Uit Kerkbode se argief*: Onder bevel van Mevrou Nel
Ons jonger dominees stap dikwels met groot opgewondenheid in ’n gemeente in, begin werk en wil sommer ook aan die strukture verander. In die proses vergeet ons dikwels wie die “bouers” is van al die pragtige geboue, waaruit baie goeie werk in die NG Kerk, gemeenskappe en koninkryk gebeur.
So word ek toe aan die begin van Februarie 2014 in La Rochelle-gemeente in die Wes-Kaap bevestig. Vir die Kaap is dit nog ’n baie jong gemeente, maar omdat 40 so ’n groot simboliese getal in die Bybel is, het ons besluit om gróót fees te vier. Veertig is ook immers in jou eie lewe hierdie “ek-is-nou-regtig-groot”-ouderdom!
Ek het besluit om die gemeente se kerkraadsnotules deur te lees en te kyk wat die afgelope 40 jaar gebeur het. Ons is nog so gelukkig dat daar van die stigterslede in ons gemeente woon. Ek wou die “anderste” stories probeer ontdek. Daar was egter een goue draad – ene Mevrou Nel en ’n groot gebakkery! In die een huis na die ander het ek dieselfde verhaal oor en oor gehoor.
Ds Coligny Nel het in die NG Kerk as ’n “kerkbouer” bekend gestaan. Gedurende sy ampstermyn het hy twee pastorieë, ’n kerksaal, drie kerkgeboue en ’n afdeling vir verswakte bejaardes gebou.
In La Rochelle het mevrou Nel die susters van die gemeente georganiseer om te bak ten einde vir die kerkgebou en die eerste pastorie te help betaal. En vra jy enige gemeentelid uit die sewentigerjare skud man en vrou hulle kop in bevestiging. “Sy het ons óp gebak”, maar almal sê dit met ’n glimlag op hulle gesig.
Maar niemand het geweet wat haar naam was nie, sy was vir almal net mevrou Nel. Na ’n lang speurtog, het ek uitgevind dat mevrou Nel se regte naam Meida was, en haar nooiensvan De Villiers. Sy was die tannie van prof Piet Strauss, ’n vorige moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode.
Die destydse Vrouediens is georganiseer om koeke en melkterte te bak en in Ou Paarlweg te verkoop. ’n Ander groep vroue het onder bevel van mevrou Nel kos vir die destydse Volkskas en Sanlam gekook – volgens presiese resepte waarvan jy nie durf afgewyk het nie. Tannie Yvonne Scheepers vertel hoe hulle Saterdagnagte, na ’n funksie, teen middernag by die kerkgebou opgedaag het, dan nog skottelgoed gewas het, net om die volgende oggend weer getrou in die erediens te sit!
Dr Pierre Goosen, die tweede predikant van die gemeente, vertel hoe hulle as groentjies in La Rochelle aangeland het en hoe sy vrou, Carol, onmiddellik opgekommandeer is om die koektafel by die basaar te organiseer. Carol sê toe ja, as mevrou Nel tien melkterte sal bak! Min wetende dat melkterte mevrou Nel se forté was!
Mevrou Nel het die uitdaging met grasie aanvaar en Carol het geoefen en geoefen totdat daardie koeke vir die verkoping volmaak was en Pierre later moedeloos was!
Hoekom is hierdie storie (steeds) vir ons belangrik?
Daar was baie Mevrou Nelle in die kerk. Hulle het gebak en gekook en só is menige kerkgeboue betaal. Vroue het in ’n tyd waarin hulle nie die Woord mag verkondig het nie, op ’n ander manier bakens van die Woord opgerig. Hulle het dit aand na aand, Saterdag na Saterdag, basaar na basaar gedoen.
Daar was ’n tyd wat ons dalk in opstand teen die gebak-en-gebrou gekom het, wat ons as vroue gesê het, “maar ons is nie net hier om te bak en brou” nie. Vandag kan ek op ‘n kansel staan en die Woord verkondig omdat daar iewers toe ek nog letterlik bokstertjies in graad een gehad het, ’n Mevrou Nel was wat melkterte gebak het om ’n pastorie en kerkgebou te betaal. Dit was haar passie haar roeping en sy het dit met vreugde en toewyding gedoen. Só is vele kerkgeboue in ons land deur koeksisters, koekverkopings, basaars, eiergeld, rommelverkopings en ander vroue-inisiatiewe betaal.
Dankie, mev Meida Nel en geslagte vroue wat op ’n ander manier die “trommel” in die hand gehad het sodat ons vandag weer kerk kan wees op die manier wat die Here nóú van ons vra! Dit is goed om soms terug te kyk en te onthou …
Mevrou Nel se melktertresep
Op soek na mevrou Nel se oorspronklike melktertresep het ek een aand ses oproepe gemaak om by haar een dogter in Johannesburg uit te kom en half versigtig gevra of sy haar ma se melktertresep nog het.
Sy het met groot vreugde die melktertresep met La Rochelle gedeel … en vertel dat haar ma haar tweeling met toutjies aan die kombuistafel se pote vasgebind het sodat sy hulle kon dophou terwyl sy haar melkterte gebak het!
BESTANDDELE
(Onthou hierdie is genoeg vir twee melkterte)
1 liter melk
6 eiers geskei
3 opgehoopte eetlepels meelblom (maar dit was ordentlike lepels!)
’n hopie sout (jy meet dit met die hand af, dus so 2 teelepels)
¾ koppie suiker
Amandelgeursel
METODE
- Kook twee derdes van die melk.
- Klits die geel van die eiers, die sout, die amandelgeursel en die gesifte meel by die orige melk.
- Roer die eiermengsel deur ‘n sif by die gekookte melk.
- Voeg die suiker by.
- Klits die wit van die eiers styf (maar nie te styf nie!).
- Vou dit by bogenoemde mengsel in.
- Skep in panne met dun skilferkorsdeeg (Deesdae sal ons die skilferkorsdeeg by die plaaslike supermark koop, maar glo my vry, mevrou Nel sou haar eie skilferkorsdeeg aangemaak het!)
- Bak vir 10 minute teen 400°F (sowat 200 grade Celsius) en vir nog 10 tot 15 minute teen 180°Celcius.
*Hierdie artikel het oorspronklik in die Kerkbode van 21 November 2014 verskyn.

Mev Nel se naam was Maida. Sy het ook kore afgerig kinderkrans gegee bidure en bybelstudies gehou . Saans het sy ons , haar 6 kinders die Bybel voorgelees en jou deeglikngekatkiseer oor die inhoud. Sy het sang onderrig gehad in Wene by professor Hirtorf en het haar talent in haar bediening. Sy was waarlik n vrou wat haar talente gebruik het vir haar Here