Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Oor die afgelope paar dae is Covid 19 of te wel die Koronavirus hoofnuus. Die eerste twee bevestigde gevalle is in Suid-Afrika aangemeld. Handreiniger en gesigmaskers is skielik so skaars soos die spreekwoordelike hoendertande – massapaniek dreig – en die NGK? Wel, die NGK het darem ook die nuus gehaal. Daar word immers met groot oorgawe en emosie gestry oor eenheid en die gesag van die Bybel. Vingers word gewys na sogenaamde dwaalleraars terwyl ander as fundamentaliste gekruisig word! So belangrik is die saak dat buitengewone sinodesittings op die horison wink. Ek wonder onwillekeurig hoeveel gemeentes van die kerk in ’n tyd soos hierdie praat oor hoe hulle ’n verskil sou kon maak indien ’n grootskaalse pandemie uitbreek.
Net meer as ’n honderd jaar gelede het ’n soortgelyke pandemie die wêreld geskud. Howard Phillips beskryf die gevolge van die Groot Griep van 1918 in Suid-Afrika soos volg: “Winkels, poskantore, banke, skole, howe en kerke het gesluit. Die treine en die trems het gestaan. Hospitale het ineengestort en mense is in tentdorpe versorg, tuis of glad nie. Boerdery het tot stilstand gekom.” Die prentjie word nog donkerder: “Daar is op hele huishoudings afgekom wat dae lank dood in hulle beddens gelê het. Perdewaens het deur die strate gery met die dooies in komberse toegedraai om hulle in massagrafte te gaan begrawe. Mense het medisyne gedrink wat geen snars gehelp het nie, hoewel hulle dit nie geweet het nie. Baie het waar hulle in lang toue by depots oor die hele land vir sop, brood of melk staan en wag het, op die plek dood neergeslaan. Dít was die Swart Oktober van 1918.” Phillips raam dat sowat 350 000 mense binne ses weke gesterf het en dat tot 4 miljoen van die land se 7 miljoen mense siek geword het.
Okert Stander van Oudtshoorn beskryf die gevolge van die pandemie in die plaaslike gemeenskap van Oudtshoorn soos volg: “Dié pandemie het ’n baie negatiewe invloed gehad op die sosiaal-maatskaplike omstandighede van die inwoners van Oudtshoorn, en vir die kerk en regering was die versorging van die persone in nood ’n groot uitdaging.”
Watter uitdaging hou die Covid 19-virus vir die NG Kerk en met name vir plaaslike gemeentes in? Is daar genoeg energie en visie om die geleenthede wat mag ontstaan aan te gryp en om ’n verskil te maak waar dit regtig saak maak? Net die tyd gaan leer. Miskien is dit presies wat die NG Kerk nodig het om vry te kom van die bisarre binnegevegte wat tans aan die gang is! Sê nou net ons lees in die komende weke in die media oor NG gemeentes wat slagoffers van die pandemie bystaan en ondersteun? Die tyd van wonderwerke is mos nog nie verby nie!
▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
