Toets en weeg ou en nuwe teologieë

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Prof Sybrand Strauss (emeritus), skryf:

Tristan Kapp, ’n finalejaar teologiestudent, skryf ’n belangrike brief aan Kerkbode van 12 November 2019. Ek lig net een punt daarvan uit. Hy verwerp die “fundamentalistiese siening” dat die Bybel die “letterlike Woord van God” is. Bybelse geskrifte is immers “denke, gevoelens, idees, stories en poësie uit ’n antieke konteks wat anders gedink en geredeneer het as ons.” Die “meeste van die Bybelse etiek is uitgedateer en kan nie op die moderne samelewing afge­dwing word nie”.

Met hierdie uitspraak plaas Kapp ons direk in die kern van die huidige debat. Myns insiens is die eintlike saak waarom dit gaan nie selfdegeslagverhou­dings en so meer nie, maar die Skrifbe­skouing. Kapp gee ’n helder definisie van sy postmoderne of liberale Skrifbe­skouing. So ’n nuwerwetse Skrifbeskouing is nodig, want allerlei nuwe dogmatiese leerstellings en nuwe etiese rig­lyne moet mos nou uit die Bybel bewys kan word … Vir baie van ons is dit egter onmoontlik om die pad te bewandel.

En so kom ons dan in twee kampe teenoor mekaar te staan. Die konflik sal ook nie opgelos word deur te beweer dat die verskillende groepe “erns maak met die Bybel as die Woord van God” nie (vgl Verklaring van die ASM, 13 November 2019). Dit gaan hier nie net om verskillende akademiese of teologiese opinies nie. Dié saak raak ons geloof, dit wat ons voor God en die mense bely as ons diepste oortuiging.

Beteken dit nou dat die behoudendes almal fundamentaliste is? Nee, gelukkig nie. Naas fundamentalisme en moder­nisme is daar nog ’n derde moontlikheid: “’n konfessioneel-gereformeerde stand­punt, waarby die aanvaarding van die gesag van die Skrif voorop gestel word” (WD Jonker). Die beproefde uitgangspunt is nie ’n ideologie nie; dit is ’n diepe oortuiging, ’n geloofsbelydenis op grond van die getuienis van die Heilige Gees (NGB Art 5). Dit handhaaf die reformatoriese sola Scriptura: “dié waarheid is bo alles” (NGB Art 7). In die lig daarvan kan en moet alle ou en nuwe teologieë getoets en geweeg word. Het Kapp se professore dit dan nie vir hulle studente geleer nie?