“Het U ons heeltemal vergeet, Here?”

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Niks is meer dieselfde nie. Die ondenkbare het gebeur. Ons eko­nomies-dominante en eko­no­mies-gedrewe globale dorpie het byna tot stilstand gekom. Byna al die rotte van die rotte-resies is in hulle gate gedwing. In vrye, demokratiese Suid-Afrika geld beperkende wetgewing er­ger as gedurende Apartheid. Die popu­lêre, familiêre aanraak-kultuur van baie het ’n taboe geword. En die enigste mense wat glimlag is introverte en ku­ber­ruimte-verslaafdes. Dit is geen oor­drywing om te sê dat ons bekende wê­reld tot in sy fondamente geskud is nie.

Ou-Israel het in die jaar 587/586 vC ook beleef dat hulle wêreld tot in sy fondamente geskud is. Die ondenkbare het gebeur. Jerusalem is in puin gelê, die koning uit die geslag van Dawid is as ’n blinde, eerlose banneling weggevoer en die Here se tempel is vernietig. Die lewe soos hulle dit geken het, is verby. Trouens, die volk Israel se Beloofde land het ná die opheffing van die Babiloniese ballingskap nooit weer dieselfde gelyk as vóór die ballingskap nie. So leer die Bybel en die geskiedenis ons.

Wat doen diegene wat na die Babiloniese vernietiging van Juda in Jerusalem en omtrekke te midde van puin, pyn, verlies en lewensbedreigende omstandighede moet oorleef? Ons kan aanvaar dat hulle omgesien het na mekaar. Wat egter uit hulle geskrifte blyk, is dat hulle oor hulle omstandighede gekla het. Want sien, die Bybelse mense het ook soos ons, hulle wêreld georden. Destyds het almal geweet watter situasie vra om watter gedrag en optrede. By verlies, pyn, bedreiging en angs pas klaaglie­de­re. En klaagliedere het hulle aangehef.

Die boek Klaagliedere met sy vyf liedere is ryk en lewenseg. Dit getuig van mense wat onder lewensbedreigende omstandighede met angs, verlies en rou in die reine probeer kom. Die lie­dere is ’n eksistensiële uitdrukking van diep swaarkry en hopeloosheid. Die Judese gemeenskap is afgesny van hulle bestaansmiddele, hulle geliefdes en hul­le plek van aanbidding. Daar word ge­smag na uitkoms. Om van uitkoms te praat, is egter nie meer so maklik soos in die verlede nie. In krisistye word dit moeilik om op ’n oppervlakkige manier met vrae oor God se rol en die aard van sy betrokkenheid in sulke situasies om te gaan.

Die boek Klaagliedere begin met absolute trauma wat gepaardgaan met pyn, verlies en angs en eindig met iets anders as goedkoop genade of sekere uitkoms. Selfs na die laaste lied is die digter nog nie seker of hy vorentoe op God kan reken nie. Êrens langs die pad, om die waarheid te sê in die middel van die boek (3:22-33), sê hy dat die Here se genade nooit tot ’n einde kom nie. Dit is elke môre nuut.

Die verwagting op uitkoms, so wil dit lyk, is vir die digter geleë in erva­rings met God in die verlede. Tog vra hy steeds aan die einde, of die dag dat God hulle vir altyd verwerp, nie dalk aangebreek het nie? (5:17-22). Hoe dit ook al sy, Klaagliedere gee ons ’n eerlike beeld van hoe dit is om aan God te bly vashou, wanneer ons afgesny word van alles wat bekend is en ons sekerhede begin wegval.

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.