Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Is daar nog plek in die kerk?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Jorina Redelinghuys van Sasolburg skryf: Ek het grootgeword met kwaai dominees. Dominees wat alles geweet het. Wanneer hulle gepraat het, het ander geluister. Kwaai dominees met wie jy nie moeilikheid soek nie… Mààr wanneer hulle geglimlag het, het jy God se lig in hulle gesien. ‘n Glimlag wat jy kan vertrou, van opregtheid, omgee, ‘n belofte van ondersteuning.

Die laaste paar dae luister ek hoe hierdie dominees (wie my voorbeeld is, wie my mentors is) wie so lief is vir hierdie (NG) kerk moedeloos uitsien na hulle aftrede (sommige kan selfs dae vir jou gee). Dominees wat my bemoedig het deur my studies en deur die wag vir n beroep het nie meer moed nie.
Dominees wat my as klein dogtertjie, as tiener, as student, as proponent, as dominee laat deel wees het van die kerk, voel nie meer deel nie…

Hulle standpunte is nie die probleem nie. Hulle sienings en hulle hermeneutiese bril is nie die probleem nie, maar wel die valse glimlagte, die “ek-is-reg-en-jy-nie”- houding.

Dit maak nie saak hoeveel haweloses jy help, saam met hoeveel families jy al gehuil, gelag en gereis het nie en maak nie saak hoeveel preke en boodskappe van God jy gehoorsaam oorgedra het, sodat dit iemand kon raak nie en nader aan God bring nie, want “as jy nie (oor die enkele saak) dink soos ek nie, is hier nie plek vir jou nie …”

As daar nie meer plek is vir soveel “ander” (die oues, die jonges, die liberales, die fundamentaliste, die 2015s, die 2016s) nie, is daar dan nog plek vir enigeen in die kerk?
Is daar ooit nog plek vir God?

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Is daar nog plek in die kerk?”

  1. Hallo Jorina, jy spreek ‘n hartseer ding aan. Ek dink as jy kan sê “so spreek die Here Here” het jy die kans om “reg” te wees, maar as jy eers begin filofiseer en buite bronne en mense begin aanhaal om jou standpunt te regverdig, het jy my verloor. In so ‘n geval is daar net WIT of SWART en nie plek vir grys gebiede nie.
    As mens in albei standpunte skrif kan aanhaal, en slegs uit die Bybel, dan kan mens met ander oë kyk en ernstig oorweeg of jou vertolking dalk verkeerd kan wees. Tot dan toe is die persoon wat die Woord van God kan aanhaal, reg.
    As jy eers begin toegewings maak terwille van die sondaar vs wat God eis in Sy Woord, beland jy in die sop. God aanvaar nie die sonde terwille van die sondaar nie. Sonde Moet gestraf word en net een persoon gaan daarvoor betaal, die sondaar of Christus. As jy staatmaak op Christus kan jy nie verby I Joh 1: 8 kom nie, nl eers bely dan vergifnis. Mens kan nie sommige sondes wil oorsien terwille van die mens nie. Bely dit en kry vergifnis. As ek net dink aan al die sondes waarmee ek gebore is, sidder ek. Die feit dat ek met dit gebore is verskoon my nie, steeds moet ek bely om vrygespreek te word.
    God het die sondaar lief maar haat die sonde…. so moet ons ook wees.

Comments are closed.

Scroll to Top