Miskien moet die deure tog oop!

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Op ’n koue wintersoggend blaai ek deur die e-posse wat oornag in my inboks geland het. Een vang onmiddellik my oog: “Uitnodi­ging na die virtuele troosdiens van oom Dolf.” Ek en oom Dolf se kinders kom ’n lang pad. Ek klik op aanvaar die uitnodiging. Byna onmiddellik is die afspraak koud en klinies in my kalender ingeskryf. ’n Paar dae later Zoom ek in by die troosdiens. Byna almal is daar: oom Dolf se kinders en kleinkinders en van hulle vriende. ’n Kleinkind begin die verrigtinge deur almal wat “aanlyn is” te verwelkom. Hy maak verskoning vir lewenslange vriende van oom Dolf wat ongelukkig nie teenwoordig kan wees nie omdat hulle nie internettoegang het nie. Die predikant se gesig verskyn volgende op die skerm. Hy sit in sy sitkamer en le­wer ’n treffende troosboodskap. Na sy gebed volg ’n skyfievertoning van oom Dolf se lewe – en dan is almal se mikrofone oop om ’n bie­tjie saam te kuier. Ek het nie veel behoef­te aan die ge­kuier nie. Met die druk van ’n knoppie verlaat ek die byeenkoms. Oomblikke later maak ek nog ’n belang­rike dokument op my rekenaar oop, want die lewe gaan mos maar voort …

Die aankondiging van president Cyril Ramaphosa op 26 Mei dat kerke onderworpe aan sekere voorwaardes godsdienstige samekomste mag hou, is met gemengde gevoelens ontvang. Aan die een kant was daar dankbare instemming dat dit ’n goeie ding is, aan die ander kant ’n geweeklaag en ’n gekners van tande. Byna onmiddellik is die wysheid van die besluit bevraagteken. “Wie het namens die NG Kerk aan die gesprek deelgeneem?” en “Het die persoon ’n mandaat gehad het om dit te doen?” is van die vrae wat met groot dringendheid gevra is. Aanlynvergaderings deur kerkleiers van die NG Kerk het gevolg, riglyne is opgestel en per e-pos uitge­stuur. “Wag liewer nog ’n paar weke,” het die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke teruggekrabbel. “Moenie nou mense se lewe in gevaar stel nie”. Meer as 70% respondente sal nie teruggaan kerk toe nie, het ’n nuusnetwerk kommentaar gelewer oor ’n aanlynstemming wat plaasgevind het. “Dit is nie nodig om oop te maak nie – die kerk was nog nooit toe nie. Kyk net wat doen lidmate alles om mense in nood te help,” skryf ’n teoloog.

Ek ry die middag by ’n NG kerkgebou verby. Die tuin is verwaarloos en die hek gesluit. “Eredienste gekanselleer,” kondig die bord by die hek aan. Dié kerk lyk redelik gesluit. Ek dink onwillekeurig aan oom Dolf, sy familie en vriende. Miskien is dit tog nodig om te waag om die deure oop te maak – al is dit net op ’n skrefie …

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.