Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Goudland: Quo Vadis?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Hans van Deventer van Vanderbijlpark skryf:
Beeld (11/11/2019) berig dat die byeenkoms van die NGK se Streeksinode Goudland die gevolg was van “meer as 40 briewe en besware” wat ontvang is na aanleiding van die NGK se Algemene Sinode se akkommoderende besluit rakende SGV. Die Streeksinode wou op grond van daardie besluit bande met die NGK verbreek, alhoewel dit uit dieselfde berig in Beeld duidelik is dat nie alle kerkrade en individue in hierdie Streeksinode daarmee saamstem nie.
Ons gesin het bande met die Gereformeerde Kerke in SA (GKSA) verbreek na aanleiding van ‘n Sinodebesluit waarvolgens vroue nie tot die dienste van ouderling en predikant toegelaat mag word nie. Daardie besluit is geneem op grond van die vrees dat enige aanspraak van ‘n vrou om geroep te wees tot hierdie dienste eerder die gevolg is van ‘n huidige tydsgees se invloed op die verstaan van die Bybel. Dít in weerwil van ‘n rapport deur Bybelkundiges opgestel, wat reeds in 1988 by die GKSA aanbeveel het dat daar in beginsel geen sodanige verbod hoef te wees nie. Maar omdat daar nie ‘n teksversie is waarop ‘n beroep gedoen kan word vir die oopstel van alle dienste nie, saam met die vrees vir die invloed van die tydsgees op die verstaan van die Bybel, moet enige vrou in die GKSA wat haar geroepe voel as bedienaar van die Woord eerder herbesin oor die werklike oorsprong van daardie roeping.
Uit ‘n videogreep geneem tydens die Streeksinode en versprei op sosiale media, is dit opmerklik dat ‘n ‘teksversie’-teologie ook dreig om die Streeksinode Goudland gevange te hou. Dít terwyl enige student van tekste al vroeg kennismaak met die feit dat ‘n huidige konteks altyd ‘n invloed op ‘n leser se verstaan het. Dit is bloot deel van die kommunikasie- en verstaansprosesse wat prof. Bernard Combrink al in die vroeë 1980s aan sy studente op Stellenbosch geleer het.
Wat is die gevolg van die ontkenning van die eietydse invloed op ons verstaan van die Bybel, waarin ons glo ons die woorde van God hoor? Die gevolg is dat ons kies om vas te hou aan ‘n ouer tydgees se invloed op die verstaan van die teks. In die geval van die GKSA is dit ‘n vashou aan ‘n verouderde tydgees waarin vroue ten beste tweedeklas burgers was. In die geval van die beswaarde deel van die Streeksinode Goudland is dit ‘n pre-1968 tydgees waarin homoseksualiteit in wese gekriminaliseer was. As interpreteerders van die teks kan ons onsself net losmaak van ons eie konteks indien ons wil hê dat ons verstaan van die Bybel vir ‘n huidige era nie moet sin maak nie, en die boodskap dus irrelevant word.
Mense wat steeds wil vashou aan ‘n teksversie-teologie moet dalk besin oor hoe die besluit van die Algemene Sinode aansluit, of nie, by Spreuke 26:4-5. Dit bied ‘n (akkommoderende) antwoord op die vraag hoe ‘n mens op ‘n dwaas moet reageer en lui só: ‘Moenie ‘n dwaas se vraag op net so ‘n dwase manier beantwoord nie; hy sal dink jy is soos hy. Beantwoord ‘n dwaas se vraag op net so ‘n dwase manier, anders dink hy hy het wysheid.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Goudland: Quo Vadis?”

  1. Chael TerBlanche

    Die reformasie wat van ons gereformeerd maak was nog altyd dat Skrif Skrif verklaar. Dit bly een van die pilare wat van ons gereformeerd maak. Indien ons begin om eietydse invloed te gebruik om Skrif te verklaar dan beweeg ons op ‘n glybaan wat ons bring by ons huidige toestand in die Kerk waar ons nie net meer irrelevant raak nie, maar waar ons nie kan getuig “So sê die Here nie”. Ons kan nie soos Christus antwoord “daar staan geskrywe” toe Hy homself moes verdedig nie. Dit is die rede hoekom baie die Kerk wil verlaat en nie homoseksualitiet per se nie. Dit is net ‘n simptoom van hierdie probleem.

  2. Die Bybel moet in konteks gelees word. Die eerste vraag moet wees wat die boodskap was aan die oorspronklike ontvanger. Daarna kan die beginsel toegepas word op ons vandag. Die waarheid is dat mense nie oor tyd regtig verander het nie. Die kultuur wel. As iets sonde was vir die mense in daardie tyd, is dit nog sonde vir ons vandag. Die besware teen die Sinode se besluit is juis omdat mense voel dat die Bybel regdeur homoseksuele gedrag ten sterkste afkeur. Dis nie teksversie-teologie nie. Net omdat iemand na ‘n teksvers of Bybelgedeelte verwys, beteken nie dat daar nie na die konteks ook gekyk is nie. Daar moet ook gekyk word na wat die Bybel ons leer oor die huwelik en die familie. Want die invloed en druk van die LGBTIQ gemeenskap (nie net in die kerk nie) bedreig die huwelik en familie.

  3. Kirstein Combrink

    As gewone (ontnugterde) kerklidmaat en Christus-gelowige vind ek die komplekse redenasies van geleerdes dikwels meer verwarrend en selfs verdelend, anders as wat ek sou verwag van ‘n geloofsgemeenskap wat eensgesind behoort te wees onder die leiding van een Gees.

    Dit is geen wonder dat die moderamen (die geleerdes) hulleself vasgeloop het teen die Skrif wat nie hulle denkwyse ondersteun nie. Jesus het self gesê dat die Vader “hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het”.

    In God se ewige raadsplan het Hy die gesinstruktuur baie duidelik uiteengesit om die mens teen homself en sy drange te beskerm. Die moderne, alles insluitende humanistiese leefwyse wat die kerk vandag aanvaar en goedkeur is onversoenbaar met die onfeilbare Woord van God – en dit is duidelik rondom ons te sien in ‘n verdorwe samelewing.

    Verduidelik asseblief hoe selfdegeslagverbintenisse op grond van die Skrif gemotiveer word? Maw hoe kan dit (of gaan dit) voltrek word in die kerk?

    Ons bid dat die NG kerkverband deur die Here tot bekering en ‘n terugkeer na nederige onderwerping aan die leer van die Skrif gelei mag word.

Comments are closed.

Scroll to Top