Wenke vir virtuele pastoraat

Daar is ’n nuwe land wat ons almal betree. Ek hou daarvan om daaraan te dink as die land van die Korona-kuberruimte. En soos by enige land, kry ons ’n stempel vir elke grens waardeur ons beweeg. Die meeste van ons het al die Prediking-grenspos oorgesteek. Ons het geleer van Facebook live, Zoom-gesprekke en video-redigering. Maar nou moet ons deur die Pastoraat-grenspos beweeg.

Ek dink terug aan die eerste keer wat ek deur ’n grenspos gegaan het en die wenke wat ons vooraf ontvang het. Hierdie kort bydrae poog om ’n paar wenke te gee vir die oorsteek van die Pastoraat-grenspos om uiteindelik die bediening in die land van die Korona-kuberruimte te betree.

  1. Kies jou eie roete (virtuele platform)

As ek in ’n nuwe, onbekende land reis, dink ek mooi oor my roete. Waar ek nie ’n roete kan ry wat ek goed ken nie, kies ek een wat ek vooraf kon bestudeer of ek maak van ’n GPS gebruik. Net so wil ek jou aanmoedig om ’n virtuele platform te kies waarmee jy gemaklik is of wat jy maklik kan begin gebruik. Daar is verskeie padkaarte beskikbaar wat jou kan help om hierdie nuwe platforms te navigeer, byvoorbeeld YouTube-video’s. Van die meer bekende roetes wat beraders kies, is Zoom, Skype, WhatsApp, telefoonoproepe en e-posse.

Zoom word al hoe meer in gebruik geneem en bevat beide oudio- en video-formaat. Met ’n gratis rekening kan jy ’n “afspraak” skeduleer en die uitnodiging vooraf aan jou gespreksgenoot stuur, sonder dat hy of sy ’n rekening benodig. Dit is egter makliker as hulle reeds die toepassing op hulle selfoon/rekenaar afgelaai het. Let wel dat hierdie toepassing nie blyk om end-to-end-encryption te wees nie (met ander woorde die gesprek is nie so privaat nie), maar jy kan ’n wagwoord op die “afspraak” stel om sekuriteit te bevorder. Verder, laat ’n gratis rekening jou slegs 40 minute per afspraak toe. Skype is ’n goeie alternatief om te gebruik.

Video-gesprekke via WhatsApp sou ook moontlik kon wees, maar afhangende van die sein, kan dit meer konneksieprobleme as Skype of Zoom veroorsaak. Dr Elmo Pienaar stel voor dat jy seker maak dat jy en jou gespreksgenoot goeie konneksie en data beskikbaar het. Dr Pieter Visser is nie ten gunste van teksboodskappe as pastoraat nie. Dit sluit SMS en WhatsApp-teksboodskappe in. Hy verduidelik dat dit moeilik is om nuanses in teksboodskappe raak te lees en sê: “… there’s a lot that gets lost in translation.” ʼn Telefoonoproep is ’n goeie alternatief in hierdie geval.

Dr Lieze Meiring gebruik tans e-posse om lidmate pastoraal by te staan en verwys hierna as “’n nuuskierige brief”. Dit is nie net nog ’n geleentheid om ’n preek te skryf nie. Om briewe te skryf kan uiters sinvol wees vanuit ’n narratiewe benadering, verduidelik sy. Beide Meiring en haar gespreksgenote kry die geleentheid om saam te wonder en goeie bydraes vir mekaar terug te skryf. Sy maak egter ’n telefoonoproep indien nodig.

  1. Grensposure (afsprake)

Wanneer ek deur ’n grenspos moet gaan, maak ek altyd seker hoe laat dit oop- en toemaak. Dit laat my veilig en in beheer voel. Dieselfde kan waar wees vir virtuele pastorale gesprekke en daarom is dit nodig om definitiewe begin- en eindtye te beplan. Visser is ook ’n voorstander van dié afspraak-benadering. As ’n mens via e-posse kommunikeer is dit tog anders, maar sit eerder vir jou tye in jou dag om die pastorale e-posse te antwoord, opsy.

Pienaar stel voor dat jy en jou gespreksgenoot ’n paar minute voordat die “afspraak” begin, aanlyn gaan. Dit is om seker te maak dat julle al twee gemaklik is met die nuwe platform. Stuur gerus vooraf vir jou gespreksgenoot ’n foto van hoe die virtuele ruimte lyk, asook maklike instruksies vir ’n nuwe platform.

