Swartlandse plaasjapie sing hoofrol los by Pretoria-gemeente

ʼn Laerskoolleerder van Malmesbury het een aand oudergewoonte vir hulle gaste op die plaas gesing. ʼn Paar maande later bevind hy homself in Lumina – “die fantasiestad van lig”, waarin hy die rol van ’n moderne Josef vertolk. 


ʼn Ruk gelede het die 12-jarige CJ van Aarde oudergewoonte vir kuiergaste op hulle plaas buite Malmesbury in die Swartland gesing.

Min het hy geweet hy het so ʼn hoofrol in ʼn musiekblyspel los gesing. Nou is sy boodskap aan ander: “Hou moed. Hou vas aan hoop. Enigiemand kan ʼn sukses maak as jy hard werk.”

Onder die gaste wat hom dié aand hoor sing het, was ds Zander van der Westhuizen, leraar by die NG gemeente Tygerpoort in die ooste van Pretoria. Hy was nog op soek na ʼn geskikte persoon om die rol van “Joe Judge de Jong” in die gemeente se musiekblyspel te vertolk. Zander, ook die uitvoerende vervaardiger en teksskrywer van Helder, het by die Van Aardes aan huis beland omdat een van die kerk se lidmate familie van die gesin is.

“Zander het dadelik gesê CJ is die regte een vir die rol. Ons het dit maar gelos en was nie seker of hy ernstig is nie. Maar toe Zander vertrek, het hy weer genoem dat hy baie ernstig is daaroor dat CJ die rol moet vertolk,” vertel CJ se ma Elizma. Die NG gemeente Tygerpoort het CJ se vliegkaartjie na Pretoria gedek.

Ds Zander van der Westhuizen is net so tuis agter die klawerbord soos op die kansel. Foto: Le Roux Schoeman

“Dit was ʼn groot uitdaging vir beide die gemeente en vir CJ,” sê Elizma. Juis omdat CJ nie saam met die res van die produksiespan kon oefen nie. Maar alles het uiteindelik glad verloop.

Dit is ’n Dinsdagmiddag na skool in CJ se tannie se huis in Malmesbury waar hy in die middae vertoef. Die gesin woon op ʼn plaas waar CJ se pa Gielie ʼn varkboerdery bedryf en dit is te ver om aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem.

Dit is reeds ʼn paar weke sedert CJ sowat 1 500 km na Tygerpoort gereis het vir Helder se vyf optredes.

Hy vertel blinkoog hoe hy middae en saans sy dialoog en liedjies sélf geoefen het. “Ek het later ook die woorde uit my kop geken,” lag Elizma.

Uiteindelik het hy net ʼn week voor die optredes by die span in Pretoria aangesluit.

“Dit was ʼn groot belewenis. Die optredes het eintlik nie werklik gevoel nie. Want die oomblik gaan so vinnig verby,” sê die blonde seun wanneer hy terugdink.

“Ek het later ook die woorde uit my kop geken,” vertel Elizma, CJ se ma. Hier staan CJ en Elizma voor die NG gemeente Tygerpoort die aand van die premiere van Helder. Foto: Le Roux Schoeman

“Dit was so lekker om te sien hoe mense hulle inleef en dit geniet,” sê CJ.

CJ vertel dit was veral wonderlik om met sangeres Anna Davel, wat die rol van regter Marelize Strydom vertolk het, die verhoog te deel.

Helder het my blootstelling aan toneelspel ook gegee. Nou sal ek eendag nie net sing nie, maar dalk ook gaan drama swot,” sê dié leerder van Laerskool Swartland.

Die ander hoofrol is deur akteur Pierre Breytenbach vertolk. Pierre was glo ook die aand op die plaas toe CJ ʼn rol los gesing het en het geld in ʼn koevert agtergelaat vir sy “eerste klavierles”. “Oom Pierre sê dis belangrik om ʼn musiekinstrument te kan bespeel,” sê CJ.

Alhoewel CJ reeds sanglesse vanaf 8-jarige ouderdom neem, het hy ná Pierre se aanmoediging begin klavierlesse neem. Dít is harde werk en nie juis CJ se gunsteling-tydverdryf nie, sê Elizma en knipoog.

Vir eers het CJ die fantasiewêreld van Lumina agtergelaat. Voor hy sy groot musiekdrome gaan volg, gaan hy eers sy skoolloopbaan voltooi, sê CJ se ma Elizma. Foto: Conette le Roux

CJ is mal oor Afrikaanse musiek en rits sy twee groot rolmodelle in die musiekbedryf met sterre in die oë af: Sangeres Liezel Pieters en Ruhan du Toit van die sangroep Touch of Class.

Sy groot droom is om eendag deel te wees van die Afrikaans is Groot-konsertreeks en om ʼn positiewe boodskap met sy musiek oor te dra.

Hy sê: “Ek dink beslis God gee vir ʼn mens ʼn talent met ʼn rede.”

Intussen tree hy by die jaarlikse Blommeskou in Darling op. Vroeër vanjaar het hy ook by die Kaapse Klopse-karnaval in Athlone gaan sing. En later vanjaar is hy die seremoniemeester by ʼn talentkompetisie by Malmesbury se skou.

Maar dié plaasseun sê hy gaan nie sommer gou terug Pretoria toe nie. “Ek is te lief vir die plaas. Ek het die ooptes gemis. En om op die trekker en stroper te ry.”

Helder

Helder is losweg gebaseer op die Josefverhaal in die Bybel en speel af in ʼn “nuwe wêreld”. Die nuwe wêreld is die fantastiestad van lig – Lumina. “Dit was nie ʼn maklike taak om die wêreld van Lumina te skep en Josef se verhaal daarin te plaas nie. Dit het begin met ʼn nuwe stad wat Andrew (Kerrin) deur middel van ʼn kaart geskep het. Ek het die drome vervang met waarheid, die broers met ʼn bende, die pa met ʼn antagonis en die farao met ʼn regter. Die stad het ʼn paar ander draaie in die storie veroorsaak. Op ʼn nuwe manier moes Josef, die straatkind, verander om Josef, die Luminarius, te word,” skryf Zander in die program.

Zander skryf sedert sy studentejare musiek en verhoogstukke. As lid van die groep Vertikaal het hy ʼn SAMA-toekenning ontvang sowel as ʼn ATKV Liertoekenning vir ʼn nuutgeskrewe komposisie. Leon Gropp, wat saam met Zander vir die musiek en lirieke verantwoordelik was, is bekend as mede-aanbieder van die program Ontbytsake. Leon het al ʼn SAMA- en Ghoematoekennings in die musiekbedryf ontvang en het ook in 2018 die Woordtrofee by die US Woordfees vir “Beste musiekgedrewe produksie” vir Rooidag ontvang.

Die aand van die Helder-premiere by die NG gemeente Tygerpoort. Foto: Le Roux Schoeman