VIDEO: Pandemie bring vrae oor ekologie, lyding en kerkwees

Vele Christene sukkel nie net met hoekom iets soos die Koronavirus soveel lyding veroorsaak nie, maar ook watter geloofslesse te leer is uit die ekonomiese verwoesting wat tans gesaai word, skryf MARLI VAN EEDEN.

Die Koronastryd beteken ’n mens moet kies tussen die beskerming van biologiese lewe teenoor ekonomiese lewe. So som prof Piet Naudé onlangs die regering se dilemma op. “Dis moeilike keuses wat gemaak moet word. Om mense se beweging te moet inperk in ’n land waar daar geveg is vir demokrasie en vryheid …”

Naudé meen daar is boonop ’n teologiese aspek: Waarom laat ’n goeie God iets soos hierdie toe? Dat ’n virus soveel verwoesting saai en menselewens neem?”

Naudé, ’n bekende teoloog en direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool, was aan die woord in ’n formaat so eie aan hierdie grendeltyd waarin ons ons tans bevind: ’n Webvideo-reeks wat op 13 Mei gepubliseer is as virtuele paneelgesprek oor die tema: “Covid-19 en die ekonomie”.

Naudé het as gespreksleier opgetree en is bygestaan deur prof Johan Fourie van die Departemente Ekonomie en Geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch, prof Alphonso Groenewald van die Departement Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria, dr Sipho Mahokoto van die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie aan die Universiteit Stellenbosch en dr Bernice Serfontein van die NG Kerk Waterkloof.

Groenewald het by Naudé aangesluit oor die lydingsvraag: “Hoekom ly die mens? As gelowiges sukkel ons met dié vraag. Watter rol speel God hierin en wil Hy vir ons iets sê? Dit is ’n tyd waarin ons baie onsekerheid en vrae het.”

Naudé meen daar is geen twyfel dat die Covid-19-pandemie ’n fundamentele impak op die wêreld gaan hê nie. “Ons moet daarom begin vra: Wat nou? Hoe lyk die pad vorentoe? Hoe lyk die pad vir die kerk en hoe moet die kerk aanpas by hierdie krisistye om ’n verskil te maak en relevant te bly?”

Mahokoto het gesê dis belangrik dat ons moet vra wat bring die kerk na die tafel toe in dié tyd. “Dit is nie genoeg om te sê ons bid nie, ons moet die daad by die woord voeg en innoverend begin dink oor die rol van die kerk in onseker omstandighede. Hoe kan ons mense bystaan?”

Naudé het dit beaam en gesê die feit bly staan dat die wêreld van die kerk en teologie tans onder geweldige druk is. Aan die ander kant is die ekonomie ook in ’n krisis en daarom is dit belangrik dat ons mekaar help om konseptuele helderheid te kry, sodat ons Suid-Afrika kan help om nuwe vennootskappe te vorm, en voorberei vir ’n post-Covid-19-werklikheid. “Ons gaan totaal nuut moet dink oor kerkwees. En oor die ekonomie van kerkwees.”

Menswaardigheid en ongelykheid

Die Covid-19-pandemie het beklemtoon hoe ons tog maar aan die genade van die natuur oorgelaat is en daarom aktief te werk moet gaan om die aarde te bewaar, meen Naudé. “Ekologiese teologie kyk na hoe ons die skepping al meer begin misbruik vir eie gewin. As ons te veel uit die wêreld haal skend ons nie net die natuur nie, maar as ’t ware God se liggaam. It’s impossible to have unlimited economic growth on a planet that has limited resources,” verduidelik Naudé.

Hoewel Covid-19 geweldige negatiewe aspekte het, is daar ook die positiewe aspek dat die aarde ’n blaaskans kry van menslike aktiwiteit. “Dit het ons tot die keerpunt gebring waar ons besef het dat ons met minder kan klaarkom. Ons moet die natuurlike hulpbronne om ons beter benut.”

