Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hoe lyk tuisbly vir diegene wat haweloos is? Hierdie foto wys hoe die tydelike slaapplek lyk vir van die 72 haweloses wat tans by ’n kampterrein buite Bloemfontein gehuisves word. Foto verskaf

Korona: Tente, kospakkies en noodplanne vir haweloses

Dis ’n krisis wat nie grense ken nie en verg ’n respons wat nie perke aan vindingrykheid stel nie, berig Conette le Roux oor die tentedorpe en ander omgeeplanne wat beraam word om die mees weerloses teen die Koronavirus te probeer beskerm.

“Toe die president nasionale lockdown aangekondig het, was daar meestal nêrens waar haweloses kon gaan lockdown nie.”

So vertel ds De la Harpe le Roux, besturende direkteur van Torings van hoop in Bloemfontein, wat onder andere ’n daaglikse sopkombuis vir haweloses bedryf.

Maar, sê Le Roux, gelukkig is daar mense soos Hennie Muller.

Sowat 40 km buite Bloemfontein huisves Muller 72 volwasse haweloses op sy kampterrein.

Volgens Muller is die 60 mans en 12 vroue medies ondersoek en kon geen Koronavirus-simptome onder die groep mense gevind word nie.

“Hulle is onder isolasie en die weermag en polisie help toesig hou. Isolasie beteken geen kontak met die buitewêreld nie, behalwe ek en twee helpers wat gereeld moet kos aankoop, want hulle eet verskriklik baie,” lag Muller. Om dit moontlik te maak ondersteun talle individue en organisasies hom.

Muller verduidelik die mense het vir die eerste ruk net ontspan en mekaar leer ken. “Verder is hier 12 mense van Victoria Outreach wat help met geestelike bediening soos die nood ontwikkel,” aldus Muller.

Ds Francois Smit, wat by PEN in Pretoria betrokke is, beaam dat ’n “lockdown” vir haweloses ’n groot probleem is.

“Vandat die besighede toegemaak het, het die kos wat daagliks gegee is, opgedroog. Die chroniese medisyne ook.”

Volgens Smit is hulle tans besig om ’n plek van veiligheid in die middestad van Pretoria reg te kry, daar is verskeie gemeentes wat help om klein groepies te huisves en in Burgerspark is hulle besig om tente vir sowat 200 mense op te rig.

Ds Scherlize Hayes, leraar van die NG gemeente Ysterplaat-Suid in Kaapstad, vertel hulle moes ook heelwat planne maak vir die inperkingtydperk omdat daar soveel weerloses in hulle gemeenskap is.

“Ons was veral bekommerd oor ons kinders wat meestal by die skool en daagliks by die kerk eet (onder normale omstandighede),” verduidelik Hayes.

Hayes sê: “Daarom het die gemeente saam met die laerskool 40 behoeftige gesinne geïdentifiseer en ’n lys van bejaardes saamgestel wat ook op Sassa-toelae lewe.”

Hayes verduidelik verder die aksieplan: “Ek, saam met vier vrywilligers, sal elke Maandag kospakkies (genoeg om sewe dae te hou) by die huise aflewer. Ons lewer ook saam met die kospakkies, aktiwiteitpakkies vir kinders af (klei-, inkleur- en uitknip-aktiwiteite, met Bybelstukkies), en tydskrifte vir bejaardes. Deur die week sal ek gemeentelede telefonies ‘besoek’ en ons lewer (omdat die meerderheid van ons gemeenskap nie toegang tot data en WiFi het nie), eredienste via WhatsApp en SMS.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top