dink dat ‘n leraar ‘n doodgewone landsburger is met dieselfde finansiële verpligtinge as enige ander gemeentelid. Ons moet ook kos koop, skoolgelde betaal, SARS en polisse betaal om voorsiening te maak vir die dag as ons aftree en daar geen mediese fonds meer betaal word nie of ons geen huisvesting het nie want ons het al die jare die wonderlike voordeel van ‘n pastorie gehad.
    Ja leraars het baie goeie voordele wanneer hulle in die bediening staan maar die dag as hulle aftree val al daardie voordele weg en dan moes hulle alreeds voorsiening gemaak het vir hul oudag en daarvoor moes hulle darem ‘n salaris ontvang het wat rekening gehou het met die inflasiekoers elke jaar, maar waar gemeente hulle leraars slegs ‘n 3-6% verhoging gee want die leraar kan darem nie te veel verdien nie. Dis waarom so baie “ou” leraars vandag hulleself beskikbaar stel vir preekbeurte – hulle lei geen gemaklike aftrede met baie geld nie.
    Ek stem saam dat “ryker” gemeentes dalk ‘n “armer” gemeente moet aanneem en help om ‘n leraar se pos te kan betaal. Dis ons verantwoordelikheid as kerk om na mekaar om te sien.
    Belê in jou leraar en jy sal ‘n gemeente hê waarin jou leraar ook al sy tyd en talente sal belê en wat positief vorentoe sal gaan – leraars wil ook soms voel hulle word waardeer, en ‘n geldjie in die hand is altyd ‘n welkome beloning.

  16. Rinus Wassermann says:

    Alhoewel ek baie begrip het vir die situasie is die dilemma veel groter en een wat moeilik deur n sentrale stelsel opgelos kan word. Daar sal eers ander stelsels in plek moet wees voordat n sentrale betaalstelsel oorweeg kan word. Hoekom? Daar is baie gemeentes wat swaarkry direk agv die leraar self of agv ou bedieningsmodelle. Hoe subsidieer ons dit? Daar is gemeentes met wie dit bv ook baie goed gaan nie omdat die gemeente ryker lidmate het nie maar agv harde werk en vernuwende modelle.

  17. George says:

    My bietjie insig oor ‘n komplekse saak is die volgende:
    1. Salarisskale behoort die fundamentele uitgangspunt te bly en kerkrade bly verantwoordelik om leraars daarvolgens te vergoed.
    2. Indien omstandighede ontwikkel wat bogenoemde kompliseer, tree die Ring en Sinode toe en handel volgens Skriftuurlike beginsels om “ewewig” te bewerk. Hierdie “ewewig” kan nuwe ooreenkomste tussen kerkraad en leraars wees wat:
    2.1. Veranderde werksure en toepaslike vergoeding as uitkomste het.
    2.2. Verskuiwings tov die plaaslike bedieningsmodel.
    2.3. Finansiele ondersteuning vanaf die Streek of Algemene Sinode aan die betrokke gemeente vanuit die Gemeente ondersteuningsfonds of dergelike bronne. Alle gemeentes se Sinodale aanslag voorsien fondse aan die Sinodes wat reeds sinvol bestuur word om gemeentes wat swaar kry te help.
    3. Ons sien ‘n pragtige getuienis in die Woord rakende die gemeentes in Masedonie (2 Kor.8:1 vv) wat “oorvloedig vrygewig” was agv hule insig in God se genade.
    Ek dink die kerk het oor haar breedte en lengte van bestaan, oorhoofs genoeg bronne om klein en groot gemeentes te laat voortbestaan asook om hulle herders billik en ordentlik te betaal vir die bydrae wat hulle lewer.

  18. Willie says:

    Dit is inderdaad `n vraag na kerkbegrip. Dalk is ons probleem juis dat `n sentralistiese en sinodokratiese kerkbegrip alewig veronderstel of bepleit word, terwyl die Bybel dit glad nie ken nie. Die plaaslike kerk bly verantwoordelik om die os wat ploeg nie te muilband nie. Wanneer omstandighede dit dan nie moontlik maak nie, behoort die naburige gemeentes in die Ring eerste te wees om hulp aan te bied. Daarna moet die res van die kerkverband met hulp gereed wees.
    Dit is `n skande dat gemeentes die een na die ander tot niet gaan terwyl die kerk miljoene rande op belegging en in eiendomme het.

