Covid-19 krisis – gevaar of geleentheid?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

’n Krisis bring ’n mens by ’n kruispad: Van hier loop die een pad na gevaar en die ander na geleenthede. Die internasionale krisis rondom Covid-19 bring die gevare en geleenthede vir die kerk duidelik na vore en gemeenteleiers moet daarvan kennis neem. Dit het veral te doen met dinge wat gelowiges motiveer en tot aksie laat oorgaan.

Die heel sterkste motivering vir gelowiges (en waarskynlik alle mense met ’n hart) is meegevoel en medelye. Kenneth Callahan het jare gelede al ’n lysie van motiveerders in dalende volgorde van effektiwiteit saamgestel. Die klomp C’s in Engels help ’n mens om dit te onthou: Compassion, Community, Hope, Challenge, Comprehension, Commitment.

Gemeentes wat in hierdie tyd sigbaar by nood betrokke raak, vind dat hulle eintlik te veel kos, klere en ander hulp kry. Gemeentes wat dit nie doen nie, sal vind dat lidmate op ander plekke en by ander instansies se medelyeprojekte betrokke raak. Sommige van daardie lidmate sal in die proses ook ’n nuwe geestelike tuiste vind.

Dieselfde Kenneth Callahan het ook uitgewys: “Money follows mission.” Mense gee geld aan gemeentes met ’n missie, gemeentes wat na buite ’n verskil maak. Ons weet dit ook uit jarelange navorsing in die NG Kerk: Gemeentes met ’n duidelik missionale roeping én wat dit uitleef, vaar finansieel beter. Daarteenoor, gemeentes wat in hierdie tyd net op hulle eie oorlewing ingestel is, gaan waarskynlik vind dat dit toenemend moeiliker raak om fondse te genereer. Om bloot aanspraak te maak op lojaliteit en verbintenis aan die gemeente (commitment) is net nie ’n sterk genoeg motiveerder nie.

Derdens, lidmate wat die geleentheid het om hulle gawes as deel van die gemeente se werksaamhede te gebruik, is meer lojaal, gee groter bydraes, woon eredienste meer gereeld by en is meer geneig om positief oor hulle gemeente te praat. Dominees maak dikwels die fout om te dink: “As ek preek dat elke gelowiges ’n sendeling is en dat ons ons roeping in ons gewone lewe moet uitleef, is dit genoeg.”

Dit is belangrik, maar dit is nie genoeg nie. Mense wil ’n verskil maak en wil hulle gawes op so ’n manier gebruik dat hulle ervaar dit is deel van die roeping van die gemeente. Verder, in krisistye wil jy nie eers ’n “Ontdek jou gawes”-kursus doen nie, mense wil net op een of ander manier deel wees van die oplossing. As mense nie die geleentheid in hulle eie gemeente kry nie, gaan vind hulle dit op ander plekke.

Hierdie is dinge oor gelowiges en kerkwees waaroor ons lankal nie meer onseker is of oor wonder nie. Die huidige krisis skep geleenthede vir gemeentes en wyse leiers sal dit aangryp.

  • Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.