Kerk moes praat oor verbod op drank, tabak

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Johan van den Heever van Rondebosch skryf:

Daar is niks meer krimineel as wanneer jy ’n verslaafde se verslawing summier wegneem en die verslaafde nie op een of ander manier ondersteun nie. Jy sou dink dit is algemene kennis. Wat egter nie algemene kennis is nie, is sisteemdenke. Sisteemdenke is om die groter prentjie te kan verstaan. In kort behels sisteemdenke dat die geheel van die dele meer is as die som van die onderskeie dele. In sisteemdenke is daar nie altyd reglynige konklusies nie. Ons weet binne sisteemdenke dat indien jy drank of tabak summier weerhou van mense, daar gevolge kan wees wat jy nie voor­sien nie. Die trok wat op die R334 uitgebrand word, het oënskynlik geen verband met die verbod op drank en tabak in hierdie dae nie, of het dit? Ons ministers verstaan duidelik nie sisteemdenke nie en openbaar dikwels ’n gebrek aan algemene kennis. Prof Thuli Madonsela het al op ’n keer gesê ons land kort leiers wat sisteemdenke verstaan.

In ’n artikel oor die totale verbod op alkohol in Amerika gedurende 1920-1933, is een van die gevolge die verlies aan werksgeleenthede omdat die drank­bedryf in duie gestort het. Soos in enige sisteem is daar egter ook gevolge wat nooit voorspel of voorsien kon word nie. Die onverdraagsaamheid van die zero-toleransie groepe het stukrag aan die Ku Klux Klan verleen. Howe was toenemend onder druk wat weer ander probleme veroorsaak het. Natuurlik, as gevolg van die gaping in die mark het smokkelhan­del toegeneem. Selfs die Amerikaanse skeepvaartindustrie het swaar gekry. Die groot tragiek egter is die mense wat besef het hulle ly aan alkoholverslawing. Hulle is vir die wolwe gegooi.

’n Verwante artikel wat handel oor die verlaging van onveilige produkte in sigarette, kom onder andere tot die gevolgtrekking dat ander lande gewaarsku moet word om nie so ’n program te implementeer nie, juis omdat dit nêrens nog getoets is nie. “Medical and scientific research is one element of policy development, especially if done on representative samples, but it can be critical to see the impact of policies in the complex systems that are communities.” Die skrywer verklaar verder dat daar meer kwaad uit die totale verbod op alkohol in die 1920’s gekom het as goed en dieselfde implikasie geld wat tabak betref.

Nou is die vraag: Wat sou die rol van die kerk in hierdie situasie wees? Is dit regtig net om by die president te pleit dat ons weer eredienste kan hou? Dit sal seker vreemd klink indien die kerk sou vra dat hulle lankal reeds tabak- en drankverkope weer moes toelaat? (Of moes ons dalk gevra het dat alle suikerverkope gestaak word?)

6 thoughts on “Kerk moes praat oor verbod op drank, tabak

  1. Pine Pienaar says:

    Ek vereenselwig my 100% met hierdie skrywe. Ek staan dilwels verstom dat ons die nood van ander nie raaksien nie en wanneer ons dit wel raaksien, hoe maklik ons daarby verbyloop…. dis mos ‘n ander ou se probleem. Ek wil nie humanisme in prediking inbring nie maar moet ook nie die mens vergeet waar sy eie uitdagings sy eie werklikheid is nie. ‘n Probleem is nie slegs ‘n probleem as ék dit ervaar nie. As die Here my oor gelaat het aan my eie probleme, wat sou van my word?

  2. Sue Boshoff says:

    Ek stem saam, dit neem ten minste 28 dae vir ‘n sisteem, gedurende observasie om van drank of sigarette af te kom sonder implikasies op die hart, niere, verstand ens. Dit kos $30,000 per persoon in klinieke in die VSA vir rehabilitasie. Ek is ‘n leuk maar ek ken persoonlik gevalle en dit neem ‘n span van mense om te versorg vir een mens. Ek stem nie saam met drank nie maar alkoholisme is ‘n siekte soos Diabete met suiker.

  3. Hans Heese says:

    Dit is nou al amper 60 jaar wat ek my dag begin met ‘n koppie koffie en ‘n rookdingetjie voordat ek my stiltetyd hou. My geloof was not altyd dat jy behoorlik wakker moet wees sodat jy sinvol met die Liewe Heer kan gesels, nie net ‘n soort van resitasie opsê nie. Nou is alles omver gegegooi!
    Dit is nie godlasterslik bedoel nie, alles behalwe, maar Hy het tot nou toe nog steeds op wonderlike maniere gesorg dat ek steeds rookgoedjies het – al kom dit teen ‘n ongesonde prys!

  4. Johan says:

    Waarom is die Kerkbode se webbladsy so ‘n mengsel van Afrikaans en Engels?
    Hier bo dit op die skerm staan: “ONE THOUGHT ON ‘KERK MOET PRAAT …..'”
    En dan onder dit word ek genooi: “LEAVE A COMMENT”
    Ek het so pas my “COMMENT” ge-“LEAVE”

  5. Amanda Erasmus says:

    Ons moet versigtig wees. Meeste mense wat verslaaf is aan alkohol of sigarette ens het reeds vóór lockdown geweet hulle is verslaaf en het n probleem. Meeste weier egter om iets daaraan te doen en kies om die lewe van verslawing te lei, nl: kry “cravings”, drink, raak aggressief, rand vrou en kinders aan, raak depressief, drink om beter te voel, kry skuldgevoelens, stop vir paar dae, kry “cravings”, drink… en so gaan die proses voort. Hierdie mense wou nie vóór lockdown gehelp wees nie, waarom sou hulle tydens lockdown gehelp wou wees? Nee wat, ek dink dis n mors van tyd om hulle te probeer help. Watse oplossing sou mens buitendien tydens lockdown kon bied? Met alle respek gesê…. alkoholiste en rokers het GEEN respek vir ander nie en is baie selfsugtige mense. Verbied drank en sigarette en kry klaar, en verlos die onskuldige mense van die kwaad en seer wat hierdie selfsugtige mense veroorsaak.

  6. Kerkbode says:

    Hi Johan, daar is enkele plekke op ons platform waar ons derdeparty-sagteware gebruik wat by verstek Engels is. Wat redaksionele inhoud betref, is Kerkbode grootliks ‘n Afrikaanse nuusdiens. – Red

Comments are closed.