“Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.”

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Habakuk 2:4 is een van vele tekste in die Ou Testament waarvan die korrekte vertaling onseker is. Slaan gerus verskeie vertalings na en die opmerking is sonder meer duidelik. Letterlik vertaal, lui dit “Kyk na die opgeblase een, sy wese is nie reguit in hom nie, maar die regverdige, deur sy betroubaarheid sal hy lewe”. 

Ons is nie seker van die presiese vertaling van die Hebreeuse woord wat hierbo met “opgeblase een” vertaal is nie, maar die indruk is dat dit verband hou met iemand wat ’n ongeërgde, traak-my-nie-agtige of selfs verwaande of selfvoldane ingesteldheid het.  Wat hierbo met “wese” vertaal is, is in die OAV (1953) met “siel” vertaal, terwyl die woord wat hier met “betroubaar” vertaal is, ook met “geloof” vertaal kan word.

In Habakuk is dit eerder die literêre konteks van 2:4 as die historiese konteks wat belangrik is. Behalwe die noem van die Galdeërs in 1:6 het ons nie veel gegewens wat ons kan help om die historiese agtergrond van die boek te bepaal nie. Die datering hang saam met die vraag wie die “slegte mense” van 1:4 en 1:13b is. Navorsers meen dat die “slegte mense” Israeliete is en dié wat in 1:5-11 die straf uitdeel Babiloniërs. Die onreg, geweld en lyding, kom dus van binne én van buite. Soos Job worstel Habakuk ook met lyding en reg en onreg in die lewe.

Habakuk is onder die indruk dat slegte mense die oorhand oor die goeies kry en dat God dit oënskynlik toelaat. Waarom herstel God nie die reg in Juda en onder die volke nie? Die antwoord van God aan Habakuk is binne hierdie konteks belangriker as die vraag wat hy stel. God verwag van sy kinders dat hulle steeds sal doen wat reg is en getrou aan Hom sal bly – met ander woorde, dat hulle nie die onreg met onreg sal beantwoord nie. Die gelowige wat in geloof of trou aan God bly vashou en steeds doen wat reg is, sal saam met Habakuk sy triomflied kan sing (Hab 3).  

God antwoord Habakuk. Die antwoord sien egter anders daaruit as wat die profeet verwag het. God gee nie rekenskap van sy besluit om die Galdeërs te gebruik as instrumente van sy toorn nie. God gee wel ’n aanduiding dat ook geweldenaars en onregverdiges uiteindelik hulle loon ontvang. Die belangrike is egter dat die Here vir Habakuk beduie hoe Juda onder hierdie omstandighede behoue kan bly. Watter vrae hulle ook al mag vrae, hulle moet sorg dat hulle reg doen en volhardend getrou bly aan God.

Dit mag op die oog af lyk asof God hier die onmoontlike vra, totdat ons besef dat God in die eerste plek Juda se aandag vestig op dit wat hulle reeds besit en wat nooit van hulle weggeneem kan word nie: hulle verbondenheid aan God self as sy volk. Hierdie grootste van alle gawes wat deur God self aan hulle geskenk is, is hulle behoud te midde van alle swaarkry en ellende. Die gawe is egter ook ’n opdrag, ’n oproep tot getrouheid.

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.