Algemene Sinode – ’n lewegewende verskil

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die sewentiende vergadering van die Algemene Sinode is op han­de: 6-11 Oktober. Vir baie men­se se besef is Algemene Sinode-vergaderings spanningsvolle en omstrede ge­leenthede. Daar is selfs diegene wat dink ons moet heeltemal daarsonder klaarkom. Die vergaderings veroorsaak immers slegte beelde van die kerk in die media, omstredenheid, verdeeldheid – en sê sommiges, ook verleentheid.

Die Algemene Sinode het oor die afgelope aantal jare inderdaad deur ’n moeilike tyd gegaan. Dit was veral die Belhar-debat, en daarna die selfdege­slag-debat wat die spanningslyne in die kerk blootgelê het. Wat egter duidelik geblyk het, is dat dit nie die Algemene Sinode is wat verdeeldheid geskep het nie. Dit wat in die NG Kerk, en dus in die Algemene Sinode gebeur het, is maar slegs ’n weerspieëling van die diverse denkrigtings wat daar in die kerk bestaan. Maar nou was meningsverskil en selfs diepgaande spanning nog altyd in kerke teenwoordig, selfs in die gemeente van Korinte vir wie Paulus ’n baie dringende brief moes skryf om hulle eenheid te bewaar ten spyte van hulle verskille.

Wat mense natuurlik nie altyd weet nie, is dat die Algemene Sinode tussen sy vergaderings ’n reuse-hoeveelheid werk doen. Sy take word beskryf in die Kerk­orde in Artikel 43. Hieraan moet daar uitvoering gegee word. Hieroor moet die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) nou verslag doen aan die sinode. Ek was bevoorreg om ’n groot deel van die konsepverslag te skryf en het diep onder die indruk gekom van die reuse-klomp werk wat die ASM en die taak­spanne van die sinode oor die afgelope vier jaar gedoen het. ’n Vergadering is altyd so goed soos die werk wat in die aanloop daartoe gedoen is. As dit die waarheid is, behoort ons in 2019 ’n won­derlike sinode te hê. Terwyl daar baie kontroversiële gesprekke en selfs ’n buitengewone sinodesitting en ’n hofsaak was, is daar op talle terreine omvangryke vordering gemaak en werk gedoen. Hierdie werk strek van hertoelating tot die Wêreldraad van Kerke en lidmaatskap van die plaaslike Church Unity Commission, tot groot vordering in ons verhoudings met die Hervormde en die Lutherse Kerk tot by helder en duidelike insette in wetgewende prosesse, tot by die bou van sterk verhoudings met mense wat in die ‘struggletyd’ vyande was. Die werk sluit ook diep nadenke in oor die missionale identiteit van die kerk, die transformasie van die ampte – met die amp van die gelowige op die voorpunt – en die verbreding van ons teologiese opleiding sodat lidmate en mense met spesialisop­leiding in ander dissiplines as teologie, ook amptelik evangeliebedienaars kan word. Ons gereformeerde identiteit het ook sterk gefigureer in die 500ste her­denking van die reformasie en die Dordt­se Leerreëls.

Daar is ook gewerk met die aard en funksionering van die kerkverband en met die kerkorde. Daar is diepgaande nagedink oor ’n nuwe kerkorde vir ’n gestuurde kerk. Daar is netwerke gevorm oor jeugsake, droogtes en brande. Daar is gedink oor die ingreep van die kerk in die armoedesiklus in ons lande. Vroeëkinderontwikkeling en opleiding het sterk op die voorgrond getree as die beste bydraes wat die kerk kan maak. Sinodes en gemeentes het hiermee begin woeker en met nuwe inisiatiewe vo­rendag gekom. En ja, daar is oor mens­waardigheidskwessies baie werk ge­doen.

As gelowiges is ons dit aan mekaar verskuldig om die waarheid onder mekaar te praat. Dit is nie die volle waarheid om te sê die Algemene Sinode maak nie ’n wesenlike bydrae tot die lewe van die kerk nie, of ondersteun nie gemeentes nie, of skep net spanning nie. Hoe het ons nie gemeentes ondersteun toe ons ons pu­blieke getuienis gelewer het ten aansien van die godsdiens in skole-kwessie of die debat oor onteie­ning sonder vergoe­ding of die haat­spraak­kwessie nie? Hoe het ons nie gehelp toe ons ons teologiese opleiding ver­breed het nie? Hoe het ons nie gehelp toe ons die ampte begin herbedink het nie, of teologies diep nagedink het oor geloofsvorming in die kerk nie? Laat ek eerlik wees, ek is soms ontsteld om te hoor hoe medegelowi­ges doelbewus kies om die volle waarheid van die betekenisvolle werk van die Algemene Sinode te verswyg omdat hulle op punte van die sinode se standpunte verskil.

Die tema van die komende sinode is “Maak ’n lewegewende verskil”. Ons gaan onderskeidend dink oor ons roe­ping in Suid-Afrika. Ons gaan ook dink oor ons getuienis in ’n wêreld vol onreg, korrupsie, mishandeling en wetteloosheid. Die rol van die kerk in ’n verdeelde samelewing gaan onder die loep kom. Wat vra die Hoof van die kerk hier­oor van ons? Die aanvaarbaarheid van selfdegeslagverhoudings gaan verder bedink word. Ons gaan hiermee saam ook tyd maak om te dink oor die inhoude van ons teologiese opleiding. Hierdie temas is voorgestel deur ons onderskeie sinodes. Voeg hierby die tal­le uitstekende verslae wat ter tafel gaan kom, en ek verwag ’n baie positiewe ver­gadering.

Dit is nou belangrik dat ons almal sal bid vir ’n sinode van diepgaande soeke na die wil van die Hoof van die kerk, Skrifgetrouheid en helderheid in die onderskeidings wat ons maak. Mag die komende sinode inderdaad later in terug­skoue, vir die kerk ’n lewegewende gebeurtenis wees, omdat die Heilige Gees, die Heer en die Lewendmaker, ons geïnspireer het.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.