Hofuitspraak oor lyfstraf: Waar staan NGK?

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.

Die NG Kerk het nog nie ’n standpunt geformuleer rondom die hofuitspraak op 18 September 2019 van die Konstitusionele Hof wat bevestig het dat lyfstraf in private huishoudings onwettig is nie. Die kerk het nog nie die volle uitspraak onder oë gehad nie. Die NG Kerk was ook nie deel van die versoek deur FORSA en ander waarin aansoek gedoen is dat die hooggeregshofuitspraak van 2017, waarin beslis is dat lyfstraf in private huishoudings onwettig is, ter syde gestel moet word nie.

Wat lyfstraf betref,die wenslikheid daarvan al dan nie, het die NG Kerk hom egter reeds uitgespreek toe die proses rondom die Wysiging van die Wetgewing op Kindersorg in 2007 aan die gang was. Die NG Kerk het toe gereageer op art.139 wat oor lyfstraf gegaan het in dié Wysingswet.

Die standpunt van die NG Kerk ten opsigte van lyfstraf was toe die volgende:

Die Kerk het haar by die beginsel geskaar wat reeds dekades geld en wat sy nog altyd ondersteun het, dat die belange (insluitend veiligheid) van kinders eerste gestel word, selfs bo ouerlike regte.  Daarom kan kinders uit ouerlike sorg verwyder word en kan ouers selfs hulle ouerlike regte verbeur.

Hiermee het die kerk tot nou toe saamgestem en in kinderhuise, wat deur die kerk opgerig is, is honderde kinders wat uit hulle ouers se sorg verwyder is.  Die beginsel wat nou in die debat na die hofuitspraak deur sommige voorgestaan word dat die ouerlike reg om lyfstraf toe te pas belangriker is as die veiligheid van die kind word nie deur die kerk ondersteun nie.

Die debat in die sosiale media gaan van die veronderstelling uit dat ‘n Bybels- verantwoorde opvoeding redelike en liefdevolle lyfstraf insluit. Feit is dat in die christelike samelewing, sowat 80 persent van die bevolking, daar byna daagliks die erge vorme van vergrype teen kinders plaasvind – dikwels deur ouers wat daarin roem dat hulle christene is en meen dat die gesag om so teen hulle kinders op te tree juis van God kom.

Die bewyse hiervan kry ons in die Kinderhof en die duisende kinders wat van ouers verwyder moet word juis om hulle teen “christelike en liefdevolle” ouers te beskerm.  Christelikheid of godsdienstigheid waarborg nie redelikheid nie en talle misdade is al onder die dekmantel van liefde gepleeg.  Dit is ook so dat talle volwassenes wat geweldadig optree se probleme begin het toe hulle as kinders slagoffers van geweld was – en hulle ouers die toepassing van geweld as lyfstraf gesien het en dit selfs Bybels geregverdig het.

’n Groot gaping skei ons eie tyd met antieke opvattings oor kinderopvoeding, waarvan dissiplinering deel uitmaak. Soos met baie ander dinge kan ‘n mens nie alles wat in die Bybel oor tugtiging voorkom letterlik vandag toepas nie, spesifiek wat lyfstraf betref. Lyfstraf was so deel van die antieke vorm van dissiplinering dat niemand ‘n oog daaroor sou knip nie. Dit was eenvoudig as vanselfsprekend aanvaar; dis ondenkbaar dat in die antieke tyd opvoeding daarsonder kon plaasvind. En dit is dikwels so dat lyfstraf gevrees is omdat dit buitensporig toegepas is. Iets hiervan slaan deur in die woorde van Spr 19:18, en waar die profeet pleit dat die Here “met mate” sal tugtig (Jer 10:24; vgl 30:11).

Opvoedkundige insigte wat intussen ontwikkel is en baie studies wat gedoen is oor die opvoedkundige waarde van lyfstraf toon aan dat kenners vandag daaroor eens is dat lyfstraf uiters beperkte opvoedkundige waarde het. Kinders leer die spelreëls van die lewe nie soseer deur die vrees vir (lyf)straf nie, maar deur die voorbeeld wat ouers en ander rolmodelle van die samelewing stel.

Die ideaal was nog altyd om lyfstraf sover moontlik te vermy en eerder ander vorme van dissiplinering te gebruik wat meer opvoedkundig verantwoord is. Maar dissiplinering moet daar wees, anders word die kind nie voorberei vir die eise van die lewe nie en kan hy/sy nie sy/haar plek as volwaardige mens en volwassene in die lewe inneem nie.

Die uitspraak teen lyfstraf ontneem nie ouers die reg en verantwoordelikheid vir hulle kinders se opvoeding nie. Die sosiale wetenskappe het heelwat navorsing gedoen wat daarop dui dat gesag en dissipline op ander wyses as met geweld gevestig word.  Dit is ook ‘n ongeldige argument om die verval van dissipline in die skoolstelsel gewoon toe te skryf aan die beperking (verbod) op lyfstraf in skole nie.

Dit is die volgehoue taak van die kerk om ouers te bemagtig om hulle kinders met respek en waardigheid te dissiplineer, deur groter fokus op die huisgesin en christelike waardes vir die familielewe te plaas en om meer deel te neem aan die afkeuring van geweld van watter aard en teen wie ookal. – Uitgereik deur dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk. 

One thought on “Hofuitspraak oor lyfstraf: Waar staan NGK?

  1. Willem Smit says:

    “Maar dissiplinering moet daar wees, anders word die kind nie voorberei vir die eise van die lewe nie en kan hy/sy nie sy/haar plek as volwaardige mens en volwassene in die lewe inneem nie.”

    Nou is kinders dan nie “volwaardige mense” nie? Die kerk leer my ook elke dag iets nuuts. Wil die kerk nie ook vir ons dan ‘n aanduiding gee oor wanneer iemand werklik as ‘n “volwaardige mens” gesien word. Is dit nie dalk die wortel van die kwaad nie? Hoe ons, ons taal gebruik… Indien ons, ons kinders nie as “volwaardige mense” sien nie, hoe sal geweld teen kinders kan afneem.

Comments are closed.