Om ook stilte te kan kies

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

19 April. Vroegoggend. Hoe lank duur hierdie tyd van gedwonge afsondering nou al? Ek is nie seker nie. Ek het opgehou om die dae te tel.

Dit is ’n Sondag vandag, dit weet ek wel. Selfs in hierdie seisoen van stilte klink ’n Sondag steeds anders as die ander dae, ook op hierdie stil dorpie van ons. Op ander dae klap die een buurman, ’n tandarts, se Tuareg se deur kort voor sewe al toe en ry hy na sy spreekkamer toe. ’n Bietjie later sal die visfabriek se vragmotor verbydreun. Oom JP oorkant die straat spuit ook vir ses dae per week elke oggend vroeg-vroeg tuin nat.

Al wat jy op die oomblik hoor is die veraf ruising van die see.

’n Sondag is die afwesigheid van te veel en te harde klanke. Miskien is dit juis daarom dat ’n mens aan geluide en klanke dink wanneer jy aan die Sondae van jou lewe dink.

Pa was altyd eerste wakker op ’n Sondagoggend. Van vroeg af kon jy krane in die badkamer hoor oop- en toegaan. Water wat gorrelend uit die bad loop. ’n Laai wat in die kamer oopgetrek word, gevolg deur Pa wat iets mompel.

’n Ruk later sou hy in die gang verbykom, sy swart Clark-skoene skuur-skuur oor die teëlvloer, met die reuk van Vitalis-haarolie wat hom agtervolg.

Later sou Ma die radio in die kamer aanskakel. ’n Sondagoggend in die jare sewentig is Fanie Smit wat oor Radio Suid-Afrika sȇ: “’n Hartlike goeiemôre van my, Fanie Smit. Welkom by nog ’n aflewering van Alle Volke Loof die Here …” Dan die eerste note van ’n JS Bach-stuk wat deur die huis sweef.

Daarna, terwyl Ma was en aantrek, elke klank wat gevolg word deur ’n reuk: ’n Kasdeur wat oopgaan, dan die reuk van lyfpoeier. ’n Sarsie sulke psst-psst-psst-geluide, dan die reuk van haarsproei. Dan die geklop van Ma se hakke op die gangvloer.

Gewoonlik het die huishulp nie op ’n Sondag kom werk nie, maar met Ma alleen in die kombuis op ’n Sondagoggend, het dit geklink of daar twee of drie mense gelyktydig aan die woel is. ’n Pot wat uit ’n kas gehaal en hard op die tafel neergesit word. Die oonddeur wat oopkraak en die enemmelbak met die opgestopte skaapboud in wat oor die oondrak skuif. Die histeriese gesjoei van ’n Kenwood Chef-menger, wat karring aan een van Ma se bestes: skuimpoeding, swaargelaai met gesnipperde perskestukke, grenadillapitjies en liefde.

En iewers, tussen alles deur, sou die koster die klok by die kerkgebou langsaan begin lui het – die eerste gelui terwyl die duiwe uit hulle neste in die toring skarrel en wegvlieg.

Die eerste hoeveel jaar van my lewe is afgemeet deur ’n kerkklok, uur vir uur vir uur.

En naby soveel kerke in die land het ’n bordjie langs die straat gewaarsku: Stilte Kerk.

Uiteraard het ek en Ma op ’n Sondag sommer kerk toe gestap, nadat ek eers die honde in die strykkamer gaan toemaak het, anders kom hulle ook kerk toe.

Die klank van ’n pyporrel in ’n kerk voor ’n kerkdiens begin, is dalk die diepste, weemoedigste, gerusstellendste klank wat ek ken. Jy hoor dit nog voor jy in die gebou is, asof dit ’n duisend-en-tien gestorwe heiliges is wat jou nooi: kom in, kom in, terwyl jy by die kerk se trappies opstap, oor die portaal se blink blokkiesvloer, af op die wynrooi mat in die gangetjie tussen die banke, met die reuk van meubelolie en vroom gebede in die lug.

Ek kan aanhou om sulke Sondae tot in die fynste besonderhede te probeer beskryf, maar dit is vergeefs, als ’n bietjie vergeefs. Pa en Ma is lankal oorlede, en ek kan nie onthou wanneer laas het ek ’n kerkklok hoor lui nie.

Buitendien, in die meeste gemeentes word lankal nie meer kerk gehou soos tóé nie. Baie kerke het nie meer ’n pyporrel nie. In ander is die preekstoel afgebreek en vervang met ’n verhoog waar ’n orkes op ’n Sondag musiekmaak. Die meeste predikante se preke is ook nie meer so vol onweerswolke en Skrifgesag soos my liewe pa s’n nie.

Dit is nie goed of sleg nie. Dis net hoe dit is. Niks op aarde bly dieselfde nie.

In hierdie grendeltyd mag ’n mens nie ’n diens in ’n kerk bywoon nie. Maar ek het reeds gekyk: Ek kan vanoggend na ver meer as ’n honderd boodskappe of preke op my rekenaar se skerm kyk en luister, in my slaapbroek, met ’n beker koffie langs my op die tafel en my hond wat warm teen my voete lȇ.

Dit is nogal bevrydend, maar dis asof iets in ’n mens wil bly vasklou aan die klank van ’n pyporrel en die reuk van vroom gebede en meubelolie, en oorle Pa se preke vol Skrifgesag.

Ek dink ek gaan vanoggend eerder in my voortuintjie sit. Die voëls raas reeds in die nuwe saadbak wat ek vir hulle neergesit het.

Die pad vorentoe, vir nou, vir eers, vir my, is deur die stilte, op soek na iets meer oop en wyd, ’n geloof wat nie net op ’n Sondag vir jou sekerhede bring nie.

One thought on “Om ook stilte te kan kies

  1. lynette reinecke says:

    ek ruik braaiboud en gebraaide aartappels met die vrede wat n sondag bring deur jou skrywe. dankie baie. dat jy my laat onthou. en dankie baie dat jy dit deel.

Comments are closed.