Serfontein het by Naudé aangesluit: “’n Holistiese ekonomiese stelsel bevorder ekonomiese groei, maar nie ten koste van die natuur of ten koste van menslike waardigheid nie.”

Een manier om oor Covid-19 te dink is dat dit vir ons ’n gesonde korreksie gebring het oor ons oordrewe idee van ons eie belangrikheid, aldus Serfontein.

Dan is daar die aspek van die waardigheid van mense. Baie mense kan tans nie terugkeer werk toe nie as gevolg van hulle veiligheid en gesondheid. Die ekonomie sukkel en vanselfsprekend is daar meer afleggings. Besighede moet egter mooi dink voor hulle mense aflê en eerder ander opsies ondersoek soos om gedeeltelike salarisse te betaal, het Naudé verduidelik.

“’n Werk gee vir jou waardigheid, jy kry erkenning en jy beteken iets vir jou samelewing. Om ’n werk te verloor is baie meer as om net ’n inkomste te verloor, dit tas mense se waardigheid aan. Ons moet so ver moontlik probeer om mense se waardigheid te beskerm in hierdie onseker tye.”

Hulp in ’n krisistyd?

’n Ekonomie wat goed en regverdig is, is ’n ekonomie waar ongelykheid binne sekere grense in toom gehou kan word, met ander woorde, daar moet nie ’n te groot skeiding tussen arm en ryk wees nie. ’n Goeie ekonomie verleen spesiale aandag of hulp aan gemarginaliseerdes in die samelewing. Wanneer daar dus ’n krisis soos Covid-19 is, moet daar hulp beskikbaar wees, verduidelik Naudé.

Hy verwys na die Bybel waar die ideaal nie ‘perfekte’ gelykheid tussen almal is nie.

“In ’n samelewing waar jy verskillende talente en geleenthede het, gaan jy altyd ’n situasie hê waar party mense meer ekonomies suksesvol as ander is, dit is deel van die lewe. In terme van ongelykheid, sê die Bybel dié wat geseën is moet met ander deel en vrygewig wees.

“Ongelykheid is ’n werklikheid, maar dit gaan gepaard daarmee om struktureel in te gryp sodat die ekonomie nie die heeltyd dié wat ryk is bevoordeel nie.”

Behalwe om struktureel in te gryp, moet individue ook op persoonlike wyse help waar hulle kan, vat nou maar die storie in die Bybel van die barmhartige Samaritaan, herinner Naudé.

Fourie meen egter dat goeie bedoelings nie altyd genoeg is nie – jy as individu wil dalk iemand help, maar op die langtermyn doen dit meer skade as goed. Daar moet daarom nie so seer gefokus word om mense te “help” nie, maar eerder om mense te bemagtig om hulle sodoende volhoubaar uit hulle omstandighede te lig.

“Dis nie maklik nie. As dit maklik was het ons reeds die antwoorde gehad. Die punt is, die kerk moet dus baie spesifiek dink oor hoe hulle help. Veral nou.”

Hiermee het Naudé saamgestem en gesê dit is waar die uitdaging lê. Die kerk moet besin oor sy rol in die hedendaagse samelewing en veral nou tydens die pandemie. Die kerk moet aan ’n “slim” manier dink om mense by te staan en daarvoor is die hulp van ekonome en ander kundiges nodig om saam te span en ’n volhoubare plan te beraam.

“Hierdie situasie daag ons uit om opnuut te moet dink oor wat ‘kerk wees’ beteken.”

  • Marli van Eeden is ’n vryskutjoernalis. 

One thought on “VIDEO: Pandemie bring vrae oor ekologie, lyding en kerkwees

  1. Sarel Strydom says:

    Daar is vir my net een antwoorf. God het hierdie wereld met sy gejaag na geld en plesier tot stilstand geruk sodat ons oë weer kan oopgaan en besef wie iscin beheer. Selfs Wetenskaplikes weet nie. Of die virus nou self ontstaan het of deur die mens geskep is, die mens moet wakker word

Comments are closed.