Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
#enoughisenough. Dié hutsmerk het verlede maand viral gegaan toe duisende vroue, kinders en mans regoor Suid-Afrika geprotesteer het teen gendergebaseerde geweld. Dit was kort na die moord en verkragting van die 19-jarige universiteitstudent Uyinene Mrwetyana in Kaapstad. ’n Bewustheid van die lewensbedreigende effek van gendergebaseerde geweld in Suid-Afrika is meer sigbaar as ooit tevore. Patriargie floreer en vernietig daagliks Suid-Afrikaanse burgers, veral vroue en kinders, se lewe. Maar wat doen ons aan hierdie werklikheid? Watter rol kan geloofsgemeenskappe speel in die bekamping van só ’n dodelike siklus van geweld?
Die gesag en invloed van die Bybel in Suid-Afrika kan moeilik ontken word. Dit is egter ook waar dat die manier waarop die Bybel gelees, geïnterpreteer en geleef word uiters belangrik is wanneer dit by kwessies van gendergebaseerde geweld in Suid-Afrika kom. Die Bybel, wat gebore is en ontwikkel het uit ’n patriargale wêreld, het daarom die krag om te bevry of te onderdruk. Die sosiale aktivis prof Itumeleng Mosala beskryf die Woord van God as die “produk, rekord, terrein en wapen van klas-, kultuur-, gender- en rassekwessies”. Dáárom, wanneer daar pogings aangewend word om kontekstuele kwessies soos gendergebaseerde geweld aan te spreek, word die interpretasie van die Bybel ’n saak van lewe en dood.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2019/10/jacobie1.jpg” caption=”Jacobie M Helena is proponent en PhD-student in Nuwe Testament en gender aan die Universiteit Stellenbosch en die Vrije Universiteit Amsterdam.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die Bybel as geheel en in wese vanuit ’n patriargale wêreld ontstaan het. Daar word dikwels in die slaggat getrap om slegs die tradisionele eksplisiete tekste wat kwessies van gender, geweld en mag aanspreek, te bestudeer. Tekste soos byvoorbeeld 2 Samuel 13 staan as die “texts of terror” bekend. So belangrik as wat dit is om dié “texts of terror” te bestudeer, is dit uiters belangrik dat álle tekste bestudeer word.
Hoe dan gemaak met ’n Bybel wat uit só ’n ontstaanswêreld kom? Die Bybel kan op lewegewende of lewensbedreigende maniere gebruik word. Dit is lewensbedreigend om selektief met tekste om te gaan en nie die groter konteks van betrokke verse óók in ag te neem nie. So ook om die sosio-historiese konteks van die betrokke teks te ignoreer en direk van die wêreld van die teks na vandag te spring.
Lewegewende maniere om die Bybel te benader is om eerlik te wees oor die patriargale ontstaanswêreld van die Bybel. Daarom kan die Bybel in geloofsgemeenskappe gebruik word om gesprekke rondom gendergebaseerde geweld te begin. Die teoloog Mercy Oduyoye pleit vir veilige ruimtes waar Bybeltekste wat moeilik is om te lees, bevraagteken, gedekonstrueer en geïnterpreteer word sodat ’n stem aan die stemloses in die samelewing gegee kan word.
Die vraag is net of ons die Bybel gaan bly lees, interpreteer en leef op lewensbedreigende maniere en of ons braaf genoeg gaan wees om die Bybel as ’n gespreksgenoot in die bekamping van gendergebaseerde geweld te gebruik.
▶ Jacobie M Helena is proponent en PhD-student in Nuwe Testament en gender aan die Universiteit Stellenbosch en die Vrije Universiteit Amsterdam.