Kerkbode-intekenaars: Gedrukte koerant weer beskikbaar

Getroue Kerkbode-intekenaar
Ons is dankbaar vir jou ondersteuning in hierdie interessante tyd waarin ons leef.
Die skuif na Vlak 3-inperking het ook vir Kerkbode logistieke implikasies: Ons is wel weer rolpers toe met die jongste koerant om ook daardie deel van ons nuusdiens – die papierkoerant – te hervat en die gedrukte Kerkbode landwyd en in Namibië by intekenaars te besorg.
Die jongste uitgawe (omslagdatum 12 Junie) word dié week na jou gemeente gestuur.*
Die vier uit
gawes wat ons tydens volskaalse grendeltyd gepubliseer het, maar slegs digitaal kon versprei, is steeds in e-koerantformaat beskikbaar by: https://kerkbode.christians.co.za/e-koerant/.

En natuurlik in webformaat hier by www.kerkbode.co.za en via die Kerkbode-app, wat gratis beskikbaar is vir: Android en Apple.

Nuttige nuus
Ons vind dit bemoedigend dat meer as 110 000 lesers sedert Januarie meer as ’n halfmiljoen keer op Kerkbode-stories gekliek het. Veral gewild is die Briewe-afdeling, die rubrieke van Dana Snyman en die Vakatures-afdeling, wat die vernaamste digitale bestemming vir loopbaangeleenthede in die kerk is. Natuurlik wil ’n mens – tesame met so ’n lys van uitskieters – jou haas om te noem dat ons glo elke streekstorie, nuusbrokkie, verklaring, rubriek, boekresensie, podsending en profiel wel ’n nuuskierige oog iewers in ons verspreidingsnetwerk vind: digitaal of in gedrukte formaat.

Lees ook: Só kry jy ons stories

Ons glo ook dat Kerkbode, in samewerking met www.kieskerk.com geslaag het in een van ons redaksionele doelwitte vir 2020, naamlik om naas nuuswaardig ook “nuttig” te wees … In hierdie geval, om leraars op praktiese wyse te help om hulle videopreke met ’n groter webgehoor te verbind in hierdie tyd van groot afstande.

Stuur gerus vir ons wenke en stories uit julle gemeentes en streke en soos gewoonlik ontvang ons alle briewe by HIERDIE skakel.

* Intekenaars met navrae kan ’n e-pos stuur aan Viona Ross of aan Jeanne van Niekerk by viona@tydskrifte.co.za of jeanne@tydskrifte.co.za.

Groete

Le Roux Schoeman, redakteur: Kerkbode

leroux@bmedia.co.za