  19. Clinton says:

    As die dominees getrou aan die Here is in hulle werk, sal die Here getrou in hulle versorging voorsien…

  20. Attie says:

    Die probleem is nie HOEVEEL die leraar moet verdien nie. Die probleem is HOE en WAARMEE dit betaal moet word.
    Hersien die huidige stelsel en doen weg met gratis of gesubsidieerde byvoordele soos mediesefonds, pensioenfonds, pastorie, munisipale fooie, telefoonkoste en so meer. Betaal ‘n netto salaris en hieruit moet hy/sy alle uitgawes self dra. Dit hang van die leraar af hoeveel die gaan spaar vir sy aftrede/woonhuis/lewensverdekering, ensovoorts. Maak van jou ouditeur/finansi-ele adviseur gebruik. Administratief vir die gemeente baie minder werk en is die gemeente slegs t.o.v. wetlike verpligtinge aanspreeklik.
    WAARMEE is n taai toffee! Gemeentes groei nie meer nie en sal dit groter areas vra of minder leraars om die salaris te kan diens. (Uitsterwende beroep?)
    HOE ? – deur gelowe bymekaar te bring. (Om te kan oorleef?)

  21. Siass says:

    Ek wou nie, maar nou het ek. Dit wat ek gaan skrywe gaan nie veel bydra tot die oplossing van die probleem van leraars se salarisse nie – want daar is nie een wat almal gaan tevrede stel nie.
    Ek ontvang my eerste beroep na die gemeente Balfour in die ou Transvaal [Jan 1965] traktement: R150-00 per maand. Ek kla nie daaroor nie – het nog nooit gekla oor tramtement nie want die Here sorg.
    Elke jaar gaan ek uit die kerkraadsvergadering en die kerkraad besluit, sonder enige aanbeveling van buite op ‘n verhoging of nie. Klompie jare verloop. Algemene Sinode word gestig en een of ander tyd besluit die AS dat hulle Algemene Fondsekommissie aanbevelings rakende vergoed van leaars na sinodes sal stuur wat dit weer na gemeentes sal deurgee.
    Ek was bevoorreg om vir baie jare op die kommissie te dien waar daar ure afgestaan is aan bespreking van hierdie saak.
    Omdat die leraars op hoogste vergoedingsskaal darem ook ‘n verhoging moet kry was daar later, ek meen 16 skale. Dus na 16 jaar in die bediening sou jy topskaal bereik, wat nooit gebeur het nie want elke jaar is daar een skaal onder aan die traktement weggeneem en een bo bygevoeg. ongelukkig is dit waar dat gemeentes se grootte en inkomste geweldig kan verskil.
    My eenvoudige oplossing is dit: wees dankbaar as jy nog voltyds in die bediening staan. Voltydse leraars gaan in die meeste gemeentes verdwyn. As jy nie tevrede is met die salaris en byvoordele wat ‘n gemeente jou bied nie, “bedank” en kry ‘n werk waar die inkomste beter is. ‘n Colloquium doctum is nie so moeilik nie

  22. Cornelia says:

    Ek stem hartlik saam met Rieksie se kommentaar. N predikant se enorme werks lading word maklik mis gekyk.

  23. Christo Schoeman says:

    Dankie Cobus dat jy ook op hierdie platform die vraag vra.
    Hierdie gesprek het ek ook verlede jaar op ’n ander sosiale platform begin en gee daarom vir diegene wat nie deel was daarvan nie, my kommentaar / vrae:
    Wanneer daar gepraat word van gemeentes wat swaar trek, is dit gewoonlik te make met die feit dat die gemeente nie meer ’n voltydse predikant kan bekostig nie. Die realiteit is wel dat die predikant se salaris telkemale die gemeente se grootste uitgawe is in hul jaarlikse begroting. Tog is daar gemeentes wat floreer en glad nie met hierdie uitdaging sit nie. Of ons dit nou openlik wil erken of nie: Kleiner gemeentes is vir meeste van ons nie meer so “aantreklik” nie. Die ou manier van beroep kon bepaal dat ons dalk daar sou op-eindig, maar dankie tog ons kan nou kies waar die Here ons wil gebruik… (sic).
    Die vraag is dus: Hoe vind ons ’n balans tussen die lot? Hoe maak ons plattelandse bediening of bediening in klein gemeentes weer “aanvaarbaar” vir predikante? Want, kom ons wees eerlik, baie min van ons sal aansoek doen na die gemeente DitLykOfOnsOnsDeureMoetToemaak met hul 35 belydende- en 3 dooplidmate nie? Hoekom? Want hulle kan ons nie bekostig nie…
    Sodra daar op Sinode sittings gepraat word oor pro-ratas of sinodale aanslag wat betaal moet word, is almal gewoonlik ook vinnig om (negatief) te reageer, omdat dit vat aan die gemeente se oorskot fondse (indien dit bestaan). Maar wat as die Sinodale porsie wat ’n gemeente moet betaal eerder 60-70% (dalk nog meer) sou wees, maar die gemeente nie meer verantwoordelik is vir die predikant se salaris nie? Met ander woorde: die betaling van die predikant(e) se salaris en alle gepaardgaande “normale” voordele word die verantwoordelikheid van die sinode.
    Sou gemeentes dan nie meer kon fokus op kerkwees en minder op oorlewing nie? Sou predikante dan nie ook meer kon luister na die stem van die Here en gaan waar die Gees hulle lei nie? Ek verstaan dit is nie so eenvoudig soos dit klink nie, maar is dit nie dalk iets wat iewers bespreek kan word nie?

