Was hierdie belydenisse genoeg?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dit is Woensdagoggend. Soos elke Woensdag sluit Johannes sewe uur die kleinhekkie oop om in die tuin te kom werk. Hy dra ’n hemp wat vaal gewas is. Sy broek het ’n skeur op die knie en sy skoene is nommers te groot. Op sy rug is ’n rugsak wat eens die trotse eiendom van ’n eerste­spannet­balspeler van ’n bekende hoërskool was. Voor hy begin werk kry hy ’n bord pap en melk en flou kitskoffie met baie sui­ker. Johannes drink mos nie die koffie van die duur koffiemaker in die kombuis nie … Waar sou Johannes ge­wees het en wat sou hy gedoen het as dit nie vir apartheid was nie? Sou hy dalk selfs koffie van ’n koffiemasjien waardeer het?

Dit is mense soos Johannes wat ons herinner aan die feit dat apartheid verkeerd en boos was – ’n verskroeide aar­de­beleid teen die mense van die land – het Nelson Mandela dit in 1994 voor die Algemene Sinode van die NGK ge­noem. Daarom moes en het die NGK sy aandeel daarin bely. Stotterend in 1986 met Kerk en Samelewing, ’n bietjie dui­deliker in 1990 met die hersiening van Kerk en Samelewing en in soveel woorde deur die belydenis van prof Willie Jon­ker tydens die Rustenburgberaad van 1990. Jonker het gesê: I confess before you and before the Lord, not only my own sin and guilt, and my personal responsibility for the political, social, economic and structural wrongs that have been done to many of you and the results of which you and our whole country are still suffering from, but vicariously I dare also to do that in the name of the DRC of which I am a member, and for the Afrikaner people as a whole.”

Die belydenis van Jonker is in 1997 opgevolg met die publikasie Die verhaal van die NGK se reis met apartheid (1960-1994) – ’n getuienis en ’n belydenis en die destydse moderator, ds Freek Swa­ne­poel se getuienis voor die Waarheids- en Versoeningskommissie op 19 No­vem­ber 1997. Swanepoel het oor die onreg van die verlede gesê dat die NGK om verskoning vra en het erken dat sy stem van protes en van deernis tydens die apartheidsjare te sag was. In reaksie het Aartsbiskop Desmond Tutu onder meer gesê: “Ek het lus om vir die duiwel te sê: ‘Pas op hier kom die NGK!’”

Die groot vraag in 2020 is of die belydenisse van die verlede genoeg was. Het dit enigsins gehelp om die lewe van Johannes te verander? Op die laaste Woensdag van die maand sal Johannes weer om presies sewe uur die hekkie oopmaak. Saam met sy kos sal hy R1 200 vir sy maand se werk kry – en ’n beker flou koffie met baie suiker.

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

2 thoughts on “Was hierdie belydenisse genoeg?

  1. Pieter Steyn says:

    As ons 70×7 die wat teen ons sondig moet vergewe, hoeveel te meer sal ons nie 70×7 wil bely as ons teen ons naaste gesondig het nie! So wanneer is dit genoeg?

  2. Burger Visser says:

    Was hierdie belydenisse genoeg …
    En HET ek hiermee gesukkel . Die krummels van verdeeldheid nog steeds in my sakke, maar deur Genade kom ek skoon.

    Die nalatenskap van selfvernederende onderdanigheid deur mense van kleur uit daardie era is eintlik hardverskeurend. Die stories van seer en vernedering wat saans in die lokasies oor vertel word aan die jongeres en dan wonder ons hoekom is hulle rebels en brand af.

    Geen instelling kan namens my in God se teenwoordigheid ingaan om te bely nie. Die kerk as instelling kan ook nie namens homself bely nie. Hy het nie ʼn siel nie. Geen denominasie word gered nie en verteenwoordig baie keer net die manifestering van verdeeldheid en hoogmoed , toegetrek onder “ goeie” redes.

    Die kerk skuld Suid Afrikaners wie hulle geestelike gesag vertrou het, ʼn eerlike verduideliking hoe dit gebeur het dat die besluit geneem was om die grootste sonde te ondersteun, die een van sielsvernietigende hoogmoed deur afsondering. Sou die kerk van mening wees dat hy Jesus eerste bo alles stel , het hy ʼn verantwoordelikheid om uit te reik en die mense wie verward en soekend tussen sy mure rond swerf, by te staan in ware belydenis.

    Ek kan net wonder oor die teologie en dogma wat oor dekades op kweekskole verkondig is en ook oor die mag wat so sterk was dat die geestelike korrupsie blind was vir studente en daarna in die bedienning. Dan draai my gedagtes by die uitverkiesing soos gesien deur Calvyn en geestelike volksmoord.

    Kerklidmate is meer behoudend en meer verdraagsaam as 25 jaar gelede , maar daar is nie nuut gevondenheid nie. Daar is nie definietiewe standpunt tussen leun en waarheid nie. Die kerk probeer weereens kompromieë aangaan tussen die leun en die waarheid . Die geestelike korrupsie kry net ʼn dikker laag suiker om.

    Het die leiers in kerk die guts om vreesloos onpopulêre vrae te konfronteer ? Oorheers die vrees vir die waarheid die waarheid ? Wie orkestreer die geestelike volksmoord in ons land ?

    Alles is geskep deur Jesus en vir Jesus deur ‘n sowereine God. Ons kan net aanbeweeg as daar ʼn punt van Jesus ontmoeting is. Daar waar mense hulself volkome ontbloot, sodat Jesus die leun kan openbaar en jy jou gebrokenheid en afhanklikheid besef. Daar waar genesing en redding plaasvind. Daar waar jy nuut gebore is en jy weet jy het lewe vir altyd.

    Die geestelike korrupsie van ons volk, die korrupsie wat omgesit is in haat en rondloop soos ʼn brullende leeu is besig om ons land te verskeur. Ons het baie groter probleme as Eskom, politiek en droogte, ons het verhoudings met Jesus probleme.

Comments are closed.