Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

"As jy sien hoe baie kinderhuise daar is en hoe lank die waglyste, besef jy hoe stukkend ons samelewing is," sê Mariana le Roux, maatskaplike werker by die Hermanus Kinder- en Gesinsorgdienste. Foto: Verskaf

Dis nóú die tyd om jou ‘brood en vis’ te deel …

“Steek jou hand in jou sak, kos- en vrieskas, en gee wat jy kan.” So vra Mariana le Roux, maatskaplike werker by die Hermanus Kinder- en Gesinsorgdienste in een van die behoeftigste sosio-ekonomiese gemeenskappe in die Overstrand-distrik in die Wes-Kaap. Hier waar baie mense van die hand tot die tand leef en elke dag ’n stryd om oorlewing is.

In hierdie tyd van verpligte inperking eskaleer sosio-ekonomiese probleme by die dag, veral omdat dit nou boonop onmoontlik is om op die normale manier voort te gaan om maatskaplike werk sonder menslike kontak te lewer.

“Ons kliënte wissel van mense wat in informele nedersettings woon, mense wat in bosse slaap tot ekonomies-selfstandige mense. Baie van hulle is dagloners, werk by besighede of is selfs entrepreneurs,” vertel Le Roux, “maar sedert die huidige inperking het baie mense geen inkomste nie en die skole waar hulle kinders skoolgaan, het ook nie die voordeel van ’n voedingskema nie.”

Le Roux werk al ’n hele paar jaar lank vir die Hermanus Child & Family Services (https://hcfs.org.za/) en moet in gewóne omstandighede sterk staan om nie deur die daaglikse huishoudelike geweld, dwelmverwante persoonlikheids- en gesinsprobleme en kinderverwaarlosing oorweldig te word nie. Maar in hierdie Covid-19-grendeltyd moet jy ekstra sterk staan – hierdie werk is beslis nie vir sissies nie. Nou moet jy kreatiewe planne maak soos nog nooit vantevore nie.

Wat maak jy byvoorbeeld as ’n vroeggebore baba op sewe maande van sy dwelmafhanklike ma verwyder moet word en so gou as moontlik by ’n geskikte veiligheidsouer geplaas moet word?

“Dit is ontsettend moeilik om geskikte veiligheidsouers te vind. Wie sien kans om ’n ander vrou se FAS (Fetale Alkoholsindroom)-kind of ’n dwelmverslaafde se verstandelik-beperkte kind, met al die gepaardgaande uitdagings daarvan, groot te maak? Veral in hiérdie tyd? Jy begin heel eerste na ’n geskikte veiligheidsouer by die kind se familie soek. Enkele mense kom meld ook hulle dienste aan wat as gevolg van hulle geloofsoortuiging veiligheidsouers wil wees,” vertel Le Roux, “maar hulle is dun gesaai.”

“As jy sien hoe baie kinderhuise daar is en hoe lank die waglyste, besef jy hoe stukkend ons samelewing is. Daar is honderde desperate gevalle van kinders wat dringend in veilige en liefdevolle huise geplaas moet word; iets waarvoor bitter min mense kans sien.”

Jy kan ook nie op jou louere rus en hande gevou sit en hoor hoe honger kinders mense se kosvoorsieningskombuise oorval nie. Wat maak jy? Jy gaan sit en dink ’n storm los oor hoe om hierdie golf te ry en nie daardeur verpletter te word nie. “Nadat ’n gemeenskapslid aan my vertel het hoe honger haar kinders is (beide sy en haar man is dagloners), het ons saam vetkoekbestanddele gaan koop,” vertel Le Roux. “Daarna het die vrou my toe gehelp om die mees behoeftige gesinne in haar gemeenskap te identifiseer wat van basiese kos voorsien kan word.

“Dis onmoontlik om anderpad te kyk as jy kos in jou huis het. Nadat ’n beroep op vriende, familie en kennisse gedoen is om finansiële bydraes te lewer, het ons onmiddellik reaksie gekry en binne ’n uur kon groente, vleis en pasta aangekoop en afgelewer word. Dit is geskenk aan ’n vrou in Paradise Park, wat elke Sondag vir 50 maaltye sorg. Nou kan sy vir ten minste die volgende drie weke daarmee voortgaan.

“Camphill, ’n skool vir outistiese en verstandelik-beperkte kinders wat in die Hemel en Aarde-vallei hier naby geleë is, het in die week ’n voorraad kos by ons kantoor kom aflewer vir die kinders wat in hulle skool is en in ons gemeenskap woon.”

Dit is sulke liefdesdade waarsonder ons behoeftige gemeenskappe nie maklik die mas in hierdie uitdagende tyd gaan opkom nie. Sluit aan by jou dorp se reeds bestaande infrastruktuur waar hulp in hierdie (en veral in die komende tye) broodnodig gaan wees.

En steek daai hande diép in jou sak en kyk waar jy jou brood en vis kan deel.

  • Mariëtte Odendaal is die kommunikasiebeampte: Getuienisaksie, NG Kerk-familie in die Kaapstreek.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Dis nóú die tyd om jou ‘brood en vis’ te deel …”

  1. A Kritzinger

    Ag kom ons bid net almal saam dat ons (individue, gemeentes en NGO’s) nie verbied sal word om die nood te help verlig nie. Dit sal ‘n HARTSEER dag wees as die regering besluit dat alle hulp deur hulle kanale moet gaan

Comments are closed.

Scroll to Top