Wellington-gemeente se jaartema het uiteindelik daarin geslaag om 1 200 mense in die hoofstraat van ’n Bolandse dorp te laat saam kuier.
Die Wellington Moedergemeente se doel was om lidmate weer om die tafel te kry en so is #aantafel as hulle jaartema vir 2019 gekies, het ds Lettie Büchner, leraar van die gemeente, vertel. Later het hulle van ’n gemeenskapsete begin droom om die jaar mee af te sluit, maar het nie geweet of dit moontlik sou wees nie.
Maar een kerkafkondiging later en twee lidmate het hande opgesteek om die reuse-ete vir sowat 1 200 mense ’n moontlikheid te maak.
Xania van der Merwe, ’n kenner in die toerismebedryf, het voorgevat as organiseerder. Van der Merwe het tafels aan sakeondernemings en individue in Wellington “verkoop”.
Die idee van die ete was om mense na jou tafel te nooi wat nie gewoonlik by jou aansit nie. Elra Smit het as individu ’n tafel se kaartjies gekoop. Sy sê sy wou graag buite haar “comfort zone” beweeg en het daarom Richard Jarare en sy vrou Babra, wat oorspronklik van Zimbabwe is, genooi. Elra het Richard by Pick n Pay ontmoet waar hy die afgelope paar jaar ’n werknemer is. Die ander gaste was Elra se man, Hendrik-Jan, haar seun Janré en ’n klompie van sy vriende. ’n Paar tafels verder het ’n selgroep van die Oos-gemeente in Wellington saamgekuier. Hulle het twee Malawiërs saamgenooi. Moses Bexter (29) is een van die selgroeplede se tuinier en hy het sy suster Lindiwe Bexter saamgebring.
Die 1 200 gaste is op 4 Desember met ’n driegangmaaltyd bedien. Bertus Fourie, ’n sjef, was die ander lidmaat wat ’n sleutelpersoon was om van die aand ’n sukses te maak en 30 jong kelners het die tafels bedien.
Krag van temas
Ds Fay van Eeden van die NG gemeente Stellastraat sê dat hulle nie soos baie ander gemeentes jaartemas gebruik nie. “Ons gebruik ons gemeente se waardes as riglyn en laat ons lei deur die kerkjaar en ons preekrooster.”
