Gemeentes se geldsake: ‘Kontrole is die basis van vertroue’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ons hoor gereeld van geld wat in gemeentes wegraak.

So word die voormalige skriba van PE-Moedergemeente tans op be­drogklagte van meer as R400 000 verhoor.

Die skriba van ’n ander Baaise gemeente is op parool nadat sy tronkstraf vir diefstal van kerkgeld uitgedien het.

Ook plattelandse gemeentes loop deur. Ek verneem die skriba van so ’n gemeente het pas beken dat hy geld verduister het. ’n Halfmiljoen of meer is betrokke.

Nie alle gemeentes lê kriminele klagte nie. Sommige sluit formele oor­eenkomste wat die terugbetaling reël.

’n Mens voel ambivalent oor die wysheid hiervan.

Sonder ’n kriminele klag verhuis die dief na ’n ander plek en begin weer met geld werk. Die volgende niksvermoedendes loop weer deur.

Diewe word selfs vergewe sonder dat hulle aan die pen ry. Dit is jammer, want vergifnis en verantwoordbaarheid sluit mekaar nie uit nie.

Baie groot bedrae is betrokke.

Die diefstal gebeur omdat interne beheermaatreëls nie behoorlik funksio­neer nie.

Ek noem ’n paar werklike voorbeelde.

Volgens die klagstaat is nie al PE-Moedergemeente se kontant oor ’n lang termyn gebank nie. Meer as een kwitansie- en depositoboek is gelyk gebruik.

’n Ander skriba het vir homself twee keer per maand betaal. Hy het ook kwi­tan­­sies uitgereik wat nooit gebank is nie. Die ouditeure het niks agtergekom nie.

Nog ’n skriba het met kerkgeld by ’n vinnig-ryk-word internet-slenter betrokke geraak. ’n Ander het blykbaar kerkgeld heen en weer geskuif om ’n besigheid se kontantvloei uit te stryk.

’n Verdere geval was openlik persoonlike uitgawes wat uit die kerkkas betaal is, maar met aangepaste state en fiktiewe ouditeure se besonderhede op die ouditstate.

Ouditeure se handtekening is ook al nagemaak. Selfs bankstate en fakture is noukeurig vervals. Betalings is gedoen vir werk wat nooit plaasgevind het nie.

Die risiko vir gemeentefondse lê op meer as een terrein. Dinge kan skeef loop tussen die ontvangs van kontant en die uitskryf van ’n gemagtigde kwitansie. Ook tussen die uitskryf van die kwitansie en die bank van die fondse. ’n Derde area is die uitbetaling van fondse aan ongemagtigde begunstigdes.

Voorbeelde van goeie voorsorgmaat­reëls is:

  • Sorg dat meer as een persoon by die hantering van kontant betrokke is totdat ’n kwitansie uitgeskryf word.
  • Rekonsilieer die kwitansies en die depositoboek met die bankstaat.
  • Betalings moet deur meer as een persoon gemagtig word.
  • Alle fondse moet deur die kerk se gemagtigde bankrekening gaan. Kon­tant moet eers gebank word voor­dat uitgawes daarmee betaal word. Bankkoste is hoog, maar gaan gesels met ’n gemeente by wie R400 000 gesteel is.
  • Die kerkraad moet die aanstelling van geregistreerde ouditeurs hanteer en verseker dat die boeke wel deur hulle nagegaan is. Die hoë koste? Komaan, wees ernstig.
  • Die geouditeerde state moet deur die kerkraad self goedgekeur word.

Dit is goed dat lede van finansiële kommissies roteer en dat die werking van die finansiële sisteem gereeld gekontroleer word.

Kontrole is nie ’n teken van wantroue nie. Inteendeel, dit is die basis van vertroue.

Die Oos-Kaaplandse Sinode het in 2016 wenke vir finansiële kontrole opgestel. Laai hier af.

Ds Danie Mouton is Direkteur Sinode van Oos-Kaapland.

One thought on “Gemeentes se geldsake: ‘Kontrole is die basis van vertroue’

  1. Leon Foot says:

    Dankie Danie dat jy hierdie belangrike kwessie weer onder ons aandag bring. Die eerste teken van ‘n probleem is waar die skriba nie meer getrou elke maand die vorms indien by die sinodale kantoor nie. Dan is dit nie lank nie, dan hoor jy van die probleem. Stel die beste moontlike maatreëls in om alle partye te beskerm. Trust, but verify!

Comments are closed.