Die fotojoernalis Alet Pretorius dokumenteer die impak van die korona-pandemie in Pretoria. Kerkbode wou by haar weet:
KB: Vertel vir ons meer van die toneel hierbo.
AP: In die foto versorg ene dr Stonehouse vir Alpheus Manganye deur sy verbande af te haal nadat Alpheus sy afspraak by die hospitaal gemis het as gevolg van die grendelstaat. Ek het die foto geneem by Lyttleton-sportgronde waar die regering hawelose mense huisves. Die meeste van die mense wat daar gehuisves word, is afhanklik van dwelms en word medies bygestaan deur die stad. Hulle bestuur ’n program waar gesondheidswerkers Methadone gee aan die mense om die onttrekkingsimptome te vermy en te help met rehabilitasie. Dokters help ook met ander mediese probleme soos dr Stonehouse hier vir Alpheus help versorg. Die toneel het my opgeval omdat die gesondheidswerkers en dokters die mense met soveel geduld behandel. Hawelose mense (veral as hulle boonop aan dwelms verslaaf is) word dikwels nie gehoor nie en het nie baie opsies nie. Daardie dag het ek opgemerk hoe die dokters na hulle luister. Visueel het die toneel my ook laat dink aan die storie van Jesus wat sy dissipels se foto was en hoe dit ’n teken van nederigheid is.
- Raak betrokke: Stuur gerus enige foto’s of wenke van mense wat ander help in hierdie tyd aan ons by kerkbode@tydskrifte.co.za
