Dit is tyd vir visvanglesse

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Lang rye mense wat sit of staan en wag vir kos het ’n algemene gesig in Suid-Afrika geword. Dit maak selfs internasionaal opslae. Oral is daar honger mense as gevolg van die Covid -19-pandemie wat duisende mense afhanklik gelaat het van kos wat daagliks uitgedeel word. Almal wat kan help, help. Baie gemeentes van die NG Kerk is nie ’n uitsondering op hierdie reël nie en is nou meer as ooit vantevore betrokke by kosverskaffingsprojekte. “Niemand op hierdie dorp mag honger gaan slaap nie,” sê ’n jong NG dominee op ’n plattelandse dorp onlangs. Alhoewel al hierdie pogings lofwaardig is, is die vraag: “Hoe lank gaan daarmee volgehou kan word?”

’n Bekende spreuk help ons met ’n antwoord: “Gee ’n man ’n vis en jy help hom vir ’n dag. Leer hom visvang en jy help hom vir ’n leeftyd.” Die rol wat die NG Kerk in die geskiedenis in die stryd teen armoede gespeel het, onderstreep die belangrikheid van hierdie spreuk. Tydens die Algemene Sinode van 1994 het selfs mnr Nelson Mandela na die onmisbare rol van die kerk tydens die sogenaamde Armblankevraagstuk in die dertigerjare van die vorige eeu verwys.

’n Voorbeeld van wat gemeentes in die verlede gedoen het, word beskryf in die herinneringe van prof EP Groenewald wat sy bediening as gemeentepredikant in Oktober 1932 in Bethulie in die Vrystaat begin het. Groenewald vertel hoe meer as 70% van die dorp se inwoners met sy aankoms sonder werk was. Die droogte van 1933 het sake vererger. Met finansiële hulp van die regering het die gemeente met drie aksies begin om die mense aan die werk te kry. ’n Gruisgroef is gegrawe, die pad na Bethulie is herstel en geteer, en die dorpsdam is vergroot. Almal wat help werk het, is Vrydae vir hulle werk by die kerkgebou betaal. Met toenemende aankope by die plaaslike handelaars het die ekonomie op die dorp ook lewe gekry. So is inwoners van die dorp geleer om nie net te sit en wag vir die spreekwoordelike vis nie, maar om self vis te vang!

Daar is talle ander merkwaardige voorbeelde. Die bou van die Hartbeespoortdam (1923) naby Pretoria en die Loskopdam (1938) naby Groblersdal en die meegaande besproeiingskemas is lewende monumente wat deur armes opgerig is wat vandag nog tot voordeel van plaaslike gemeenskappe dien.

Die grootste uitdaging van die Covid-19-pandemie en gepaardgaande armoede kom nog. Dit gaan ongetwyfeld wees om arm en honger mense eerder te leer “visvang”. Dit is tyd vir visvanglesse!

  • Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.