  1. Taal (waaroor en hoe praat ons?)

Ander lande se tale kan beide fassinerend en moeilik wees om aan te leer. Ons moet egter baie vinnig aanleer hoe om die Koronataal te praat. Dit sluit in: vrees, isolasie, trauma, werksverlies, onsekerheid en ’n gebrek aan antwoorde.

Ons samelewing beleef tans ’n ramp en dit is traumaties! Ons weet nie hoe die toekoms gaan lyk nie en lidmate besef dalk nie eens dat hulle hieroor wil gesels nie. Ons kan lidmate egter help deur die “virtuele kussings van ons pastorale bank” reg te skud, verwoord Visser. Hy verduidelik verder: “Kom ons dek die tafel” en nooi hulle uit om te gesels hieroor.

Hoe moet ons taal klink? Meiring beklemtoon dat pastorale gesprekke “respekvolle en nuuskierige vrae behels”. Hierdie taal is dus anders as prediking of probleemoplossing en klink dalk eerder soos volg: “Ek wonder, hoekom sê jy dit?” of “Wil jy dalk meer vertel?”

  1. Die ambassadeurs (professionele mense om na te verwys)

As ek in groot moeilikheid beland terwyl ek in ’n ander land op reis is, gaan ek waarskynlik by ons land se ambassadeur moet aanklop. Wanneer dit by pastorale gesprekke kom, is ons beste ambassadeurs sielkundiges of maatskaplike werkers. Tydens hierdie grendeltyd is daar steeds sielkundiges wat praktiseer en CMR-kantore is steeds beskikbaar via telefoon, verduidelik Meiring. Jy is nie alleen by die Pastoraat-grenspos nie – vind solank uit wie in jou dorp/stad/netwerk beskikbaar is vir virtuele of ander verwysings.

  1. Spoedgrens (persoonlike grense)

Die langpad vra dat ons soms langs die pad stop en dat ons soms stadiger ry sodat ons veilig by ons eindbestemming kan uitkom. Ons moet vir onsself grense en spoedbeperkings stel, veral tydens hierdie grendeltyd. As predikante het ons verskeie nuwe uitdagings en vaardighede wat ons moet aanleer. Ons skep meer materiaal en ervaar self ook verlies en spanning wat ons moet deurwerk, meen Visser. Dit is nie negatief om grense te stel vir die hoeveelheid pastorale gesprekke of virtuele huisbesoeke wat jy per dag kan doen nie.

Dr Brené Brown, ’n kenner in maatskaplike werk, asook skrywer oor weerloosheid en persoonlike grense, verduidelik in een van haar onderhoude dat ons nie gemaklik is om grense te stel nie. Sy skryf dit daaraan toe dat ons niemand wil teleurstel nie en dat ons ook te veel omgee wat ander mense dink. Sy is egter daarvan oortuig dat grense juis die sleutel is om onsself lief te hê en om in liefde met ander mense om te gaan. Stel in liefde jou eie spoedbeperking.

Die reis na die Korona-kuberruimte is nie ’n resies of kompetisie nie. Stop en herlaai op pad deur enige van die grensposte. En onthou, jy reis nie alleen nie. Die gemeente, kollegas en die kerk is saam met jou by ’n nuwe grens. Miskien kan meer ringe hierdie virtuele pastorale gesprekke (en ander grense) saam aanpak soos byvoorbeeld die ringe van Sesmylspruit en Valhalla, het die Rekord, Centurion se plaaslike koerant, onlangs berig.

In hierdie tye word ons ook opnuut bewus dat ons nie die reis alleen meemaak nie, maar dat God, Immanuel, as ons Reisgenoot saam met ons die pad stap.

Mag jy ’n nuwe belewenis hê op jou reis deur die Pastoraat-grenspos en dan sien ons mekaar in die land van die Korona-kuberruimte!

  • Hierdie wenke is saamgestel na aanleiding van gesprekke met dr Elmo Pienaar (Coram Deo), dr Pieter Visser (NG Wierdapark) en dr Lieze Meiring (NG Elarduspark). Hulle is kenners op die gebied van pastoraat en is reeds deur dié grenspos. Ds Anandie Greyling is leraar by die NG gemeente Doornkloof.

One thought on “Wenke vir virtuele pastoraat

  1. Louis Blignaut says:

    Wie kan my se wat het geword van die Suid Afrikaanse Raad v kerke se gesprek met die regering om pastorale werk uit te sluit van die beperkings op die kerk ? Daar was n berig daaroor n week gelede in die kerkbode.

Comments are closed.