‘Vertrou my getuienis’

Dis ’n jaar sedert Louis van der Riet in die NG Kerk bevestig is. Conette le Roux het met hom gaan gesels oor versoening, begrafnisse en seksua­liteit.


Louis van der Riet gesels oor ’n koppie filterkoffie in die grys baksteenkerkgebou in Kraaifontein oor die pad wat hy die afgelope jaar ge­stap het.

Op 17 Februarie 2019 was hy die eer­ste openlike gay man wat in ’n NG gemeente as leraar bevestig is.

Presies ’n jaar later het Louis op Face­book, saam met foto’s van die ge­leentheid, geskryf: “Maklik die mees betekenisvolle dag van my lewe.”

Sedert die toga om Louis se skouers gehang is, het vele gay mense regoor die land na hom uitgereik. Hy verduidelik: “Al weet jy iemand is pro-gay is dit ontsettend waardevol om met iemand te praat wat jou werklik verstaan omdat hy ook dieselfde pad stap.”

Gay-lidmate wat die NG Kerk verlaat het, het Louis gekontak met die behoef­te om in gesprek te tree, vertel hy. Die pastorale gesprekke, vertel Louis, het meestal op die einste gemakstoele voor in die kerk plaasgevind waar ons van­dag sit. Die kerkkantoor oorkant die pad het nie ’n privaat ruimte hiervoor nie, verduidelik hy.

Die dag van ons gesprek is ’n jong Kaapse paartjie wat deur ’n trou-venue van Stanford buite Hermanus wegge­wys is as gevolg van hulle seksualiteit, steeds groot nuus in die media. Louis vertel hy het dit as sy plig gesien om ’n private Facebookboodskap aan hulle te stuur om te kommunikeer dat daar Christene en kerke is wat hulle sal verwelkom. Ook dat daar leraars is wat hulle sal trou. “Hulle het teruggekom en laat weet dat hulle my boodskap baie waardeer het,” sê Louis.

Die paartjie het die venue by die gelykheidshof aangegee. Hieroor sê hy: “Dit gaan nie vir my oor die hofsaak nie. Dit gaan maar meer oor bewustheid. Dit dra by tot die skep van die kultuur van nie-diskriminasie.”

Maar Louis sê hy is allermins ’n aktivis en wil eerder in sulke gevalle ’n rol van fasiliteerder speel. “As ek in my bediening mense kan help om tot hulle reg te kom, is ek tevrede. Of dit nou armoede is, of mense wat hulle seksualiteit kan uitleef. Ek sien my bediening as ’n be­die­ning van versoening.” Daarom is hy ook voorsitter van die taakspan vir ras en versoening en lid van die genderge­regtigheid-taakspan in die Wes-Kaap.

Terwyl Louis gesels dink hy diep en weeg elke woord versigtig op. Hoe het hy sy bediening in Parke-gemeente er­vaar?

“Ek is baie vinnig ingenooi en uiters gasvry behandel,” sê hy.

Hy gesels oor hoe ’n groep vroue, wat daagliks hulle tyd gee om mense in nood te help, vir hom ’n groot “leerkurwe” was en hom in aanraking met die nood in die gemeenskap gebring het. “Ek het geleer watter uitdagings ’n tekort aan finansiële sekuriteit vir mense in ons omgewing bied. Ek dink klassisme is oor die algemeen nie ’n lens waaroor ons in die kerk genoeg praat nie.”

Verder was begrafnisse vir hom “snaaks genoeg” uiters waardevol. “Om in daai venstertydperk ingelaat te kon word in die intimiteit van mense se verhouding was waardevol,” onthou Louis. En dan was daar die belydenisklas. “Ek het dit geniet om ’n pad met ’n groep jongmense te stap.”

Wanneer hy nie by die gemeente betrokke is nie lees Louis meestal outobiografieë en teologiese boeke. Hiervoor het hy nou meer tyd vandat hy sy PhD-proefskrif ingehandig het, mymer hy.

‘Nogtans welkom’

Sy blyplek is by Anatoth, ’n retraiteplaas so 10 km vanaf die kerkgebou in Kraaifontein met Tafelberg aan die een kant en die Bolandse berge en Bottelary-heuwels aan die ander kant. Louis hoop om in die toekoms geleent­hede hier te fasiliteer.

Terug by Louis se gemeentebedie­ning verduidelik hy sy seksualiteit is op twee maniere ontvang. “Party lidmate het net voortgegaan asof my seksualiteit geen verskil maak nie. ’n Ander het weer eksplisiet gesê: ‘Jy is so welkom hier. My man is ook welkom en hy is ’n alkoholis.’ Dit is baie vreemd. Die persoon klassifiseer my gaywees ’n sonde. Maar nogtans is ek welkom.

“Dan moes ek dit maar vat. Ek kan die persoon nie educate in daardie oomblik nie. Dis nogal sleg vir my.”

Louis verduidelik hulle gemeente het doelbewus na sy bevestiging nie die ge­sprek oor seksualiteit “oopgemaak” nie.

“Ek dink dit was maar om my te beskerm. Om my nie te brandmerk nie. En om kans te gee dat gesprekke organies en met vertroue kan geskied. Ek dink dit was vir my kollega Charl (Stander) ’n uitdagende jaar. Ek het ’n groot waardering vir sy leiding, deernis en geduld met lidmate van alle oortui­gings. Sommige kerkraadslede het be­sluit om nie meer te dien nie of het die gemeente verlaat. Maar miskien is ons gemeente nou op ’n plek om so ’n ge­sprek te kan hê,” aldus Louis.

“Ek dink so ’n gesprek moet wyer as net oor gaywees gevat word. Dit moet oor spiritualiteit en seksualiteit in die breë gaan. Ek dink ons het behep geraak met die selfdegeslaggesprek omdat ons nooit mense die ruimte gee om oor seks en seksualiteit in die kerk te gesels nie. Ons praat ook eerder óór iemand as mét iemand,” verduidelik Louis.

“Die feit dat daar geen gay mense aan die woord was by die Algemene Sinode nie, is uiters problematies. Ek het myself aangebied om daar te wees, maar almal se verskoning was net dat die sisteem dit nie toelaat nie. So ’n gesprek kan slegs sinvol wees as gay mense self teenwoordig en bemagtig is.”

Hy vertel hoe hy, Stefan de Klerk en Frederick Marais die vorige aand na die NG gem Bredasdorp genooi was vir so ’n gesprek. “Dit was uiters sinvol. As gemeentes hieroor wil praat moet hulle dit saam met mense doen wat gay is. Ons moet na mekaar se getuienisse luister.”

Maar dít, sê Louis, is iets wat selfs mense wat veg vir gay-regte nie altyd verstaan nie.

Hy skets die prentjie: “Dit sal vandag vreemd wees as ’n kerkvergadering met slegs mans ’n besluit moet neem oor vroue. Selfs met die Bybel oop voor hulle. Dieselfde logika geld nog nie vir seksualiteit nie.

“My wens is dat mense sal ophou om voorskriftelik te wees oor wat gesond is vir my of vir ander gay mense en die integriteit van my getuienis sal vertrou. Ek is nie ’n aktivis of vegter vir ’n standpunt wat ek êrens gaan haal het nie. Ek kies om geïntegreerd, belydend en eerlik te leef in my vel. Daar is waarheid in my lyf. Dít is hoe ek die Woord verstaan.”

Word 'n vriend van Kerkbode