  24. Andreas says:

    Hierdie is ‘n moeilike kwessie.
    In baie gemeentes is ‘n predikant die grootste enkele uitgawe, in gevalle is dit sekerlik ‘n vraag of hulle genoeg doen om dit te verdien, in ander gevalle sou hulle vir die werk wat hulle in ‘n maand insit met die opleidingsvlak wat hulle het 2 tot 4 maal meer in ‘n ander bedryf kon verdien.
    Predikante op die platteland as hulle nie reeds jare daar is nie, verdien omtrent dieselfse as die gemiddelde onderwyser netto in die sak, die verskil kom in dat die behuisingsvoordeel vir ‘n predikant teoreties beter is (verniet, maar maak dit amper onmoontlik om jou eie plek te koop).
    Daar is vir seker ‘n langtermyn kwessie wat na gekyk moet word. Dit is waarskynlik dat vol-betaalde poste die uitsondering sal wees binne die volgende 5 na 10 jaar. Die realiteit is wel dat min predikante gekwalifiseer is om ‘n tweede beroep te beoefen en erger as dit tot Wes-Kaap se sinode dit op die tafel geplaas het, was daar nie ‘n opsie om vir enige iets behalwe ‘n voltydse kwalifikasie b-graad en m-graad in te skryf, wat vir niks anders gebruik kan word nie.

  25. Pieter Oberholzer says:

    In Februarie of Maart 1987 het ek by die Ringsvergadering van die Ring van Heilbron ‘n mosie ter tafel gelê waarin ek ‘n sentrale kas vir die besoldiging van predikante voorstel. Ek is in vlamme afgeskiet en die leierouderling van Heilbron Suid gemeente , ene doktor… ek kan nie sy van onthou nie, het reguit vir my gesê ek is totaal onkundig en het nie die vaagste benul hoe die kerk werk nie.

    Die motivering vir my voorstel was nie primêr finansieël gedrewe nie, maar bedieningsgedrewe. Dit was vir my as jong dominee duidelik dat die verkeerde predikante as gevolg van finansiële redes in die verkeerde gemeentes bedien. Klein plattelandse gemeentes wat meestal uit ouer lidmate bestaan, het jong dominees beroep omdat hulle meer bekostigbaar was. Aan die anderkant het voorstedelike gemeentes met oorwegend jonger lidmate wat dinamiese en passievolle leiding nodig gehad het meermale met ouer predikante gesit. Gemeente en dominee was baie male onvergenoegd, maar daar was geen meganisme om die situasie te verander nie, want beroepe was destyds as gevolg van die ooraanbod van predikante so skaars soos hoendertande. Dit was dus noodsaaklik om die beroepstelsel ook te verander. My voorstel vir ‘n beroepstelsel waar predikante kan aansoek doen vir ‘n pos, is eweneens deur dieselfde Ring van die tafel afgevee. Genadiglik het die Algemene Sinode nie te lank daarna nie, wel so beroepstelsel goedgekeur.

    Ek is ongelooflik dankbaar dat die saak van ‘n sentrale kasstelsel by die komende Sinode op die tafel sal wees en ek leef met die hoop dat logika hierdie keer sal seëvier en dat ek die stelsel in werking sal sien voor ek dood is.

    Pieter Oberholzer

  26. Nico says:

    Die NG Kerk moet oor baie goed herbesin! Kerkwees, die Woord van God ens, maar geld is die wortel van alle kwaad, passop maar waar julle hiermee gaan! Net een vraag, skat julle ons moet die dwaal leeraars dieselfde betaal as ander wat gertrou is aan die Woord van God?

  27. Stefaan de Jager says:

    `n Sentrale kerkkas kan regverdig word vanuit die Skrifbeginsel dat diegene wat baie het nie te veel het nie en dat diegene wat min het nie te min het nie (2 Kor 8:15).

    So `n sentrale stelsel kan in die praktyk ongelukkig meebring dat dominees wat loodswaai of vreemde idees verkondig deur een of ander dwaallering op die rug van ander ry en steeds hul salaris kry.

  28. Redakteur: Kerkbode says:

    Die plasing hierbo mag die indruk skep dat die sentrale kasstelsel by die komende (Algemene) Sinode in Oktober op die tafel sal wees. Kerkbode kon intussen bevestiging kry dat daardie punt nie tans op die agenda is nie. Ons behou die plasing omdat die skrywer duidelik ‘n breër punt maak, maar wil hiermee keer dat onnodige verwarring ontstaan.
    Lees gerus die volledige agenda hier: http://ngkerk.net/sinode2019/

Comments are closed.