OPINIE: Toe-oog in die tokkamer … maar hoekom?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Met die rugbywêreldbekertoernooi wat op 20 September in Japan begin, bepeins die rugbykommentator MARCO BOTHA die verskynsel van die tokkamergebed.


Kies God werklik kant in ’n rugbywedstryd? Dat die hoop, of geloof, bestaan dat God Hom enigsins met die sportsoort bemoei, is ongetwyfeld te bespeur as ’n mens spelers se gedrag en roetines vir selfs ’n kort tydjie bestudeer.

My indruk is dat gebed beslis vir ’n groot klomp spelers veel meer as net ’n tipe rubberstempel is – iets wat uit gewoonte en byna onnadenkend ingespan word. Vir Bakkies Botha, byvoorbeeld, was dit in 2010 ’n geweldige verleentheid nadat hy vir nege weke geskors is vir ’n kopstamp op die All Black-skrumskakel Jimmy Cowan. Vir Bakkies was rugby ’n manier om die Here te verheerlik en met hierdie openbare feit as konteks, is sy vuilspel teen Cowan veral sterk veroordeel.

Vir die “enforcer” in enige rugbyspan bied die tokkamergebed beduidende uitdagings. Trouens, die tokkamergebed is in geheel ’n interessante verskynsel. Ongeag hoe ongepoets die gebedsleier mag wees, kan die opregtheid van die gebed selde betwyfel word. Maar dit sou moedswillig wees om hoër teologiese begrip aan die gemiddelde gebedsleier toe te skryf. So waarom bid spelers dan hoegenaamd as span voor wedstryde?

Om te “speel tot eer en verheerliking van u naam,” laat ruimte vir teleurstelling solank as wat ons “tot die beste van ons talente” speel.

Dit laat dikwels die ongemaklike moontlikheid dat God aan twee opponerende gebede oorweging moet skenk, want daar word na alle waarskynlik in albei kampe om guns gebid!

Indien jy uit die honderde duisende rugbyspelers in Suid-Afrika onder die 900 beroepspelers tel, kry jy wel op televisie die geleentheid om God na dese beswete en met ’n hoedjie van die borg op jou kop vir jou talente en voorregte te bedank.

Dit kan wees dat die tradisie van die spangebed bloot die handhawing van ’n spantradisie is – ons bid want ons bid (watter derduiwel sal die tradisie doelbewus durf verbreek?). En as ons nie bid nie – soortgelyk aan die berekende risiko om nie te glo nie – laat ons die deur oop vir potensiële teëspoed wat vermy kon word.

Moontlik is “sy hand van beskerming teen ernstige beserings” die sinvolste deel van enige gebed vyf minute voor afskop. Of dalk is dit eenvoudig dat gebroke mense berusting vind in die geloof dat God tog in hulle wel en wee belangstel.

  • Marco Botha is ’n skrywer en Afrikaanse rugbykommentator.