Gesoek: Toegewyde gelowiges (Mal 1)

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Maleagi speel teen die sosio-ekonomiese en politiese kon­flikte van die na-ballingskapse Judese gemeenskap in Jerusalem af (Persiese tyd – 539-333 vC). Dié date­ring word onder meer uit Maleagi 1:8 afgelei, waar daar sprake van ’n goewerneur is, terwyl gedeeltes soos 1:7, 10 en 3:1, 10 die indruk skep dat die tempel, wat in 515 vC ingewy is, reeds weer in gebruik was. Dit staan ook bekend as die Tweede Tempelperiode.

Die geloofsgemeenskap is moede­loos. Geen een van die profete se uitsprake of hulle drome is verwesenlik nie. Hulle is ’n oorwonne volk, onder vreemde heerskappy in hulle eie land waar hulle swaar belasting aan ’n vreem­de regering moet betaal. Hulle eie gemeenskap is een van partyskappe en twis en ekonomies kom min van hulle die mas op. Dit waarin hulle nog altyd geglo het, naamlik die tempel van die Here, Jerusalem die ewige stad en die Dawidiese koning is ondermyn. Waar is daar nog enigsins sin in geloof?

Die gevolge van teleurgestelde verwagtings en teenspoed, werk deur na die godsdiensoefening van die gemeenskap. Hulle was nie meer so toegewyd in hulle diens aan die Here nie en het maar eerder op hulle eie belange en dié van hulle onmiddellike kring gefokus. Die tempelpersoneel het in hulle toewyding verslap (1:6-8, 13; 2:1, 8), die volk in die bring van hulle tiende (3:10) terwyl daar sosiale verdrukking (3:5) was. Ons kan sê dat ons in Maleagi te doen het met ’n volk wat na hulle uiterlike omstandighede gekyk het, daaruit afgelei het dat God hulle nie meer lief het nie en gevolglik het elkeen maar net na sy eie belange begin omsien.

Maleagi 1 beklemtoon God se liefde. Die liefde word nie deur gunstige omstandighede bevestig nie, maar deur die verhouding wat die Here met sy volk het. Daarvan is sy verbond met hulle ’n teken. Hierdie verbondsverhouding moet hulle lewe rig en hulle sal beleef dat die Here naby is. Die volk sien dit egter nie so nie en vra “Hoe het u ons lief?”.

Die Here sien dinge egter anders. Daar is ’n rede waarom hulle nie bewustelik vanuit God se liefde leef nie (vv 6-8). Dit is mos so dat hulle God “Va­der” (Jes 63:16) en “Here” (Ps 134:1) noem, nie waar nie? Ja, dit is so. Nou maar, waar is die eerbied en respek dan vir Hom, wil die Here by sy mense weet?

Ja, hulle beoefen nog hulle gods­diens. Hulle bid en offer nog, maar hoe staan dit ten opsigte van die ingesteldheid van hulle diens aan die Here? Hulle bring lam en siek diere, die oorblyfsel van die oes as offers. Dit gaan nie oor die offers of die aard daarvan as sodanig nie. Dit gaan om gelowiges se gesindheid wat uit hulle halfhartige godsdiens uitstraal, naamlik ’n minagting vir God.

Skyngodsdiens, geloof sonder toewy­ding laat ’n gemeenskap disintegreer, nie teleurgestelde verwagtings of moeilike politieke en ekonomiese omstandighede nie.

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.