Vlak 3: Perke knyp steeds kerke

Die logistieke perke op predikante se pastorale rol, die verhindering van gemeentes om voedsel aan gemeenskappe buite hulle gemeentegrense te voorsien en die afname in inkomstestrome (soos dankoffers by eredienste).

Dit is drie praktiese gebiede van kerkwees wat steeds ontwrig sal word deur regulasies teen die verspreiding van Covid-19, sê dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk.

Lees ook: Kerke pleit vir selfregulasie tydens Vlak 3

Dit kom nadat pres Cyril Ramaphosa in sy mees onlangse toespraak aan die nasie laat blyk het dat kerklike byeenkomste steeds tydens Vlak 3 onwettig sal wees. Vlak 3 tree op 1 Junie in werking. Claassen verwelkom nietemin die inhoud van die toespraak wat Ramaphosa op 24 Mei gelewer het. Hy sê dit het meer vertroue ingeboesem as die vorige een, wat gekenmerk is deur vae en min inligting. Claassen sê dit is positief dat ’n groot persentasie van die arbeidsmag sal kan terugkeer na hulle werk. “Die regering se verwelkoming van kritiek op die hantering van die ramptoestand en om die toepassing van die maatreëls deur die hof te laat toets, getuig van volwassenheid en leierskap van die president,” meen Claassen. 

One thought on “Vlak 3: Perke knyp steeds kerke

  1. Muller Oosthuizen says:

    Die pandemie het “ons almal in dieselfde storm” – maar nie “almal is in dieselfde bootjie” nie.
    So lui twee van die holrug geryde gesegdes. Feit is egter dat die storms wat die pandemie veroorsaak radikaal van mekaar verskil in verskillende gemeenskappe – net soos die bootjies. Slegs 1km weg van “ons kerkgebou” in Williston (soos op die foto), is die kerkgeboue van vele Christelike gemeentes in die gemeenskap “anderkant die driffie” – ‘n droë rivierlopie wat dalk 1-2 keer elke eeu in ‘n siedende rivier verander – vir daardie gemeentes is die storms baie verskillend van ons s’n.
    Daardie gemeenskap en gemeentes se lidmate woon in bitter moeilike omstandighede – 91% werkloosheid, uiterse armoede soos min ander plekke in SA, drank en dwelmmisbruik, GBV-voorvalle en prostitusiedienste aan vele lorriedrywers ea “verbyryers”.
    Dáár is GEEN van die dilemmas wat deur die kerkleiers met Pres CR bespreek is ter sprake nie. Daar is die opening van eredienste op min mense se lippe.
    Om daar barmhartigheid en fellowship te kan en mag betoon, is bykans die enigste praktiese saak wat ons gemeente en gemeenskap se kerklike lewe affekteer. Ons eredienste gaan aan soos normaal – net die enkele aanpassing – dis digitaal … soos dit jare lank reeds aan Amandelhof (ouetehuis) gelewer word.
    Ons eredienste, vergaderings en kantoorprosesse gaan aan sonder ‘n blip. Dis nou net digitaal. Dis al. En baie goedkoop. Want niemand hoef kollekte uit te haal, of te skarrel om voer te gee en dan nog die kar uit te trek 50-120km te ry vir eredienste nie. En dan R100-300 se brandstof in te gooi om weer terug te ry nie.
    Kerklike byeenkomste (in kerkgeboue) is nie soseer onwettig nie – dis onwenslik en dom. Het ons nog niks geleer uit die verspreiding van infeksies tydens allerande kerklike aktiwiteite wêreldwyd en veral in SA nie?
    Dis nie CoVID wat ons pastorale prosesse, byeenkomste, ons liefdesbetoning en ons dankoffers affekteer nie – wat dit affekteer, is die diepgang van ons verstaan van kerkwees: om die liefde van Christus uit te leef en die gehoorsaamheid aan Sy wil … soos om offergawes te gee.
    Dis nie CoVID wat inkomste ontwrig nie – dis ongehoorsaamheid.
    Dis nie CoVID wat enige bedieningsprosesse ontwrig nie – dis ongehoorsaamheid aan die roeping van God en gebrek aan innovering.
    Dis nie CoVID nie – dis gebrek aan gereformeerde gerigtheid en vernuwing wat ons ontwrig.
    CoVID het eintlik net kom uitwys dat ons te gemaklik geraak het in ons Westerse en kapitalistiese bubbles. En dat die “ander” se lyding baie erger en baie anders is as wat ons goegenaamd besef. En dat ons kerkbegrip radikaal sal moet vernuwe.

Comments are closed.