Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die verhaal Love in the time of cholera (1984), geskryf deur die Suid-Amerikaanse skrywer Gabriel García Márquez, opper die vraag of liefde opsigself nie ’n siekte – dalk selfs so vatbaar en verwoestand as kolera – is nie. In Spaans is die woord cólera dubbelsinnig: Dit kan (buiten die siekte) ook gebruik word as ’n beskrywing van passievolle woede en verontwaardiging, en selfs (in Latynse en Griekse verwysings) ’n galverwante siekte of gif (dink maar aan die uitdrukking “om gal te braak”).
In ons huidige tydsgreep, met die talle uitdagings wat Covid-19 aan ons bied, sou ons dalk meer kon nadink oor “liefde in die tyd van korona”. Hierdie soort sinspelings op die titel van Márquez se boek het my laat dink aan liefde-as-virus: naamlik, dat nie alleenlik virusse soos kolera (of korona) aan die hand van virus-taal beskryf sou kon word nie (en ons sou ook aan ander voorbeelde van virusse kon dink, soos rekenaarvirusse waarvoor ons anti-virus-sagteware moet installeer), maar ook liefde. In bogenoemde verhaal word die donker kante van liefde-as-virus (as obsessie, as sieklikheid, as verdraaiing) in strak terme uitgebeeld. Liefde-as-virus is verwoestend maar onvermydelik, soos wat kolera of korona verwoestend en lewensbedreigend is. “Virus” word hiermee sinoniem vir “sleg” of “skadelik”.
In sy Christelike dogmatiek gebruik die Duitse gereformeerde teoloog Friedrich Schleiermacher egter juis die beeld van ’n virus op ’n positiewe wyse om die uitwerking van genade te beskryf. Hierdie virus werk ditself in in die bloedsomloop, selle en organe van die gemeenskap van begenadigdes, die liggaam van Christus, die kerk. Christus se genadige invloed kom tot uitdrukking in ons persoonlike en kollektiewe geskiedenis(se). Deur Christus kring hierdie genadige invloed uit totdat genade uiteindelik die ganse mensdom infekteer.
Die genadevirus van Christus se liefde vir die wêreld is daarom niks minder as ’n pandemie nie: Geeneen is immuun daarteen nie, geeneen kan ingeënt word daarvoor nie, en selfs al versprei dit geleidelik – almal word nie noodwendig onmiddelik daardeur geraak nie – is dit ten diepste ’n sosiale virus, wat ditself binne die (heils)geskiedenis van die Trinitariese God se werk in die wêreld uitspeel. Christus se deurdrenkende, insluitende, inbeddende, lewende, lewensnoodsaaklike, genadige invloed trek ons in by die gemeenskap met die drie-enige God.
Maar terselftertyd sou ons ook aan genade kon dink as ’n anti-virus. In sy aangrypende nadenke oor Christus se vleeswording beskryf Schleiermacher God se koms in die wêreld soos volg: Deur Adam word die virus van sonde onder die mensdom versprei. Adam is, sou ons kon sê, patient zero vir die verspreiding van die sondevirus onder die mensdom. Geeneen spring dit vry nie. Ons word elkeen daardeur geïnfekteer. Niemand kan op grond van prestasie of goeie werke of selfs ’n laaste greintjie goedheid hulleself red nie, want ons almal is diep bedorwe. So bely die kerk, reeds vanaf Augustinus se geskil met Pelagius hieroor, dat ons almal sondaars is wat die dood verdien.
Tog is dit juis hierdie sondige toestand wat by ons ’n ontvanklikheid vir Godsgenade kweek, argumenteer Schleiermacher. Met Christus – die tweede Adam, patient zero vir die verspreiding van die genadevirus onder die mensdom – se koms na die wêreld word dit wat deur sonde onklaar, en gebroke, en sieklik, en skadelik geword het heel, en lewend, en genesend, en florerend. Dalk sou ons genade daarom ook as ’n anti-virus tot die sondevirus kon beskryf; ’n teen-gif vir die sondegif. ’n Grendeltoestand en sosiale distansiëring is nie genoeg nie. Niks minder as ’n pandemie van genade is nodig om die pandemie van die sonde teë te werk nie.
Tog, waarsku Schleiermacher, sou ons ’n fout maak om te dink dat genade doodeenvoudig die sonde vervang. Ons bly immers, in Martin Luther se woorde, simul iustus et peccator. Ons is gelyktydig geregverdigde én sondaar. Ons is terselfdertyd vrygespreek én aanspreeklik. Ons is diegene wat gelykertyd geïnfekteerd is deur genade én sonde. Om begenadig te wees beteken nie om nié die sondevirus onder lede te hê nie. Begenadigdes is nie sondeloos nie. Ons toets nie negatief vir sonde nie.
Waarvoor ons egter wel (ook) positief toets is die virus van genade. Die individuele en kollektiewe genadetoestand is vir ons moontlik, skryf Schleiermacher, weens Christus. Juis daarom is die kerk ’n genadegemeenskap. Die DNS van die kerk is genade. Die aard van ons kerkwees, die tekstuur van ons verhoudings met mekaar, word gekenmerk deur God se liefdevolle self-oorgawe aan die kruis. In die vleeswording, kruisiging en opstanding van Jesus Christus word ’n gemeenskap van begenadigdes gebore. Dalk sou ons dan ook sê dat die kerk nie (net) genadebesmet is nie, maar in haar grein en genetika geken (behoort te) word aan Godsgenade.
Mag ons in hierdie moeilike dae vashou aan die troos dat Jesus Christus, wie se teenwoordigheid en aanraking ons die virus van genade laat opdoen, ons nooit sal los nie.
▶ Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.