Koronavirus: Nou is kerk ook digitale leergemeenskap

Hoe lyk “beste praktyk” vir digitale kommunikeer­ders in ’n tyd van abnormaliteit? Wat is die moets en moenies vir gemeentes wat – gebore uit die nood – via die web wil aanhou funksioneer?


Op Twitter deel iemand ’n keusevraag: “Who led the digital transformation of your company?” Jy moet kies tussen die besturende direkteur, die tegniese direkteur, of Covid-19. Hy omkring “Covid-19”.

Net so.

Feitlik oornag het ons kerk ’n digitale leergemeenskap geword wat digitale vaardighede onder die knie moet kry. Vir sommige kom dit makliker, terwyl ander deur die drif moet beur.

Die einde is lank nie in sig nie. Aangesien eredienste en infektering omtrent sinoniem is, sal kerklike byeenkomste waarskynlik nog lank ingeperk bly.

Digitalisering het ook verrassende voordele. Dit help gemeentes ook om grense en beperkinge oor te steek. Daar­om het dit gekom om te bly. Bedank Covid-19.

Wat lyk na die beste praktyke vir gemeentes wat via die web wil aanhou funksioneer? Ons het baie te leer, maar ’n paar oorwegings verhelder reeds.

Draers van betekenis

Bly fokus op die wesenlike. Geloofsgemeenskappe is draers van sin en be­te­kenis. Ons bring God se werk, bedoelinge en toekoms met die lewe in verband. So help ons mense om sin te maak en georiënteerd aan God te bly leef.

Die betekenis van ons digitale bedie­ning het nie in die eerste plek met tegniese vaardighede te doen nie. Vraag is of ons die Covid-ramp só met die evangelie kan belig dat geloof, hoop en liefde volg.

Die vroeë kerk het tydens vernietigende plae in die Romeinse ryk gegroei, omdat gelowiges in die Naam van Jesus sin en betekenis in die krisis kon vind.

Baie aanlyn-boodskappe illustreer dat ons dit inderdaad regkry.

Skeppers van koinonia

Digitale bediening moet die skep van gemeenskap tussen gelowiges bly dien. Video’s, stroming, stemboodskappe, op­roepe, e-posse bind ons aan ons ge­meen­te en aan mekaar. Die digitale werks­vloei moet koinonia skep en dien.

Video’s en stemboodskappe is veel meer as uitsendings. Dit is konneksie tussen mense wat saam voor die Here leef en vier.

Daarom móét elke gemeente probeer. Ons kan nie ons digitale bediening aan ander uitkontrakteer nie. Verder moet gemeentes so bedien dat almal in die gemeente digitaal bereik kan word. Diegene wat nie genoeg data het nie, kan óf voorsien word, óf met meer ekonomiese digitale kanale bereik word.
Gemeentes e-pos ook boodskappe aan tuistes vir bejaardes wat dan daar gedupliseer en gebruik word.

Nagmaalviering steeds sentraal

Soveel as moontlik bediening moet tydens inperking gedigitaliseer word. Vir my sluit dit beslis die viering van die heilige nagmaal in. Gesinne of huisge­note is bymekaar met eie wyn en brood. Wanneer die liturg die tekens instel, gee ons dit aan mekaar en vier die Here se lewegewende dood. Selfs waar ons alleen is, is die instellingswoorde en die gemeenskap met die lewende Here die grond waarop ek deur geloof die teenwoordigheid van Christus beleef.

In ons uur van nood is nagmaalvie­ring ’n sentrale moment in die kerk se bediening.

Erkenning van verlies

Ons digitale bediening moet ook verlies aan fisieke samesyn erken en dra. Digitalisering is nie ’n manier om voor te gee inperking en die gebrek aan fisieke samesyn is eintlik nie so erg nie. Ons is geskep met ’n liggaamlike passie vir samesyn. Ons digitale bediening moet bly hunker na die fees en viering wanneer ons weer onder een dak bymekaar kan kom.

Veral wanneer inperking begin byt, is die erkenning van ons verlies baie be­langrik.

Afwisseling en deelname

Gaan vir deelname. Ek het Sondag na ’n erediens gekyk waar die prediker ’n insetsel van ’n professor oor ’n Bybelboek ingespeel het. Ons het ook na ’n kort foto-aanbieding gekyk wat die boodskap ondersteun het, en die begeleiding is gedoen op ’n manier waar ons hartlik kon saamsing. Die variasie en afwisseling teen ’n gesonde tempo, met ’n kort preek, was pakkend.

In nog ’n erediens was daar poppespel. ’n Ander prediker het weer bejaardes gelukgewens terwyl hulle foto’s vertoon is. In nog ’n erediens het ’n persoon die kindermoment gedoen.

Om grense oor te steek

Bly missionaal. Dit beteken ons skep gemeenskap oor grense en ons bid vir die wêreld. Speel ’n inset van die polisiehoof wat oor uitdagings praat, en die maatskaplike werker wat ons leer wat ons vir gesinsgeweld moet bid.

Die rol van die gesin

Bevorder huisgeloof. Fokus op die gesin wat as ’n klein gemeenskap saam deelneem aan ’n byeenkoms wat sentraal, via die skerm, gefasiliteer word. Gesins­lede gesels met mekaar, gebruik saam nagmaal, bid saam, en gee ook as gesin ’n dankoffer wat in ’n houer bewaar word tot ons weer in ’n erediens verga­der.

Om outentiek te wees

Wees julleself. Dit is lekker om gemeentes en leraars te sien wat gemaklik in hulle eie vel is, en nie probeer om iemand anders te wees nie. Dit versterk die egtheid van die kommunikasie.

Danie Mouton is ’n predikant van Nelson Mandelabaai.