Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Bid saam vir SA,’ vra Ramaphosa, NG Kerk

“Die een saak waarvoor gelowiges baie tyd gaan hê in die volgende 21 dae is gebed.”

Só het dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, op die vooraand van algehele inperking gesê en ook sy steun gegee vir ’n Nasionale Dag van Gebed.

“Daar (was) ’n oproep van president Cyril Ramaphosa om deel te wees van ’n nasionale gebedsgeleentheid. Die tyd wat vir hierdie gebedsgeleentheid voorgestel word, is 26 Maart 2020 vanaf 18:00 tot 18:30,” het Claassen in ’n brief aan NG predikante geskryf. “Die NG Kerk wil graag hieraan deelneem. ’n Beroep word gedoen dat elke gemeente, op watter manier ook al binne die voorgeskrewe maatreëls, daaraan sal meedoen.”

Claassen skryf verder: “Vir hierdie gebedsgeleentheid en vir die tyd vorentoe vra ons dat daar vir die volgende sake voorbidding gedoen sal word:

  • ons regering, regeringsamptenare en personeel in departemente.
  • almal wat sal werk om noodsaaklike dienste te lewer – mediese en verwante beroepe, sekuriteitsektor, kleinhandelsektor, bankwese, vervoer, en so meer.
  • mense wat die virus opgedoen het en familie wat daardeur geraak word.
  • die armste van die armes en dié wat liggaamlik meer blootgestel is aan die virus.”

Ramaphosa se beroep kom ná ’n vroeëre ontmoeting met geloofsleiers van reg oor die land. “Ons bevind ons in uitdagende tye,” het Ramaphosa vandeesweek in ’n verklaring gesê. “Daar is baie mense tussen ons wat bang, onseker en kwesbaar is. Ek roep mense op om te bid en te dink aan die beskerming en genesing van ons land en sy mense van hierdie virus.”

Lees ook: Gemeentes gebruik video-sendings om in kontak te bly

Claassen was vol lof vir die inisiatief, wat saamval met ’n reeks ingrypende maatreëls wat alle Suid-Afrikaners se wel en wee vir die volgende paar weke direk sal raak. “Die feit dat Ramaphosa die kerk as ’n belangrike rolspeler sien in die mobilisasie teen die verspreiding van COVID-19, is bemoedigend,” oordeel die kerkleier.

“Die inperking van individuele vryheid om rond te beweeg en te werk is vir ons ’n nuwe ervaring. COVID-19 is egter ’n geleentheid vir die kerk om te doen wat sy die beste doen – om mense in nood te bedien en hoop en lig te bring na donker plekke en omstandighede,” skryf Claassen. “Dit is ook ’n tyd om mekaar se hart aan te raak – deur wat ons sê, wat ons deel, wat ons doen en deur wat ons nie doen nie – en om die lewe te beskerm wat God so liefhet.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “‘Bid saam vir SA,’ vra Ramaphosa, NG Kerk”

  1. Ons 3 gaan bid. Ons Hemelse Vader verhoor altyd ons gebede Sy genade is groot.

Comments are closed.

Scroll to Top