Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
Vakature: Medeleraar (Voltydse pos)
Sluitingsdatum: 13 Maart 2020
Die kerkraad wag in biddende afhanklikheid van die Here aansoeke in vir die pos van bedienaar van die Woord vir die gemeente Montagu.
Gemeenteprofiel
Montagu gemeente is 165 jaar oud en is in die Ring van Swellendam. Die gemeente bedien dorp en omliggende plase se lidmate asook die breër gemeenskap. Die Koo-vallei word bedien deur 14 buite dienste per jaar en Baden-Bad vakansie-oord word bedien met bidure en spesiale dienste soos Kersdag-diens. Die dorp het goeie skole en ’n ouetehuis.
Daar is 1 088 belydende en 209 dooplidmate, met 674 besoekpunte. 60% van die lidmate is ouer as 60 jaar, maar daar is ook ’n baie sterk groep jonger gesinne.
Ons is ’n geloofsfamilie wat deur God geroep is om as sy gestuurdes, in diepe afhanklikheid van Hom, ’n verskil te maak in die diversiteit van ons gemeente en die gemeenskap. Ons fokus in die erediens om die Woord op ’n vernuwende styl te bedien.
Leraarsprofiel
Die volgende vereistes is van besondere belang met die oog op ’n beroep:
- Gewone predikantspligte volgens Artikel 9 van die Kerkorde.
- Besondere klem op die suiwerheid van die Woord en leer soos vervat in die Woord en die Kerk se belydenisskrifte met die vermoë om aktueel en dinamies te preek vir alle ouderdomme.
- Iemand wat oortuig is dat hy/sy geroep is deur God om in die bediening te wees en wat sy/haar verhouding met God sigbaar uitleef.
- Die leraar moet ’n persoon wees met kreatiewe en vernuwende denke (met respek vir tradisies) en ’n passie vir die diversiteit van ’n plattelandse gemeente.
- Liefde vir lidmate van alle ouderdomsgroepe en die vermoë om in spanverband met die medeleraar te kan funksioneer.
- ’n Persoon wat lidmate besoek, veral in hulle nood en siekte, asook nuwe intrekkers.
- Moet lidmate pastoraal kan bedien met die nodige kennis en ervaring.
- Moet belangstel en betrokke wees by die aktiwiteite van die gemeente.
- Die leraar moet bereid wees om die volle spektrum van die bediening te hanteer, maar daar sal gepoog word om die leraar sover moontlik ooreenkomstig die leraar se gawes en belangstellings aan te wend.
- Iemand wat oor multimedia-vaardighede beskik.
Vergoedingspakket
Salaris, mediesefondsbydrae, pensioenbydrae, kommunikasie- en reistoelaag volgens sinodale skaal.
Die gemeente beskik nie oor ’n pastorie nie, maar wel ’n behuisingstoelaag. Daar word verwag dat die leraar in Montagu moet woon.
Aansoeke
CV, wat bedieningsvoorkeure duidelik aantoon en die besonderhede van minstens drie referente.
Kandidate wat die kortlys haal, sal gekontak word. Kandidate moet ook bereid wees om vir ’n onderhoud en proefpreek na Montagu te kom.
Stuur aansoeke aan: vakature@ngkmontagu.org
Sluitingsdatum: 13 Maart 2020.
Diensaanvaarding: So spoedig moontlik (of soos onderhandel).
Navrae: Pre-Advies voorsitter: Dawie van Deventer (082 774 8548).
Leraar: Dr Hannes Ries (072 551 6677).
Die kerkraad behou hom die reg voor om nie ’n beroep uit te bring nie.
