Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Studente en werknemers van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch het op 4 September om 13:00 op die trappe voor die Kweekskool bymekaargekom in “Stille Protes” om hulle “solidariteit met alle vroue” te wys. Foto: Jacobie M Helena

Geweld teen vroue: ‘Genoeg is genoeg’

“Ons treur vandag saam met geliefdes van dogters en vroue wat slagoffers van geweld en verkragting was en is. Ons treur oor seuns en mans wie se lewens so skeefgeloop het dat hulle tot hierdie dade in staat is. Here, sien ons trane en hoor ons noodkrete!”

Só skryf die NG gemeente Heidekoppie, Brackenfell vandeesweek op hulle Facebookblad.

Die geweld teen vroue wat die afgelope ruk die Suid-Afrikaanse nuus oorheers het, het regoor die Wes-Kaap massa-optrede tot gevolg gehad.

Studente en werknemers van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch het op 4 September om 13:00 op die trappe voor die Kweekskool bymekaargekom in “Stille Protes” om hulle “solidariteit met alle vroue” te wys. Prof Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel van die VGK het ‘n paar woorde gesê en daar was kans vir gebed.

Duisende betogers in Kaapstad het vroeër die dag vanaf die parlement na die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) beweeg waar wêreldleiers vir die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) byeengekom het, het Netwerk24 berig. 

Dr Llewellyn MacMaster, moderator van die VGK, sou Woensdagaand ’n spesiale gebedsgeleentheid vir die wrede manier waarop spesifiek ses vroue die afgelope ruk vermoor is lei. Op die gebedsuitnodiging is die woord “Genoeg” en foto’s van die Kaapstadse studente Uyinene Mrwetyana en Jesse Hess, bokser Leighandre Jegels, perderuiter Meghan Cremer, 14-jarige Janika Mallo en Lynette Volschenk. Amy-Lee de Jager, wat vroeër die week deur vier mans in Vanderbijlpark ontvoer is maar weer veilig tuis is, se gesig is ook by die ander vroue se foto’s gevoeg om “bewusmaking te skep”.

  • ’n Spesiale gebedsdiens teen geweld teen vroue sal 5 September om 13:00 by Kruiskerk op Stellenbosch plaasvind.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Geweld teen vroue: ‘Genoeg is genoeg’”

Comments are closed.

Scroll to Top