By watter diskoers vind jy aanklank?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In 1845 kom Austen Henry Layard, ’n Engelsman, in Mosul, die tweede grootste stad in vandag se Irak aan en begin in 1849 met opgrawings daar. Sy ontdekking van die Lagis-muurpane­le en die bekend Taylor-prisma in die paleis van koning Sanherib het groot opgewondenheid tot gevolg gehad.

Koning Hiskia van Juda word in die Taylor-prisma, ’n seskantige kleiprisma waarop Sanherib se suksesvolle militêre veldslae beskryf word, as ’n totaal oorwonne vasaal-koning geskets wie se grond­gebied dramaties ingekort is, terwyl hy self saam met van sy lojale on­dersteuners en ander mense onder be­leg van die Assiriërs in Jerusalem vas­gekeer sit. Indien jy dit uit die stad sou waag, is jy gevang of doodgemaak.

In die Bybel vind ons verwysings na hierdie einste beleg van koning Sanherib van Assirië in die jaar 701 vC. Indien ons Sanherib se prisma, 2 Konings 18:14-17 en Jesaja 36 – 37 lees, sien ons dat daar nie eenstemmigheid onder die bronne oor die uitkoms van die beleg is nie.

Sanherib se bronne vertel dat dié Assiriese koning vir koning Hiskia van Juda saam met sy regering en die inwoners van Jerusalem in die stad ingeperk het. Hulle kon dit nie buite waag nie. Volgens Sanherib gee Hiskia oor deur swaar belasting aan die koning van Assirië te betaal en die koning keer te­rug na sy eie land, sonder om Jerusalem in te neem.

Die skrywers van 2 Konings 18 sê dat Sanherib vir Hiskia aangeval en verower het. Hiskia het toe ’n boodskap na Sanherib gestuur met ’n versoek dat Sanherib se leer sal terugtrek in welke geval hy wat Hiskia is, sal betaal net wat Sanherib vra.

Jesaja 37 se skrywers vertel oor dieselfde gebeure die volgende: “Die engel van die Here het gegaan en honderd vyf en tagtig duisend man in die Assiriese kamp doodgemaak. Toe die Assiriërs die môre vroeg opstaan, lê die lyke almal daar. Koning Sanherib van Assirië het toe kamp afgeslaan en hy is terug Nineve toe en het daar gebly” (Jes 37:36-37).

Die drie weergawes laat my nogal dink aan van die diskoerse wat ek in die media en op sosiale platforms in verband met die Koronavirus hoor. Party mense meen die regerende party pro­beer politieke munt slaan uit die situasie en wil met mag, soos koning Sanherib van ouds, die spreekwoordelike bloed uit ’n klip tap.

Ander soek, soos die skrywers van die Koningsboeke in ons Bybel, na die oorsprong van die krisis. Wie se skuld is die beleg? Konings se antwoord is, dit is die leiers van Israel se skuld, daarom dat hulle Hiskia teken as ’n oorwonne ko­ning, iemand wat oorgee en gevolglik swaar belasting aan koning Sanherib moet betaal.

Die skrywers van Jesaja 37, op hulle beurt, sien God se hand in alles. Hiskia word geteken as ’n vroom koning wat na die stem van die Here luister en op Hom alleen vertrou. Die gevolg is uitkoms vir die mense wat in Jerusalem vasgekeer is. Die Here self gryp in en maak korte mette met die bedreiging en Jerusalem en haar inwoners is weer vry.

By watter diskoers vind jy aanklank wanneer jy dink, praat en skryf oor ons huidige inperking en die Koronavirus? Is jy deel van die mag-diskoers, die skuld-diskoers, of die vertroue-diskoers?

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.