Kospakkies: Dít werk goed

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Marelize van Robertson skryf:

Armoede was nog altyd met ons. Selfs in Bybelse tye het Jesus die dissipels aangepraat om na die weduwees en wese om te sien.

Ek is al ’n hele paar jaar op verskeie maniere by mense wat in armoede leef betrokke: van werkskepping, kosmaak en kosgee, opleiding tot studies rondom armoede in die kerklike omgewing. Hierdie grendeltyd het sy eie uitdagings in die verligting van die omstandighede van mense wat in armoede leef. Veral ten opsigte van die Covid-19-virus, is nuwe denke nodig oor veral die verligting van die higiëniese toestande in arm huishoudings.

Daarom het ek vir ’n oomblik gaan kyk na die inhoud van die veelbesproke kospakkies aan behoeftiges. Ja, vir seker is items soos tee, bruinsuiker, pasta, soppoeiers, blikkiesvis, droë peulgroentes, koekmeel, bakpoeier, sout, kookolie, blikkiesgroente en vuurhoutjies nodig. As dit moontlik is, sluit ook vars groente, eiers en melk of poeiermelk in.

In hierdie tyd is daar egter ook baie kinders tuis. Probeer gerus aan hulle dink deur aanmaakkoeldrank en springmielies by die pakkie in te sluit. Die springmielies is nie net ’n lekker peuselhappie nie, maar een koppie gespringde mielies het dieselfde hoeveelheid koolhidrate as ’n sny brood. Moenie die vars brood vergeet nie. Sit daarby ook margarien, konfyt en grondboontjiebotter (ook ’n lekker bron van proteïen). Vars vrugte (lemoene is in seisoen) sal ’n goeie bydrae lewer tot die gesondheid en immuniteit van groot en klein.

Maar die belangrikste in hierdie tyd is sekerlik die oproep om higiënies te leef. Daarvoor het mense ’n paar ander goedjies nodig: seep, toiletpapier, bleikmiddel, skottelgoedseep, waspoeier en tandepasta. Dink aan die dinge waarsonder jy in jou eie huishouding nie kan klaarkom nie. Dit sal jou help om die werklike nood aan te spreek en die lewe vir ander wat ontneem is van hierdie “gelukkies” beter en makliker te maak. En as jy en die kinders dalk regtig kreatief wil wees en ook die gees van die mense wat swaarkry ’n bietjie wil lig: Sit ’n maklike resep in van iets wat op ’n oop vuur of gasstofie gaargemaak kan word (Sorg natuurlik dat die bestanddele daarvan in die pakkie is). Moedig die kinders aan om briefies te skryf, kaartjies te maak, inkleurprente en kryte te deel, lekkergoedpakkies te stuur, of ’n klaar geleesde boek/tydskrif aan te stuur.

Ek hoop hierdie paar gedagtes help jou om nuut te dink oor die kospakkies wat ons in hierdie tyd by mense aflaai. Terwyl jy vreugde gee aan ander, mag jy ook vreugde en vrede beleef in jou diensbaarheid. En onthou: Ek en jy en al die ander mense is spesiaal vir God.