Die getuienis van ’n oud-Pollsmoor-gevangene op die voorstedelike treine in Kaapstad is stil.
Roy Stamper, wat die afgelope 13 jaar vir Arbeidsbediening in die Wes-Kaap as geestelike werker op die treine gewerk het, het skielik op 14 Januarie op 47-jarige ouderdom gesterf.
Volgens Carin Brink, streeksbestuurder van Arbeidsbediening in die Wes-Kaap, is hy gehospitaliseer na vreeslike maagpyn wat vermoedelik sy blindederm was, maar sy is nie seker wat tot sy dood gelei het nie.
“Dit was en is vir ons ’n groot skok en beslis ’n groot verlies,” het Brink by navraag gesê.
Brink, wat deel was van Stamper se destydse aanstelling nadat ’n werknemer hom op ’n trein sy getuienis hoor deel het, sê: “Die lewe is net te kort. Ek is so bly dat ek weet hy is gered en het sy kanse in die lewe met ope arms aangegryp!”
Brink het in 2016 aan Kerkbode gesê dat sy aanvanklik skepties was om iemand wat onlangs in die tronk was aan te stel. Stamper was egter in daardie stadium reeds drie jaar besig met bediening op die treine in die Kaapse Metropool, sonder betaling.
Sy het vertel dat een ding wat Stamper vir haar en wyle dr Johan Botha gesê het, hulle oortuig het van sy aanstelling: ‘Mevrou, ek het op pad na die onderhoud geworstel met die feit of ek julle moet vertel waar ek vandaan kom en wat my storie is, want dan gaan julle my nie aanstel nie. Die Heilige Gees het my egter oortuig om eerlik te wees …”
Stamper word oorleef deur sy vrou Cheryl, wat hy destyds in Pollsmoor ontmoet het, dogter Tina en stiefdogter Tozama.
’n Gedenkdiens vir Stamper het op 25 Januarie plaasgevind.
Lees Stamper se merkwaardige getuienis.
